Die buitelandse blommemark betaal 'n premie vir speldekussings met lekker lang, reguit stele wat boonop sonder enige teken van insekte of siektes is. Om dit te lewer is makliker gesê as gedaan. Tans kan Suid-Afrikaanse fynbosboere slegs tussen 40% en 80% van hul oeste uitvoer, afhangende van die kultivar betrokke. Danksy nuwe navorsing oor groeireguleerders deur 'n doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch, Eugenie-Lien Louw, kan die verbouing van speldekussings met te lang of te krom stele iets van die verlede wees. Die industrie beskou haar resultate as 'n “wesenlike deurbraak" wat fynbosboere in die toekoms aansienlik breër kan laat glimlag as dit by verdienste kom.
Louw is 'n doktorale student in hortologie aan die Universiteit Stellenbosch en fokus op die verbouing van fynbosplante. Haar bevindinge is belangrik vir die Suid-Afrikaanse fynbosbedryf, aangesien 46% van alle fynbosuitvoere uit soorte speldekussing van die Leucospermum-fynbosgenus bestaan.
Benewens op plase in die Wes-Kaap (veral in die Boland, die Overberg, die Weskus en die Cederberge) word speldekussings ook in KwaZulu-Natal rondom Eshowe en Hilton verbou.
Reguit stele
Louw sê tydsberekening is belangrik in die toedien van die regte kombinasie van twee spesifieke groeireguleerders, ProGibb® en Promalin®. Die korrekte toediening daarvan op speldekussingbosse sorg dat die onderskeie plante baie meer regop ontwikkel en lyk as wat hulle andersins sou.
Groeireguleerders kom natuurlik in plante voor, en beheer alle aspekte van plante se groei en ontwikkeling. ProGibb® is 'n natuurlike weergawe, terwyl Promalin® sinteties vervaardig word.
Soortgelyke produkte word al jare met sukses deur tafeldruif- en sitrusboere gebruik. Louw se navorsing is die eerste om te wys dat die produkte op kommersiële skaal met sukses op speldekussings gebruik kan word.
Louw sê die groeireguleerder-mengsel moet toegedien word voordat speldekussingbosse se stele 10 sentimeter lank is. In die proses word 'n ideale uitvoerkwaliteit steellengte van 60 tot 70 sentimeter as reël eerder as uitsondering verkry. Die stele geniet daarby ook goeie, deurlopende en eenvormige bedekking van kleiner plantblare. Goedgevormde blomkoppe word gedra.
“Mens sien bitter min krom stele per plant as die mengsel net korrek en betyds aangewend word," verduidelik Louw.
Wat sê die bedryf?
Louw het reeds haar bevindinge aan die bedryf oorgedra gedurende die onlangse algemene jaarvergadering van Cape Flora SA, asook by twee konferensies van die Internasionale Proteavereniging (IPA) in Australië en Suid-Afrika.
Sommige plaaslike produsente in veral KwaZulu-Natal en aan die Weskus volg reeds haar raad, en verwys daarna as “Eugenie's Magic Mix". Hulle reken die uitkomste is die insetkoste van die gebruik van die groeireguleerders werd.
“Hierdie is 'n reuse-deurbraak vir ons industrie, en gaan produsente direk baat," reken Neil Hall van die plaas Philadelphia buite Citrusdal.
Hans Hettasch, eienaar van Arnelia fynbosplase buite Hopefield, beskou ook die behandeling as 'n groot deurbraak. “Dit kan 'n beduidende positiewe effek hê op die winsgewendheid van sekere Leucospermum kultivars."
Kerry Rowlands, tegniese bestuurder van Zuluflora, sê dat hulle die mengsel reeds met “opwindende resultate" in Hilton, Eshowe en Citrusdal op aanplantings van kultivars getoets het wat tipies probleme met steellengte het.
“In die meeste gevalle het die plante 'n ekstra 30 sentimeter groei getoon, en die bosse groei baie meer regop as wat hulle andersins sou. Dit dra alles by tot 'n beter uitvoerblom," verduidelik Rowlands.
Navorsingsprojek
Voordat Louw die gebruik van groeireguleerders kon toets, moes sy eers 'n deeglike studie doen oor presies hoe speldekussingplante groei en ontwikkel. Dit is die eerste keer dat dit in soveel detail bestudeer is. Soortgelyke inligting is wel vir Protea beskikbaar.
“As mens weet hoe 'n plant groei, kan mens weet hoe om dit korrek te manipuleer," verduidelik sy die rede daaragter.
Haar navorsing is 'n natuurlike uitvloeisel van haar werk as tegniese bestuurder van Arnelia fynbosplase buite Hopefield. Haar studies is gedoen onder leiding van dr Lynn Hoffman en prof Gerard Jacobs van die Departement Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch. Dit is gedeeltelik befonds deur Arnelia Plase en die Alternative Crop-fonds van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat deur Cape Flora SA geadministreer word.
Haar proewe oor die gebruik van groeireguleerders is tot op semi-kommersiële vlak sedert 2013 vir vyf seisoene op twee plase, Arnelia fynbosplase naby Hopefield en Pomona-plaas by Piket-Bo-Berg, gedoen. Dit is uitgetoets op twee kultivars, 'Succession II' en 'Soleil'.
Louw het daardeur die invloed van groeireguleerders onder verskillende klimaatstoetstande getoets. Sy het onder meer vasgestel dat dit beter is om die twee groeiereguleerders te vermeng, eerder as om hulle apart aan te spuit.
Vir navrae, kontak Louw by eugenie@arnelia.co.za .
BYKOMENDE INLIGTING
Raad vir speldekussingboere:
- Spuit plante wanneer vegetatiewe ogies net begin swel en voordat die jong stele langer as 10 sentimeter raak.
- Die spuite moet drie keer binne ses weke gedoen word.
- 'n Mengsel van die twee produkte werk die beste.
- 'n Te hoë konsentrasie kan die lootpunte brand.
- Soms is die gebruik van ekstra plantvoeding wenslik.
Inligting oor die twee soorte speldekussings waarop proewe gedoen is:
* In 2017/2018 is 3,6 miljoen skeloranje 'Succession II' blomkoppe uitgevoer. Dis die gewildste speldekussingkultivar waarmee daar in Suid-Afrika geboer word, deels omdat dit blomme op lekker lang stele lewer. Die regte mengsel groeireguleerders kan veral met vrug in warmer landbougebiede gebruik word, waar speldekussingbosse geneig is om stele met wisselende lengtes te dra.
* 'Soleil' is 'n geel kultivar wat al hoe gewilder word. Oor die afgelope ses seisoene het uitvoere van 300 000 tot 1,5 miljoen gestyg. Behandeling met groeireguleerders het 'n noemenswaardige invloed op die lewering van ideale blomstele.