Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier AgriWetenskappe-personeellede deel van fakulteit se rekord-oes PhD’s
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/04/2019

Vier voltydse personeellede van die Fakulteit AgriWetenskappe is onder die 30 studente wat hierdie week hul doktorsgrade van die Universiteit Stellenbosch ontvang het. Hulle is wynkundige dr Marianne McKay, landbou-ekonoom dr Jan Greyling, dr Jeanne Brand, 'n kenner oor die sensoriese karakter van wyne, en houtprodukkundige dr Phillip Crafford.

Gedurende die 2018-akademiese jaar (wat die Desember 2018 en die April 2019 gradeplegtighede insluit) het 'n rekordgetal van 45 studente hul doktorsgrade in die Fakulteit AgriWetenskappe ontvang.

Altesaam 184 studente van die Fakulteit AgriWetenskappe het in April 2019 gegradueer. Hiervan het 46 studente meestersgraadstudies in verskillende rigtings voltooi.

staff agri 1.jpg

Hout as 'n volhoubare boumateriaal

Dr Phillip Crafford van die Departement Bos- en Houtkunde het sy PhD in Houtprodukkunde ontvang. Hy het die omgewingsvolhoubaarheid van sekere boupraktyke in Suid-Afrika vergelyk. Hy het vasgestel dat die gebruik van hout en houtverwante produkte in konstruksie 'n heelwat kleiner omgewingsimpak het as geboue wat met byvoorbeeld sement, baksteen en staal opgerig word.

"Die graderingsproses waarvolgens ons geboue 'n sogenaamde “groen" status verkry gee ongelukkig nog nie genoegsaam erkenning aan die omgewingsvriendelike voordele van hout nie," voeg hy by.

Hy hoop dat Suid-Afrikaanse huiseienaars toenemend hout as boumateriaal sal oorweeg, omdat dit 'n hernubare bron is. Hy reken dis 'n manier waarop huishoudings hul omgewingsvoedspoor kan verklein, en in die proses hul impak op aardverwarming kan verminder.

Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse mieliebedryf

Dr Jan Greyling van die Departement Landbou-ekonomie het 'n historiese kykie oor die ontwikkeling van Suid-Afrika se mieliebedryf gedurende die 20ste eeu geneem. Hy het veral gekyk na hoe beleid die bedryf help vorm het.

"Gedurende die 20ste eeu het veranderinge in landboubeleid 'n besliste invloed gehad op die produksie en produktiwiteit van mielieboerdery in die land. Dit het beslis 'n invloed gehad op waar mense besluit het om mielies te groei, " vertel hy.

Tussen die 1940's tot die 1980's het gunstige beleid oor die uitbreiding van mielieproduksie daartoe gelei dat daar ook daarmee begin boer is in gebiede soos die Wes-Vrystaat en Noordwes wat eintlik 'n relatief lae opbrengs lewer.

"Hierdie uitbreiding in produksiegebiede het verlaagde produktiwiteit tot gevolg gehad. Aan die ander kant het dit gesorg dat daar belê word in beter plantmateriaal, boerderypraktyke en infrastruktuur tot voordeel van hierdie droë produksiegebiede," verduidelik dr Greyling. "Dit het voortgesette produksie in marginale gebiede moontlik gemaak, selfs nadat ondersteunende beleid onttrek is."

Rookbederf en rooiwyn

Dr Marianne McKay gee al sedert 2007 klas aan voornemende wynmakers in die Departement Wingerd- en Wynkunde, en is al vereer vir haar studies oor onderrig en leer.

Die onderwerp van haar doktorale studies in wynkunde is aktueel, gegewe die ekonomiese impak van die groot hoeveelhede veldbrande wat die afgelope jare in die tradisionele wynstreke van die Kaap voorgekom het.

Druiwe kan sekere verbindings uit rook optel. Dit kan uiteindelik 'n invloed hê op hoe verbruikers die wyn ervaar wat daarvan gemaak word. Dr McKay het 'n sensoriese studie voltooi en gekyk hoe hierdie verbindings saamwerk om sogenaamde rookbederf te veroorsaak, en watter olfaktoriese invloed dit op die aroma van rooiwyne het.

"Die sensoriese inligting wat deur hierdie studie verkry is help om sommige aroma in wyne te verduidelik wat nie altyd verstaan kan word as mens bloot net 'n wyn chemies ontleed nie," reken dr McKay.

Sy hoop dat haar bevindinge wynmakers sal help besluit of hulle druiwe wat rookskade opgedoen het moet gebruik of nie, en dat die wynbedryf meer op die kwessie sal fokus.

Sensoriese profiele van wyne

Dr Jeanne Brand bestuur die Sensoriese Laboratorium van die Departement Wingerd- en Wynkunde en lei gereeld sensoriese proepaneel deur hul werk.

Sy sê wyn is kompleks, en daarom nie so maklik om te beskryf nie. As deel van haar PhD het sy vier vinnige metodes vergelyk wat algemeen deur sensoriese panele gebruik word om wyne te beskryf. Sy het elke metode geëvalueer in terme van koste-effektiwiteit en hoe bruikbaar dit vir die wynbedryf en vir navorsingsdoeleindes is.

"Dit is belangrik om die regte wynprofileringsmetode te kies, gebaseer op die eksperiment wat jy wil doen," glo sy. '''n Mens moet ook elkeen se praktiese beperkings in ag neem."

