Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kayamandi-leerders maak Kromrivier skoon
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 12/03/2019

 Meer as 100 leerders en hul onderwysers van vier skole in Kayamandi, sal vandeesweek deelneem aan 'n inisiatief om die Kromrivier in Stellenbosch skoon te maak. Boonop sal hulle ook 'n area langs die rivier aanneem en pa staan vir die mooimaak daarvan, sodat dit as speelplek vir die plaaslike kinders kan dien.

Dit is een van die eerste openbare inisiatiewe van die Kayamandi-Riviervennootskap – 'n samewerkingsooreenkoms tussen die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI) en eksterne belangegroepe soos die Stellenbosch River Collaborative, die Departement van Waterwese en Sanitasie, die Stellenbosch Munisipaliteit se Departement vir Gemeenskapsontwikkeling en -Veiligheid, en Kayamandi-skole. Ander vennote betrokke, is die US se departemente van Mikrobiologie en Kurrikulumstudies.

Dr Leanne Seeliger, projekbestuurder verbonde aan die SUWI, sê vorige pogings om besoedelingsprobleme in die Krom- en Plankenbrugriviere aan te pak, is belemmer deur kwessies soos volhoubaarheid en die koördinering tussen die verskillende rolspelers: “Met hierdie vennootskap wil ons 'n fonds vestig wat onderhou sal word deur die sleutel-belangegroepe in waterbestuur in die omgewing, ten einde voortgesette watermonitering en opvoeding te verseker."

Die Plankenbrugrivier in Enkanini is een van die mees besoedelde riviere in Stellenbosch: “Aanvanklik sal ons eers op die Kromrivier fokus vir bewusmakings- en skoonmaakveldtogte, omdat die Plankenbrugrivier tans 'n gesondheidsrisiko vir leerders en die omringende gemeenskap inhou," verduidelik Seeliger.

Die Kayamandi-Riviervennootskap hoop om met hierdie inisiatief 'n vertrouensverhouding te vestig en 'n gevoel van gemeenskaplikheid en burgerlike verantwoordelikheid te herstel: “Een van die grootste uitdagings wat informele nedersettings in die gesig staar, is waterbestuur. Indien beide die munisipaliteit en die gemeenskap saam besin oor die beginsels van waterbestuur in hierdie gebied, kan ons dalk begin wegbeweeg vanaf slegs wetsnakoming na iets wat volhoubaar kan wees - beste bestuurspraktyke vir hierdie gemeenskap," sluit sy af.

Gedurende die skoonmaakinisiatief sal Prof Chris Reddy van die US se Departement Kurrikulumstudies die leerders leer om die kwaliteit van water te toets deur gebruik te maak van die Skool-Wateraksieprojek (SWAP) se metodes. Prof Wesaal Khan van die Departement Mikrobiologie sal die leerders inlig oor die gevare van water besoedeling.

Die hoogtepunt van die week is op Vrydag 15 Maart 2019, wanneer die leerders 'n skoongemaakte area langs die Kromrivier sal “aanneem en mooimaak".

Die inisiatief word ruim ondersteun met skenkings vir versnaperinge deur Ten of Cups, Timerlea Boerdery Trust en Chill Beverages.

Wêreldwaterdag vind op 20 Maart plaas, en Suid-Afrika se Nasionale Waterweek, vanaf 18 tot 24 Maart 2019.

Medianavrae

Dr Leanne Seeliger

Universiteit Stellenbosch Waterinstituut

E-pos: seeliger@sun.ac.za

Sel: 072 203 2113