Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (25 Maart 2019)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 27/03/2019

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 25 Maart 2019 vergader. Dit was ons eerste ontmoeting van die jaar sowel as van die US se tweede eeu. Nadat die instelling in 2018 sy honderdste verjaardag gevier het, gaan hy nou die toekoms selfversekerd tegemoet aan die hand van Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 (klik hier om te besigtig), wat die Raad in Junie verlede jaar goedgekeur het.

Die Raad het die uitdagings en geleenthede in die huidige hoëronderwyslandskap in die land bespreek, en kennis geneem van die US se prestasies en bydraes tot die samelewing. Ons het ook 'n aantal besluite geneem, soos om die US se finansiële resultate van 2018 goed te keur en 'n nuwe raamwerk vir die vereenvoudiging en bespoediging van senior aanstellings te aanvaar. Daarbenewens het ons 'n groot grondskenking in Klapmuts aan die Universiteit aanvaar, wat vir die toekomstige uitbreiding van die instelling bedoel is. Laastens het ons totsiens gesê aan een lid van die Raad, en 'n ander verwelkom.

Lees gerus verder vir meer oor hierdie en ander aangeleenthede wat by die vergadering bespreek is (klik hier vir ʼn aanlyn-weergawe).

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

 

Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap

Die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het die Raad op hoogte gebring van die jongste hoëronderwysontwikkelings in die land. Minister Naledi Pandor se onlangse aankondiging van 'n bykomende R967 miljoen in finansiering vir universiteite om historiese studenteskuld te delg, is verwelkom.

Hoewel studentehuisvesting en -vervoer vanjaar as groot uitdagings in die sektor na vore getree het, bly studentefinansiering die belangrikste kwessie. Die aanstelling van dr Randall Carolissen as administrateur van die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS) in Augustus 2018 het aansienlike verbeteringe tot gevolg gehad, hoewel nie alle probleme uitgestryk is nie.

Die regering se infasering van fooivrye hoër onderwys en opleiding vir arm en werkersklasstudente sedert 2018 het ook tot 'n beduidende toename in staatsfinansiering gelei. Nogtans bly die volhoubaarheid van dié hoër subsidievlakke onseker. Terselfdertyd het ander bronne van staatsfinansiering – die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die program vir tegnologie en menslike hulpbronne vir nywerheid (THRIP) – aansienlik gekwyn, met ernstige gevolge vir universiteite. Groot skenkers soos die Mellon- en Claude Leon-stigting het boonop hul bystand aan Suid-Afrikaanse universiteite begin verminder.

Uiteraard het Eskom se jongste vlaag beurtkrag die bestaande druk op universiteite vererger. Die US het tot dusver vanjaar beduidende onvoorsiene uitgawes gehad met betrekking tot ekstra kragopwekkers en diesel om die krag aan te hou en onnodige ontwrigtings van die akademiese program te voorkom.

Teen hierdie agtergrond het die Raad die US-bestuur se volgehoue verbintenis tot sistemiese volhoubaarheid verwelkom.

Finansiële resultate van 2018

Op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee, het die Raad die US se finansiële resultate vir 2018 goedgekeur. Die US het die jaar met 'n surplus van R23,3 miljoen op sy hoofbegroting afgesluit, hoofsaaklik danksy besparings aan nutsdienste, munisipale dienste, versekering en algemene bedryfskoste. Die helfte van hierdie surplus is in die instelling se gebeurlikheidsreserwe gestort om vir onverwagte uitgawes voorsiening te maak, en die ander helfte in die Strategiese Fonds.

Die Raad het ook die finansiële resultate vir die US se afgebakende huisvestingsbegroting vir 2018 goedgekeur, wat op 'n tekort van R2,4 miljoen te staan gekom het. Die tekort was weens finansieringskoste met betrekking tot nuwe koshuise by Tygerberg en was te wagte gewees. Besparings aan nutsdienskoste vir koshuise weens 'n verlaging in waterverbruik het 'n kleiner tekort tot gevolg gehad as waarvoor daar aanvanklik voorsiening gemaak is. Die tekort sal uit reserwes gefinansier word.