Haar bevindings het gewys dat veral twee metodes dit vir proepanele moontlik maak om beter tussen wyne te onderskei:

Met CATA (wat staan vir "check-all-that-apply") word 'n lys van eienskappe verskaf aan die lede van proepanele. Hulle moet dan hul keuses daaruit maak. Met sortering word al die produkte aan 'n proepaneel gegee. Die panele sorteer die wyne dan volgens die verskille en ooreenkomste tussen elkeen, in terme van sensoriese eienskappe soos smaak en aroma.

Die vier dosente is onder die 30 studente wat op 2 April 2019 hul doktorsgrade in die Fakulteit AgriWetenskappe ontvang het. Die ander is:

  • Dr Adrian Adams (Grondkunde) - Lipid humification by soil clays
  • Dr Abiodun Alawode (Houtproduksiewetenskap) - Properties and potential use of Irvingia gabonensis and Irvingia wombolu kernel extracts as an eco-friendly wood adhesive
  • Dr Francois Bekker (Entomologie) - Spatio-temporal analyses of fruit fly populations in selected areas of the Western Cape
  • Dr Richard Bwala (Akwakultuur) - Development of a cost-effective system of ovoviviparous low-salinity production of Artemia nauplii as live food for the larvae of the African catfish (Clarias gariepinus: Burchell, 1822)
  • Dr Chad Cheney (Bewaringsekologie) - An evidence base of improving management effectiveness of alien plants in protected areas: relationships of scale, efficiency and strategy
  • Dr Obert Chikwanha (Veekundige Wetenskappe) - Feed supplement and meat preservative potential of red grape pomace in lamb production
  • Dr Glynnis Cook (Genetika) Characterization of citrus tristeza virus variants and their influence on symptom expression in grapefruit
  • Dr Gerida de Groot (Voedselwetenskap) - Genotyping South African wheat cultivars for hardness alleles
  • Dr Marcela Espinaze (Bewaringsekologie) - Parasites of African penguins: diversity, ecology and effect on hosts
  • Dr Chantelle Human (Voedselwetenskap) - The physicochemical properties and stability of aspalathinin micro- and nanoencapsulated green rooibos extract formulations
  • Dr Zaharan Hussein (Voedselwetenskap) - Bruise damage susceptibility of pomegranates and impacts on fruit quality
  • Dr Imke Kritzinger (Hortologie) - Postharvest moisture loss in Japanese plums
  • Dr Linda Luvuno (Bewaringsekologie) - Understanding social-ecological regime shifts: the case of woody encroachment
  • Dr Francis Munalula (Houtproduksiewetenskap) - The growth response of selected Zambian hardwood species to changing climatic conditions
  • Dr Ziyanda Mpetile (Veekundige Wetenskappe) - The genetics of ovine resistance to gastrointestinal nematodes
  • Dr Megan North (Veekundige Wetenskappe) - The potential of quercetin to improve performance and meat quality in rabbits
  • Dr Maria Shipandeni (Veekundige Wetenskappe) - Modulation of starch digestion for productive performance in dairy cows
  • Dr Leigh Steyn (Entomologie) - The development of a management strategy for the control of the Cape grapevine leafminer, Holocacista capensis (Lepidoptera: Heliozelidae) in South African's table grape vineyards
  • Dr Vernon Steyn (Entomologie) -Integrated management of false codling moth, Thaumatotibia leucotreta, on stone fruit and table grapes
  • Dr Etienne Terblanche (Wynkunde) - The impact of grape ripeness level on berry and wine composition and potential wine style of Vitis vinifera L. cv. Pinotage
  • Dr Michaela van den Honert (Voedselwetenskap) - Antibiotic resistance prevalence in livestock and wildlife species in South Africa
  • Dr Nadia van der Colff (Wynbiotegnologie) - Exploring consumers' risk perception in wine retail decision-making: insights for Chenin blanc
  • Dr Julia van Schalkwyk (Bewaringsekologie) - Beta-diversity across different scales in the Cape Floristic Region: how well does a biosphere reserve capture this invertebrate diversity
  • Dr Gideon van Zyl (Plantpatologie) - The use of Adjuvants to improve fungicide spray deposition and control of Alternaria brown spot in citrus
  • Dr Haile Wale (Woudkunde) - Pattern and dynamics of remnant dry Afromontane forests: A case study in Northwestern Ethiopia
  • Dr Liesl Wiese (Grondkunde) - Mapping soil organic carbon stocks by combining NIR spectroscopy and stochastic vertical distribution models: A case study in the Mvoti River catchment, KZN, South Africa

 

Hooffoto onderskrif:

Die vier personeellede van die Fakulteit AgriWetenskappe wat hul doktorsgrade verwerf het, is (van links) dr Phillip Crafford, dr Jan Greyling, dr Marianne McKay en dr Jeanne Brand. 

Groepfoto onderskrif:

Vlnr:

1 ry (trap):  Abiodun Alawole, Maria Shipandeni, Obert Chikwanha, Imke Kritzinger, Haile Wale, Francis Manulula

2de ry(trap):  Zaharan Hussein, Marcela Espinaze Pardo

3de ry (trap):  Chad Cheney, Ziyanda Mpetile, Linda Luvuno, Leigh Steyn, Gerard Bekker, Gerida de Groot

4de ry(trap):   Philip Crafford, Megan North, Michaela van den Honert, Vernon Steyn, Jan Greyling

Agter:  Marianne McKay en Jean Brand

 

Afwesig tydens fotosessie:  Adrian Adams, Richard Bwala, Glynnis Cook, Chantelle Human, Ziyanda Mpetile, Nadia van der Colff, Julia van Schalkwyk, Johannes van Zyl en Liesl Wiese