Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CUGH kursus wakker passie aan vir openbare gesondheid
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 11/04/2019

'n Onderafdeling in Openbare Gesondheid by die Consortium of Universities for Global Health (CUGH) in Washington was al wat nodig was om vyfde-jaar mediese student Yonela Kentane nog meer vasbeslote as ooit te maak om 'n loopbaan in openbare gesondheid na te volg.

Kentane, wat die kursus onder leiding van CUGH uitvoerende direkteur dr. Keith Martin verlede jaar in Oktober in Washingtonin gedoen het, het gesê die vier-weeklange kursus was lewensveranderend en beslis vir haar 'n draaipunt in haar lewe.

Sy is vergesel deur mede-vyfdejaar MB,ChB student Lethukwenama Letsoalo.

“Toe ek na Washington toe is, het ek nie regtig 'n duidelike idee gehad oor presies wat openbare gesondheid was nie. Ek was aanvanklik te vinde vir 'n loopbaan in kliniese geneeskunde, maar nadat ek eerstehands gesien watter impak openbare gesondheid op mense se lewens dwarsoor die wêreld gehad het, is ek nou oortuig dat dit is waar ek veronderstel is om te wees," het Kentane gesê. 

“CUGH is 'n organisasie wat daarop gemik is om globale openbare gesondheid te verbeter. 'n Sentrale fokuspunt is om onderrigbronne in openbare gesondheid te verbeter. Dr. Martin, op sigself 'n inspirasie, is passievol oor die verbetering van openbare gesondheid in Afrika. 

Hulle was gebaseer by die CUGH kantore in die UCLA-gebou in Washington, en die twee het met Dr. Martin saamgewerk, wat seker gemaak het dat hy hulle kennis op die gebied van openbare gesondheid verbeter binne die globale opset van openbare gesondheid.  “Ons het 'n aantal mense ontmoet wat in die openbare gesondheidsektor werk, en het eerstehands meer geleer oor die dinge waarmee hulle elke dag te make kry. Ons het ook 'n aantal konferensies oor globale gesondheidskwessies bygewoon, soos byvoorbeeld oor primêre gesondheidsorg, globale gesondheidsbefondsing, 'n toename in die toegang tot vaksienes, asook meer oor die Ebola-krisis in die Kongo." 

Kentane kom van Oos-Londen en het vroeg in haar lewe besluit om 'n mediese rigting te volg. “Toe ek 16 was, het ek hulpeloos toegekyk toe 'n familielid 'n toeval by my ouma se huis in die landelike deel van die Oos-Kaap gekry het. Daar was geen motors om ons na die hospitaal te vervoer nie. Ons was heeltemal geïsoleerd. My ouma, wat 'n verpleegster is, was die enigste een wat kon help. Ek het besluit dat ek nooit weer so hulpeloos wou voel nie," het sy gesê. 

Kentane het 'n loopbaan in openbare gesondheid ernstig begin oorweeg terwyl sy tydens haar derde jaar kliniese rotasies gedoen het. “Ek het soveel pasiënte gesien met sulke hartverskeurende verhale. Hulle het vir hulp gekom na 'n stelsel wat hulle nie gehelp het nie. Dit het my siel gebreek. Ek het ook baie geleer in die kursus oor Gesondheid in Konteks. Dit was toe ek aanvanklik begin belangstel het in openbare gesondheid." 

Hierdie jaar is Kentane deel van 'n span wat navorsing doen oor reproduktiewe gesondheid onder vrouens. "Ons het 'n span gevorm met die Universiteit van Kaapstad se Departement van Openbare Gesondheid en ons kyk na houdings van mediese studente oor aborsie en na hulle voornemens om die dienste te verskaf as toekomstige mediese praktisyns." 

Kentane het bygevoeg dat een van die hoogtepunte van die kursus was 'n toer na Wes- Virginië, “die armste staat in die VSA…en die staat met die swakste gesondheidsuitkomste in die land". “Dit was voorheen 'n staat waar daar steenkoolmyne was. Armoede en dwelmmisbruik het 'n groot effek op hierdie gemeenskappe. Meeste van die mense wat daar woon is wit. Ons is so gewoond daaraan dat arm mense swart is. Daardie besoek het my opnuut laat besef watter impak sosiale omstandighede op mens se gesondheid kan hê. Ek het so baie geleer." 

Kentane skryf haar vaste besluit om 'n loopbaan te volg in openbare gesondheid toe aan die  “ongelooflike en fassinerende" reis tydens die kursus.  “Die reis het my help besluit waar ek graag wil wees." 

Sy het spesiale dank betoon aan Professor Jimmy Volmink, wat haar gehelp het om op die kursus in Washington te kom. “Hy is die rede waarom ek hierdie geleentheid gebied is, en ek is so dankbaar."


Onderskrif: Die vyfde jaar mediese student, Yonela Ketane, saam met CUGH personeel tydens haar besoek in Washington.