Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
1ste personeelbyeenkoms van 2019 ’n stap nader aan hegter universiteitsgemeenskap
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie [Sandra Mulder]/Corporate Communication [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 21/02/2019

Die eerste byeenkoms van die jaar vir die nagenoeg 4 000 personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (21 Februarie) op Stellenbosch plaasgevind en personeellede van vyf kampusse kon fisiek of met behulp van die internet na 'n aanbieding deur die bestuur luister (klik hier vir PDF).

Sowat 200 personeellede het na raming die vergadering in die Endlersaal in Victoriastraat bygewoon. Die ander kon dit deur regstreekse stroomuitsending volg.

 
  • Selfoongebruikers klik hiervir video.

Die programdirekteur, prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het al die personeellede by die vergadering verwelkom. Volgens hom sal vergaderings soos hierdie deel van die Universiteit se tradisie word om kommunikasie tussen personeellede te verbeter. “Ons is hier saam as 'n universiteitsgemeenskap. Julle weet dat gemeenskap en gemeenskaplikheid deur kommunikasie versterk word," het hy in sy opening gesê.

Hierna het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, die vergadering op 'n positiewe noot ingelei deur te fokus op die Top-Tien suksesse van die US in 2018.  

Die tien suksesse wat die Rektor genoem het, is:

  • 'n Rekordgetal grade (vir die 2017-jaar wat in Maart 2018 geëindig het) met 9 032 kwalifikasies (1 620 meesters- en 305 doktorsgrade) wat deur studente behaal is.
  • Die studentesukses is merkwaardig met 'n verhouding van agt uit tien Maties wat hul studies voltooi.
  • Die US lok topstudente, met 'n gemiddelde graad 12-persentasie van 77% wat deur nuwelingstudente behaal is.
  • Sport en kultuur bly ook nie agter nie, met Maties wat die 2018 Rugby Varsity Cup-wenners was en die US Koor wat as nommer 1 in die wêreld geag word.
  • Die US is suksesvol met sosiale impak op verskeie gebiede. Hier is die US Regskliniek wat as die “voorste firma in Afrika" gereken word en studente wat help om bekostigbare behuising te verbeter, genoem.
  • Geldelike hulp van R500 miljoen wat aan voorgraadse beurse en lenings toegestaan word, is 'n ander pluspunt. ('n Vyfde van dié geld kom uit die US se hoofbegroting.)
  • Kampusvernuwingsprojek met die Jan Mouton Leersentrum en die Adam Small Teaterkompleks wat geopen is.
  • Eeufeesprojek van 2018 wat prestasie vier, maar ook lesse leer uit die foute van die verlede.
  • Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat 'n nuwe roetekaart vir die toekoms aandui.
  • Die ontstaan van die Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke wat die grondslag is vir 'n interdissiplinêre skool wat oor die hele akademiese spektrum strek.

Prof De Villiers het ook 'n tydjie afgestaan om die personeel in te lig oor die nasionale uitdagings in hoër onderwys en sake wat ook by die US geopper is. Die uitdagings hou verband met opgehoopte studenteskuld en finansiële uitsluitings; studentebehuising, -vervoer en kampusgesondheidsdienste; die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) appèlle en verwarring oor toelaes; akademiese rekords en sertifikate; behandeling van werkers/inkontraktering; en veiligheid en sekuriteit van studente.StaffAssembly2019Feb-7.jpg

“Hierdie nasionale uitdagings sal natuurlik ook 'n invloed op die Universiteit Stellenbosch hê. Die opgeloopte studenteskuld het reeds R10 miljard in Suid-Afrika bereik. By UKZN alleen staan die skuld al op R850 miljoen. Hierdie bedrag is verlammend."

Hy het oor finansiële uitsluiting die volgende te sê gehad: “Dit is ons beleid en ons grootste begeerde om nie studente weens finansiële redes uit te sluit indien daar akademiese meriete is nie. Die NSFAS wat ons in laat 2018 en in 2019 beleef, is baie beter as wat dit voorheen was. Dit is beslis nie perfek nie, maar daar is 'n verbetering."