Nuwe US-lening vir 'ontbrekende middel'

In sy bestuursverslag (klik hier vir die volledige dokument) het die Rektor verslag gedoen oor 'n nuwe leningskema wat die US vanjaar bekend gestel het om studente uit die “ontbrekende middel" by te staan. Die maksimum lening is gelykstaande aan die student se klasgeld. Die lening is rentevry gedurende die studietydperk en is terugbetaalbaar teen 'n vaste prima koers per jaar nadat die student afgestudeer het.

Hierdie maatreël was nodig omdat sommige studente vir wie huidige staats- of US-beurse nie voorsiening maak nie, sukkel om hul studiegeld by te bring sonder finansiële bystand, wat hulle nie kon bekom nie omdat hul gesinne beperkte toegang tot krediet by finansiële instellings het.

Koshuisplasing van nuwelingeerstejaars

Sedert die US sy huidige koshuisplasingsbeleid in 2013 aanvaar het, het die diversiteitsprofiel van koshuisstudente aansienlik verbeter. Vanjaar het die instelling die eerste keer 'n 50/50-diversiteitsverspreiding onder eerstejaars in Universiteitskoshuise op Stellenbosch- en Tygerbergkampus behaal.

'n Groter aantal kwesbare studente, veral NSFAS-studente, is in koshuise geplaas. Byna 'n derde (28%) van eerstejaars in koshuise is ontvangers van 'n NSFAS-toekenning, en ongeveer 600 van die 1 000 ingeskrewe eerstejaars wat tot dusver NSFAS-finansiering ontvang het, het koshuisplek gekry.

Klapmuts-skenking

Die Raad het met dank ingestem om 'n skenking van 30 ha grond in Klapmuts aan die US te aanvaar, wat vir die toekomstige uitbreiding van die Universiteit bedoel is. Die skenking kom van mnr Jaap du Toit, een van die Universiteit se voorste skenkers. Hy is 'n aandeelhouer in die Stellenbosch Wine and Country Estate (Edms) Bpk, wat beplan om die “Stellenbosch-slimstad" in die omgewing te ontwikkel. Klapmuts word as 'n belangrike ontwikkelingsnodus vir die streek oor die volgende paar dekades beskou.

Volgens die memorandum van verstandhouding met betrekking tot die skenking kan die US die grond ontwikkel vir tersiêre onderrig- en onderrigsteunfasiliteite, vir sport- en ontspanningsfasiliteite, vir fasiliteite wat die kommersialisering van enige kennis en/of kundigheid ondersteun (ongeag of die US sodanige kennis of kundigheid besit, deels besit of 'n lisensie daarvoor het), vir kuns- en kultuurfasiliteite soos 'n amfiteater, en vir tersaaklike en gepaste steuninfrastruktuur. Die US sal die ontwikkeling by sy hersiene fasiliteitsmeesterplan insluit, en oorweeg dit om 'n wêreldklasinnovasienaaf met konferensiegeriewe in Klapmuts te skep.

Navorsing, innovasie, nagraadse studie

Prof Eugene Cloete het dié keer 'n beurt gekry om oor die afgelope jaar se werksaamhede in sy verantwoordelikheidsentrum (VS), naamlik Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, verslag te doen (klik hier vir die volledige dokument, en hier vir ʼn PDF van die PowerPoint-aanbieding). Prestasies op hierdie gebiede hou belofte in vir die verwesenliking van die US se Visie 2040 om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder".

Hoogtepunte uit prof Cloete se verslag het die volgende ingesluit:

  • Die US het in 2018 altesaam 459 NNS-gegradeerde navorsers gehad (teenoor 342 in 2014). Veertien van hulle het 'n A-gradering, wat beteken dat hul eweknieë hulle onomwonde as toonaangewende internasionale vakkundiges op hul onderskeie gebiede beskou.
  • Navorsingsleerstoele by die US het meer as verdubbel – van 23 in 2013 tot 47 in 2018. Die US is bevoorreg om akademiese personeellede te hê help om die Universiteit as 'n nasionale bate met internasionale statuur te posisioneer.
  • Volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het die geweegde navorsingsuitset (publikasies sowel as nagraadse studente) per voltydse akademiese personeellid aan die US in 2017 (waaroor daar in 2018 verslag gedoen is) op 3,23 te staan gekom, wat wéér 'n rekordgetal is.
  • Die US het vir die vyfde jaar agtereenvolgens 'n rekordgetal PhD-gegradueerdes opgelewer. Die Universiteit het in 2018 308 PhD's toegeken vergeleke met 234 in 2014. Die 1 507 magistergrade was effens minder as in 2017, maar steeds die tweede meeste tot nog toe.
  • Die US se nagraadse kohort is nou meer divers as ooit vantevore. Die helfte van nagraadse studente van 2018 het uit die bruin, swart Afrikaan-, Indiër- of Asiërgroepe gekom, en 18,3% was internasionaal.
  • Die Universiteit het in 2018 altesaam R238 miljoen in nagraadse beurse geadministreer, waarvan bykans R19 miljoen uit die instelling se eie begroting gekom het.
  • Die US neem steeds nasionaal die voortou wat sy getal gepubliseerde patentaansoeke betref (111 in die tydperk 2009–2018). Die getal afwentelmaatskappye wat bystand ontvang van Innovus, die US se tegnologieoordragmaatskappy, het gestyg van 17 in 2014 tot 29 in 2018. Dié maatskappye het nou altesaam 267 werknemers in diens teenoor 208 in 2014.

