Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-studente beklemtoon omgewingskwessies deur EkoWeek
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 05/03/2019

Studente van die Universiteit Stellenbosch stel hierdie week ʼn groot herwinningsprogram as deel van EkoWeek – ʼn week lange veldtog gemik op bewusmaking van volhoubare praktyke – bekend.

EkoWeek, wat van 4 tot 9 Maart duur, is ʼn samewerkingsinisiatief tussen Golden Key Stellenbosch, die Verenigde Nasies Vereniging van Suid-Afrika Stellenbosch, EcoMaties, Academics for Development en MatiesPAW.

Die vernaamste vorm van kommunikasie sal die verskeie sosialemedia-platforms van al die verenigings wees, veral Facebook en Instagram.

EcoMaties se openingsfunksie vandag om 18:00 dien as die bekendstelling en sal ʼn paneelgesprek met Misha Teasdale van Greenpop, ʼn boomplant-inisiatief, insluit. Die gesprek sal op omgewingskwessies fokus wat deur die week onder die loep sal kom. Dit sal ook regstreeks op alle genoemde sosialemedia-platforms, soos www.facebook.com/ecomaties/, gestroom word.

Herwin-uitdaging

Alle koshuise en privaat studenteorganisasies (PSO's) is genooi is om deel te neem aan die hoofgeleentheid, ʼn Herwin-uitdaging, wat deur die week heen plaasvind.

“Alle koshuise en PSO's is genooi om deel te neem en soveel moontlik herwinbare materiale (soos papier, glas, karton, ens.) te versamel en die versamelingsproses op ons sosialemedia-platforms te vertoon deur #EcoWeek, gevolg deur die hutssleutels vir al die betrokke verenigings, koshuise of PSO's, te plaas. Daar is ʼn prys vir die koshuis, vereniging of PSO wat die meeste herwinningsmateriaal versamel," sê mnr Jannu Nieman, diensdirekteur van Golden Key.  

Verskeie ander geleenthede sal deur die week aangebied word, insluitende die optel van rommel op die Strand op 9 Maart van 11:00 tot 14:00, en ʼn “Day-with-the-Dogs", georganiseer deur MatiesPAW, op 5 Maart op die Rooiplein van 11:00 tot 14:00.  

“Ons sosialemedia-platforms sal in die week wenke bekendstel oor hoe om ekovriendelik te wees, daar sal meningspeilings wees oor groter kwessies rakende ons omgewing, en foto's van die geleenthede sal natuurlik geplaas word," vertel mnr Nieman.

“Deur hierdie samewerking hoop ons om ʼn meer volhoubare leefstyl onder ons medestudente aan te moedig; om vir hulle die voordele en moontlikhede van ʼn omgewingsvriendelike lewe te wys en klem te lê op diegene wat so ʼn leefstyl moontlik maak."

Skakel met Jannu Nieman by 19835825@sun.ac.za​ of 082 524 9880​ vir verdere inligting.