Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visuele Studies-graduandus bewys alle drome het waarde
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 08/04/2019

Gedurende haar grootwordjare in die landelike gebied van KwaZulu-Natal het S'nothile Gumede altyd gedink haar drome is te verregaande en dat sy nooit haar drome sou kon bewaarheid nie.

“Om as 'n swartmens in Suid-Afrika groot te word, beteken dat jy beperk is tot sekere drome. Die meeste van die tyd is die verwagting dat jy óf 'n prokureur, 'n mediese student of 'n wetenskapspraktisyn sal word. Hulle weet nie regtig dat jy 'n wingerdboukundige, 'n oseanograaf of selfs 'n kunstenaar kan word nie – met die gevolg dat baie jongmense se drome dikwels ondergrawe word.

Volgens Gumede het haar familie en vriende nie altyd haar drome en doelwitte ondersteun nie. Sy het in 2014 in die geheim vir toelating tot die Universiteit Stellenbosch (US) aansoek gedoen omdat sy nie wou hê die mense naaste aan haar moes haar daaraan herinner dat dinge nie sou uitwerk nie of dat hulle negatief oor haar aansoek en haar droom om aan die US te studeer, kon wees nie.

“Toe ek by Stellenbosch aanvaar is, het ek nie geweet wat om met dié uitslag te doen nie. Ek het ook 'n werwingsbeurs van die Universiteit ontvang, maar selfs met dít het ek nie geweet hoe om my ouers te vertel nie omdat hulle verwag het dat ek na 'n plaaslike universiteit sou gaan. Ek was in daardie stadium een van die eerste twintig ontvangers van hierdie beurs en die Universiteit het ons almal genooit om Stellenbosch te besoek om die Universiteit eerstehands te ervaar voordat ons met ons studies sou begin. Die ding wat my asem weggeslaan het, was die ondergrondse biblioteek en al die geleenthede by die Universiteit. Dit het my laat besluit dat ek regtig deel van hierdie plek wou wees."

Sedertdien het Gumede haar BA-graad in die geesteswetenskappe in 2017 voltooi met driedubbele hoofvakke, Politieke Wetenskap, Engels en Visuele Studies. En selfs al het haar familie begin aanpas by haar nuwe lewe op Stellenbosch, was dit nie altyd 'n maklike pad nie.

“Ek het my hele voorgraadse tydperk só in vrees geleef dat ek nie met my vriende en familie by die huis wou praat nie, want ek was bang wat hul reaksie sou wees as ek dalk 'n gemors van my studies sou maak. Hulle sou so bly wees dat hulle reg was oor my. Ek het in afsondering geleef en het net een doel voor oë gehad en dit was om te slaag en almal verkeerd te bewys."

Gumede sê haar punte het onder hierdie stres gely en begin daal. Maar danksy die ondersteuning van personeel en maats op kampus, kon sy hierdie tydperk oorkom en suksesvol voortgaan met haar studies.

SY het Woensdag (04 April) 'n honneursgraad in Visuele Studies by die gradeplegtigheid van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.

Sy is tans besig met haar meestersgraad in Visuele Kunste, wat 'n besondere prestasie is aangesien sy nie 'n Visuele Kunste-agtergrond het nie en dit ook nie deel haar voorgraadse studies was nie. Die ondersteuning en vertroue van haar dosent en die Visuele Kunste-departement het dit egter vir Gumede moontlik gemaak om haar droom om in die kunste te studeer te bewaarheid.  

“Dat ek sover gevorder het, het my familie se wêreld uitgedaag. Dit het hul denke en drome – nie net vir hulself nie, maar ook vir ander rondom hulle – uitgedaag. Hoewel my obsessie altyd was om my familie verkeerd te bewys, dink ek hulle vertrou my nou meer. Hulle bevraagteken nooit meer my besluite en drome nie. Ek glo ons word nie net altyd deur ons omgewing of ons omstandighede gevange gehou nie, maar ook deur woorde, dinge wat ander mense oor ons lewens uitspreek. Ek wil verseker dat mense weet hul drome is waardevol.

Nadat sy haar studies voltooi het, beplan Gumede om terug te ploeg in haar gemeenskap en om ander wat uit dieselfde gemeenskappe kom, aan die wêreld van die visuele kunste bloot te stel.

“My persoonlike siening is dat wanneer jou drome net om jouself draai, jy 'n armer mens is, want ander mense rondom jou moet ook by jou drome kan baat vind. Ek wonder soms hoe dit sou gewees het as ek 'n loopbaandag kon bygewoon of toegang die visuele kunste en ander geleenthede gehad het toe ek jonger was. Ek hoop dat ek eendag ruimtes vir die skepping van kuns in landelike gebiede sal kan vestig en mense deur kuns sal kan bemagtig. Ek glo dat blootstelling aan verskillende goed en die kunste mense uit minderbevoorregte gebied se drome reeds van 'n jong ouderdom af waarde kan gee, wat hul lewens vir altyd kan verander."

Foto deur Stefan Els.