Aanstelling-/heraanstellingsraamwerk

Die Raad het 'n nuwe raamwerk vir die aanstelling of heraanstelling van senior professionele, administratiewe en steundienste- (PASD-)personeel aan die US goedgekeur. Die doel is om die voorheen omslagtige en tydrowende proses te vereenvoudig en te bespoedig.

Die raamwerk het betrekking op posvlak 1–4 (d.w.s. Rektor en Visekanselier, viserektore, Bedryfshoof, Registrateur, dekane, hoofdirekteure en senior direkteure). Die verwagting is dat (her)aanstellings op hierdie vlakke nou veel vinniger afgehandel sal kan word danksy kleiner keuringskomitees, bydraes van tersaaklike eksterne kenners, sowel as groter inspraak deur liggame en persone wat die betrokke pos en kandidate die beste ken.

'n Senioraanstellingskomitee sal 'n kernrol in die nuwe raamwerk vervul. Die komitee sal op grond van behoorlik gedelegeerde verantwoordelikhede, bevoegdhede en aanspreeklikheid funksioneer. Sy lede moet rasse- en geslagsdiversiteit weerspieël.

Die Raad het die nuwe raamwerk op aanbeveling van sy Menslike Hulpbronnekomitee (MHK[R]) goedgekeur. Die proses om die bestaande regulasies vir senior PASD-aanstellings te hersien het reeds in die middel van 2017 begin. Die raamwerk het die volle goedkeuringsprosedure gevolg, waaronder insae deur die Rektoraat, Institusionele Forum, Senaat en Raad (met inbegrip van die Raad se Sosiale en Besigheidsetiekkomitee), voordat dit goedgekeur is.

Hoofdirekteur: Maties Sport

Me Ilhaam Groenewald is met ingang van 1 Augustus 2019 weer aangestel as Hoofdirekteur: Maties Sport vir 'n verdere termyn van vyf jaar. Die Raad het kennis geneem dat die MHK(R) hierdie besluit op aanbeveling van die Rektor en Bedryfshoof geneem het. Die besluit was gegrond op 'n gunstige beoordeling van me Groenewald se eerste termyn sowel as haar oortuigende visie vir die termyn wat voorlê.

Personalia

Me Khungeka Njobe het haar laaste vergadering as lid van die US Raad bygewoon. Sy het bedank om 'n nuwe pos by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) in Pretoria te aanvaar, wat nie net heelwat van haar tyd in beslag sal neem nie, maar ook 'n moontlike belangebotsing kan skep aangesien haar portefeulje skakeling met alle universiteite behels. Die Raad het sy waardering uitgespreek vir haar dienste, wat op 5 Mei 2015 'n aanvang geneem het. Sy was een van twee lede wat deur die Raad self aangestel is, en 'n proses om die vakature te vul sal nou van stapel gestuur word.

Me Carli van Wyk het op haar beurt haar eerste Raadsvergadering bygewoon. Sy is vir 2019 as Raadslid benoem deur die Studenteraad (SR), waarvan sy die voorsitter is. By Maandag se vergadering het die Raad haar as 'n lid van sy Taalkomitee aangewys.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die US Raad vind op 18 Junie 2019 plaas.

[ONDERSKRIF]

Me Carli van Wyk, SR-voorsitter, middel, saam met het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, links, en mnr George Steyn, Raadsvoorsitter. FOTO: STEFAN ELS