Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US beplan om Innovus na Stellenbosch Smart City uit te brei
Outeur: Development and Alumni Affairs
Gepubliseer: 25/03/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wat wêreldwyd erken word as uitnemend, inklusief en innoverend – waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word – kry binnekort 'n stewige hupstoot. Dit is te danke aan 'n nuwe wêreldklasinnovasiehub, geskep op 30 hektaar grond wat onlangs deur die Stellenbosch Wine and Country Estate (Pty) Ltd aan die Universiteit geskenk is.

Die grond wat geskenk is, is in die Kaapse Wynlandstreek van Klapmuts geleë en maak deel uit van 253 hektaar grond wat die Stellenbosch Wine and Country Estate besit; welke grond die perseel vir die nuut beplande Stellenbosch Smart City-ontwikkeling uitmaak.

Mnr Jaap du Toit, in sy hoedanigheid as voorsitter en aandeelhouer van die Stellenbosch Wine and Country Estate (die ontwikkelaar van Smart City), was instrumenteel daarin om hierdie skenking moontlik te maak. Du Toit, wat in 1976 met 'n BRek-graad aan die US afstudeer het, is ook een van die stigters van die beleggingsbestuursmaatskappy, PSG Groep en PSG Konsult.

Die Stellenbosch Munisipaliteit beskou die Klapmuts-gebied as 'n belangrike ontwikkelingsnodus vir die streek oor die volgende paar dekades.

“Hierdie wonderlike gebaar deur die Stellenbosch Wine and Country Estate getuig van die vertroue in Maties se toekoms namate ons ons tweede eeu as universiteit binnegaan," sê prof Wim de Villiers, die US Rektor en Visekanselier.

“Ons is veral bly oor hierdie skenking omdat dit in pas is met ons onlangs aanvaarde strategiese raamwerk. Dit sal ons help om onder meer 'n florerende Universiteit Stellenbosch te bou en 'n transformerende studente-ervaring te bied.

“Mnr Du Toit is 'n lojale alumnus van die Universiteit, en dit is 'n wonderlike en ruimhartige geskenk aan sy alma mater hierdie. Ons waardeer dit werklik en is baie opgewonde oor die moontlikhede wat dit ontsluit."

Volgens 'n memorandum van verstandhouding tussen die Universiteit en die Stellenbosch Wine and Country Estate kan die US die gebied ontwikkel vir tersiêre onderrig; fasiliteite vir tersiêre onderrig; sport- en ontspanningsfasiliteite; fasiliteite vir die kommersialisering van enige kennis en/of kundigheid wat deur die US besit of medebesit word, of aan die US gelisensieer is; kuns en kultuur, soos 'n amfiteater; en relevante en gepaste ondersteunende infrastruktuur.

Me Anita Nel, Hoofdirekteur van Innovasie aan die US en Direkteur van Innovus, sê alhoewel projekte vir die gebruik van dié gebied nog in die beplanningsfase is, is die eerste saak wat aangepak sal word waarskynlik 'n innovasiehub met konferensiegeriewe. “Ons beoog om alternatiewe ruimte op die aangewese US-grond aan te bied vir nuwe ondernemings wat te groot geword het vir die Universiteit se LaunchLab-besigheidsinkubator."

Die Nedbank-Universiteit Stellenbosch-LaunchLab, 'n filiaalmaatskappy van Innovus, is 'n aanvangsinkubator wat daarop gemik is om 'n florerende ekosisteem vir entrepreneurs in Afrika te bou. “Ons fokus is op die entrepreneurs self en help hulle om 'n lewensvatbare besigheid deur middel van afrigting- en mentorskapprogramme te bou. Ons ondersteun nuwe ondernemings en bevorder 'n kultuur van entrepreneurskap aan entrepreneurs wat hul besighede wil uitbrei," voeg Nel by.

Du Toit sê: “Die Universiteit Stellenbosch het 100 jaar gelede begin met 'n skenking deur Jan H Marais. In pas met die geskiedenis glo en vertrou ons dat hierdie skenking die US die geleentheid sal bied om vir die volgende 100 jaar te groei en tersiêre onderwys verder uit te brei.

“Die Universiteit bars uit sy nate op die Stellenbosch-kampus, en 'n innovasie-satellietnodus gaan 'n wonderlike bydrae lewer. Ons glo hierdie skenking sal die Universiteit op die weg plaas na die vestiging van 'n wêreldklasinnovasienodus, wat met verloop van tyd ook meer studente sal kan dien."

  • Die Stellenbosch Wine and Country Estate sal in 'n opvolgmedia-aankondiging meer besonderhede oor sy visie vir die Stellenbosch Smart City verstrek.
  • Foto: ​Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch en mnr. Jaap du Toit, Voorsitter en aandeelhouer van die Stellenbosch Wine and Country Estate