Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prestigeryke Rhodes-studiebeurs aan FGGW-gegradueerde toegeken
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 12/03/2019

Dr Nabeelah Kajee, wat haar MB,ChB-graad cum laude aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, is aangewys as een van die ontvangers van die prestigeryke Rhodes-studiebeurs vir nagraadse studies aan die Universiteit van Oxford.  

Kajee, wat in 2016 die Dekaansmedalje as die beste voorgraadse student aan die FGGW ontvang het, sal haar later vanjaar by 101 nuwe Rhodes-studente van oor die wêreld heen by die Universiteit van Oxford aansluit. Sy doen tans haar gemeenskapsdiens by die Mitchells Plain-hospitaal en het reeds haar internskap van twee jaar by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad voltooi.

“Dit is ʼn eer om ʼn Rhodes-student te word. Dit bied my ʼn merkwaardige geleentheid om my opvoeding in ʼn baie verrykende omgewing voort te sit. Ek gaan my by ʼn gemeenskap van enersdenkende individue aansluit wat tot die skep van ʼn beter wêreld toegewy is. Ek is mal oor die idee van die voortsetting van ʼn platform waar mense kan groei en blywende netwerke kan vorm, sodat hulle kan aanhou om hul beste aan hul onderskeie lande en gemeenskappe terug te gee. Ek sien uit na die wonderlike uitruil van idees en ervarings in Oxford en daarbuite."

Die Rhodes-studiebeurs is die oudste en een van die mees prestigeryke bestaande internasionale studieprogramme. Uitsonderlike studente word vir die program gekies, gegrond op hul akademiese uitnemendheid, leierskappotensiaal en toewyding om ʼn verskil ten goede in die wêreld te maak.

Kajee het aansoek gedoen vir ʼn PhD (of ʼn DPhil, soos dit by Oxford bekend is) in haar belangstellingsvelde van geneeskunde, mediese onderwys en geestesgesondheid. “Dit is my passies. Globale gesondheidsuitdagings en hoe ons as gesondheidsleiers hierdie uitdagings volhoubaar kan aanpak, is wat my motiveer. Navorsing is ongelooflik belangrik om die weg te baan vir die skep van vernuwende oplossings vir gesonder en gelukkiger gemeenskappe.

“Nadat ek as ʼn dokter in Suid-Arika gewerk het, het ek besef ons kollektiewe rol is van deurslaggewende belang. Ons is klinici, onderwysers en probleemoplossers – en daarvoor het ons ʼn begrip van ʼn wye reeks vaardighede nodig. Op lang termyn hoop ek dat ons deur die verbetering van mediese onderwys die gehalte, gesondheid en impak van ons dokters kan versterk en – deur ʼn uitkringeffek – ons gemeenskappe kan verander."  

Die huidige Dekaan van die FGGW, prof Jimmy Volmink, is ʼn belangrike bron van inspirasie vir die jong dokter. “Ek het hom die eerste keer ontmoet toe ek 'n tweedejaar was. Ek het binne ʼn paar minute geweet hy gaan ʼn lewenslange onderwyser wees. Hy is toegewy aan uitnemendheid en is ʼn verstommend versiende leier."

Kajee is veral trots op die US as ʼn instelling. “My alma mater het my baie goed vir my loopbaan voorberei. ʼn Intellektuele omgewing word daar geskep wat my nuuskierigheid gevoed en my in staat gestel het om lewenslange vriendskappe te ontwikkel."

Ná Oxford droom Kajee daarvan om haar loopbaan as ʼn mediese dokter en in hoër onderwys voort te sit. “Ek hoop om navorsing te genereer wat ʼn impak op die gesondheid en lewensgehalte van ons eie landsburgers én van die globale gemeenskap het."