Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW brei opleiding na Noord-Kaap uit
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 26/02/2019

In ʼn opwindende ontwikkeling het die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) sy voetspoor na die Noord-Kaap uitgebrei. Vanjaar sal ʼn groepie mediese studente hul finale jaar in Upington voltooi en sodoende bydra tot broodnodige mediese dienste in dié gebied.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid is ʼn pioniersinisiatief van die FGGW wat in 2001 gevestig is. Getrou aan sy naam (Xhosa vir “groei" of “ontwikkel"), koördineer en ondersteun die Ukwanda-sentrum opleidings- en navorsingsinisiatiewe in landelike gemeenskappe. Die oogmerk is voorts om mediese beroepslui met vaardighede en praktiese ervaring toe te rus om die uitdagings te help aanpak wat deur landelike en swak gedienste gemeenskappe in Suid-Afrika ervaar word.

“Landelike gemeenskappe, wat 35% van Suid-Afrika se bevolking uitmaak, word oor die algemeen swak bedien," sê prof Prof Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid. “Deur die Sentrum toon en bevorder die FGGW sy verbintenis tot die aanpak van die landelike gesondheidsbehoeftes van Suid-Afrika."

Mediese en ander gesondheidswetenskappestudente doen al etlike jare lank kort rotasies by landelike gesondheidsorgfasiliteite in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap. Sommige studente het ook hul finale jaar by die Landelike Kliniese Skool voltooi, wat in die Kaapse Wynlande- en Overberg-distrikte in die Wes-Kaap geleë is. Nou sal ʼn soortgelyke benadering in Upington in die Noord-Kaap gevolg word.

Hoëvlak-onderhandelings tussen die US en die Noord-Kaapse provinsiale regering het in 2017 plaasgevind. Vroeg in 2018 het dr Therese Fish (Adjunkdekaan: Sosiale Impak en Kliniese Dienste), prof Julia Blitz (Adjunkdekaan: Leer en Onderwys) en prof Couper die Dr Harry Surtie-hospitaal in Upington namens die FGGW besoek. Nog besoeke het gevolg, waaruit planne vir opleiding in ʼn klompie gesondheidsprogramme voortgevloei het.

“Die oogmerk was om in die rigting van longitudinale studenteblootstelling gegrond op samewerkende praktyk te werk," sê Couper. “Die SCALE-Up-model – Stellenbosch- Samewerkende en Longitudinale Blootstelling in Upington – is voorgestel." Die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid sal namens die FGGW die leiding met hierdie samewerking neem.

Die Noord-Kaapse program het in September verlede jaar begin toe finalejaar- mediese studente wat die primêregesondheidsorgrotasie van vyf weke onderneem het, met opleiding by die Upington- hospitaal begin het.

Van hierdie jaar af sal vier finalejaar- mediese studente ʼn aangepaste, geïntegreerde longitudinale program by die Dr Harry Surtie-hospitaal voltooi. “Hierdie studente sal deur plaaslike gesondheidsorgpersoneel opgelei word, met die ondersteuning van konsultante van die Tygerberg-kampus en die span van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid," sê Couper.  

In Februarie het die Afdeling Arbeidsterapie finalejaars vir vier rotasies Upington toe gestuur en in April sal die Afdeling Fisioterapie studente vir twee rotasies begin stuur. “Die plan is om teen 2020 met langer longitudinale programme te begin en Spraak-, Taal- en Gehoorterapie sal ook moontlik aan die program begin deelneem," vervolg Couper.

Nog planne vir toekomstige uitbreiding deur die FGGW sluit die moontlikheid in om nagraadse opleiding by die Dr Harry Surtie-hospitaal te ontwikkel, met inbegrip van moontlike rotasies van kliniese assistente in algemene mediese spesialiteite.

Met hierdie diens sal die Noord-Kaap – ʼn provinsie sonder ʼn mediese skool wat sukkel om mediese personeel na sy wyd verspreide gemeenskappe te lok – hopelik waardevolle vaardighede en kundigheid bekom.

Die Ukwanda-sentrum waardeer die uiters positiewe reaksie van die Noord-Kaap – veral die bestuur en personeel van die Dr Harry Surtie-hospitaal, wat opgewonde is oor die visie om opleiding in die provinsie uit te brei. Dit sal uiteindelik meebring dat meer lede van die gemeenskap toegang tot dienste sal kan bekom, het Couper gesê.

Vir meer inligting, kontak Lindsay-Michelle Meyer by lindsaym@sun.ac.za. Nog inligting is beskikbaar op die webwerf van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid.

Onderskrifte

Bannierfoto: FGGW-verteenwoordigers besoek Upington. Voorste ry van regs na links: Me Amanda Msindwana (Spraak-, Taal- en Gehoorterapie); Dr Inge Smit (Psigiatrie); Me Mia Duvenage (Arbeidsterapie); Prof Elmin Steyn (Chirurgie); Prof Rafique Moosa (Interne Geneeskunde); Prof Susan Hanekom (Fisioterapie); Dr Liezl Smit Ppediatrie); Dr Michael Pather (Gesinsgeneeskunde); Lindsay-Michelle Meyer (Ukwanda-projekbestuurder en besoekkoördineerder). Agterste ry van regs na links: Me Jana Muller (Ukwanda- samewerkende sorg; tussentydse projekkoördineerder); Dr Francois Coetzee (Ukwanda-MB,ChB-program); Prof Ian Couper (Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid; spanleier); Prof Ben van Heerden (Direkteur, MB,ChB-eenheid); Dr Esté Swart (Verloskunde en Ginekologie) 

Insetsel: Die vier mediese studente wat hul finale jaar by die Dr Harry Surtie-hospitaal sal voltooi. Van links na regs: Felrie Oettle, Elmaur Human, Anja Langenhoven en Ntshembo Nkuna