Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-navorser soek nog katvlooie
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/03/2019

​Die meeste mense besoek hul plaaslike dierebeskermingsvereniging net wanneer hulle 'n nuwe katjie of hondjie wil aanneem. Nie dr Luther van der Mescht van die Universiteit Stellenbosch (US) nie. Hy gaan soek eerder vlooie daar. Om presies te wees, katvlooie. Hy is besig met 'n uitgebreide studie van die verskillende spesies wat mens op Suid-Afrikaanse honde en katte kry.

Wêreldwyd is katvlooie (Ctenocephalides felis felis) die soort vlooi wat mens die meeste op troeteldiere vind. Ten spyte van die naam kom hierdie kleine insekte ook op honde voor. Diere wat met hierdie vlooie oortrek is, kan ook mettertyd lintwurms kry wat hulle dan vreeslik uitteer.

Dr Van der Mescht hoop om onder meer danksy mikroskoopwerk en genetiese studies op die vlooie wat hy insamel te kan vasstel watter spesies plaaslik te vinde is, en in watter gebiede. Sulke inligting sal gebruik kan word in bekampingsveldtogte, om seker te maak dat die regte soorte giwwe of poeiers byvoorbeeld gebruik word in spesifieke streke.

“Dis baie moeilik om met die blote oog spesies uit te ken wat almal deel is van die Ctenocephalides felis-kompleks, en daarom weet ons nie regtig watter spesies katvlooie op Suid-Afrikaanse honde of katte te vinde is nie," verduidelik dr Van der Mescht. “Die vorige deeglike opname daaroor is in die 1970's gedoen."

Sy navorsingsprojek word deur die Claude Leon Stigting befonds.

Hy werk ten nouste saam met parasitoloog prof Sonja Matthee van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie, wat veral op parasiete soos vlooie en bosluise konsentreer, en evolusionêre bioloog prof Conrad Matthee van die Departement Plant- en Dierkunde.

Volgens dr Van der Mescht is 20 dierewelsynsorganisasies en privaat veeartse regoor die land reeds betrokke by sy studie, en help hulle om genoeg vlooie in te samel sodat hulle hulle kan identifiseer en geneties kan bestudeer.

Mense van regoor die land wat hom met sy navorsing wil help, kan vir dr van der Mescht vlooie stuur wat hulle van hul katte en honde afhaal. Hulle kan dit doen tot einde April, wanneer die tipiese somervlooiseisoen tot 'n einde kom. Die beste is om dooie insekte in 'n klein houertjie etanol te berg. 

Vir navrae oor hoe om dit te doen, kontak hom by luthervdm@sun.ac.za.​

Agtergrond: dr Luther van der Mescht

  • Hy het sy doktorsgraad in bewaringsekologie in 2015 behaal na navorsing oor die faktore wat die verskeidenheid en verspreidingspatrone van vlooie op muise regoor Suid-Afrika bepaal.
  • Van September 2016 tot September 2018 het hy nadoktorale navorsing gedoen by die Ben-Gurion Universiteit van die Negev in Israel onder leiding van een van die wêreld se voorste vlooikenners, professor Boris Krasnov.
  • Tans is hy 'n nadoktorale genoot aan die Universiteit Stellenbosch, en fokus daarop om inligting oor die leefwyse, evolusie en habitatte van verskillende Suid-Afrikaanse vlooie uit te brei en op te dateer.
  • Hy het in 2004 aan Hoërskool Punt op Mosselbaai gematrikuleer.​​​