Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale graduatus se liefde vir US is “diep en kompleks”
Outeur: Corporate Communications/Sandra Mulder
Gepubliseer: 03/04/2019

Al mag dr Calvin Ullrich (28) dalk nie seker wees waar sy loopbaan hom in die toekoms mag lei nie, weet hy verseker dat hy eendag na die Universiteit Stellenbosch (US) móét terugkeer. Die US is sy tuiste, al het hy 'n “diepe en komplekse" liefde vir die Universiteit.

Ullrich het 'n paar dae gelede uit Duitsland op Stellenbosch aangekom om sy PhD-graad in Sistemiese Teologie by die US se derde gradeplegtigheid op Woensdag, 3 April in ontvangs te neem. Hy moet kort na sy gradeplegtigheid weer na die Ekumeniese Instituut aan die Ruhr-universiteit in Bochum, Duitsland terugkeer om sy werk as navorsingsgenoot voort te sit.

Vandeesmaand se reis van Duitsland na Stellenbosch is maar net een van vele wêreldreise wat hy al in sy lewe onderneem het. Hy het in Vishoek, Kaapstad grootgeword en daar gewoon tot hy 16 was. “My gesin het toe na Katar verhuis waar ek my hoërskoolloopbaan voltooi het. Ek het ná skool vir 'n jaar in die VSA gaan woon. In 2011 het ek my BA-studies in Teologie op Stellenbosch begin."

Hy was 'n inwoner van die Metanoia-koshuis en het ook later die primarius geword. Namate sy studies gevorder het – van sy BA-graad in die Teologie tot by sy meestersgraad – het die US ook 'n fisieke tuiste vir hom geword. Terwyl sy ouers oorsee gebly het en hulle deel van ekspat-gemeenskappe was, was Stellenbosch vir hom die plek wat hy huis genoem het.

Nadat hy sy meestersgraad in Teologie cum laude voltooi het, het hy dadelik aan sy PhD begin werk. Dit het hom na die Eberhard Karls-universiteit in Tübingen, Duitsland geneem was hy vir twee semesters lank navorsing gedoen het. Dit was deel van 'n uitruilprogram wat deur die US se Internasionale kantoor gereël is. In 2018 het hy ook 'n navorsingsreis na Christ Chuch in Oxford, Brittanje onderneem, voordat hy 'n werksaanbod as navorsingsgenoot in Bochum aanvaar het.

Hy beskryf sy reis in die teologie as minder gemotiveerd deur 'n soeke na selfverwesenliking as wat dit deur die dringende aard van die samelewing se uitdagings, veral in Suid-Afrika, geïnspireer is.

“Die geloofslewe het my altyd baie geïnspireer. Maar ek is verskriklik ontnugter deur seker manifestasies daarvan – veral waar dit klaarblyklik die politiek korrup gemaak en die samelewing se kohesie verswak het. Daarom lê die Suid-Afrikaanse situasie my baie na aan die hart. Teologiese studie het vir my die diep ongeregtighede in ons samelewing ontbloot.

“Dit motiveer my om aan te hou met akademiese navorsing. Ek dink Suid-Afrika verdien niks minder nie as versigtige, in-diepte en toegewyde nadenke oor die kwessies wat ons almal raak," sê hy.

Sy teoreties- en filosofies-georiënteerde proefskrif is gevolglik 'n poging om op die maatskaplike implikasies van geloof in 'n sekulêre wêreld te reflekteer. Van die vrae wat hy vra, is: Hoe kan ons steeds gelowig wees in 'n positiewe verhouding met politiek? Hoe is geloof steeds moontlik wanneer dit lyk of almal besig is om hul geloof te verloor?

Tot die dag wat hy na Stellenbosch sal terugkeer, sal hy sy werk in Bochum voortsit en dit as 'n geleentheid gebruik om sy taalvaardighede op te skerp, te netwerk en waardevolle lesse uit ander kontekste te leer.

En hy sal natuurlik in voeling bly met sy tuiste – die US. Hy het reeds ingestem om die US se Alumni-kantoor te help om 'n Maties-naaf vir ekspat-Maties in die omgewings van Köln, Düsseldorf, Dortmund in Duitsland te vestig. Hy gaan ook aangestel word as 'n medenavorser van die US se Fakulteit Teologie.

Ullrich is 'n aanhanger van die filosoof James K Smith se woorde: “Mense is wat hulle liefhet." Indien dit waar is, kan 'n mens verstaan waarom Ullrich so baie dieselfde karaktereienskappe as die Universiteit het – kenmerke soos gehalte-gedrewe navorsing, innoverende idees en deernis om die samelewing te verander. ​​