Oor die kwessie van werkers en inkontraktering het hy gesê: “Ons beleid is nie om ter goedermoed in te kontrakteer nie, maar fokus eerder op lewensvatbare en volhoubare kontraktering. Die twee beginsels in ons beleid waarby ons staan, is menswaardigheid en 'n loon waar op jy kan leef."

Vir die pad vorentoe, het prof De Villiers sekere prioriteite beklemtoon. Dit sluit onder meer in om die Universiteit nog meer navorsingsintensief te maak soos byvoorbeeld deur die totstandkoming van die Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke.  Hierdeur word een van die US se kern strategiese temas vir 2019–2024, navorsing vir impak, aangespreek.

“'n Nuwe werksomgewing wat vining besig is om on sneer te daal, is die vierde Industriële Rewolusie en ons moet nadink oor hoe ons daarby gaan aanpas. Ons moet ons ingesteldheid jeens loopbane verander en daar is besluite wat geneem moet word. Dit is ook hoekom die Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke so belangrik is vir ons," het Prof De Villiers gesê.

Die tweede prioriteit is digitalisering, byvoorbeeld deur digitale leer en die SUNFin- en  SUNStudent-inligtingstelsels. Dit sal bydrae tot 'n florerende universiteit wat 'n transformerende studente-ervaring en genetwerk en samewerkende onderrig en leer bied.

Die belyning van prosesse, stelsels en beleide is ook 'n prioriteit vir 2019, terwyl daar 'n groter fokus op personeel gaan wees wat kan bydrae tot die visie van die US om 'n voorkeurwerkgewer te word.

Ná prof De Villiers, het dr Ronel Retief, Registrateur, aan die beurt gekom om terugvoer oor vanjaar se registrasieproses en NSFAS-vordering te gee.

Met die registrasie van nuwelingstudente vanjaar agter die rug, het 5 119 nuwe studente hul studies aan die US begin. Dr Retief sê dié syfer is 4,7% laer as die registrasies in 2018 en is ook onder die doelwit van 5 371 nuwelingstudente vir 2019.  

Aan die blink kant het die volgehoue kommunikasie met huidige en nuwe student goeie vrugte afgewerp. Dr Retief het prosesse soos die doelgemaakte webbladsye met relevante inligting wat studente gehelp het om 'n kommervrye registrasieproses te beleef, uitgelig. Aanlyn-registrasie en ondersteunde registrasie by die rekenaargebruikersgebied het ook die student gehelp en die registrasieproses vergemaklik en aan studente toegang tot alle inligting gegee wat hulle nodig sou hê.

Navrae van huidige en nuwe studente aan die registrasiekantoor het baie afgeneem, juis oor die volgehoue kommunikasie sedert November 2018, sê dr Retief.

Die uitdagings met registrasie en studenteverblyf wat die Universiteit steeds in die gesig staar, sluit in die gebrek aan toeganklike en bekostigbare verblyf vir behoeftige student en die laat-toekenning van NSFAS -beurse in Januarie wat die doeltreffende plasing van studente belemmer, sê dr Retief.

“Ons kon net huisvesting aan 2 300 van die 5 200 nuwelingstudente voorsien. Dit is duidelik dat daar 'n probleem is. Baie studente is in koshuise geplaas nadat daar kansellasies was en ons het ook baie na privaat geakkrediteerde verblyf verwys."

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het verslag gedoen oor die vordering met strategie-ontwikkeling en het terugvoer gegee oor die Institusionele Beplanningsforum (IBF). Dié verslagdoening volg op die vorige personeelvergadering in Julie 2018 waar die nuwe visie en missie van die Universiteit aan die personeel bekendgestel is. Daar is reeds begin met die implementering van Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 en dit word tans verfyn.

Prof Koopman het aan die einde van die byeenkoms 'n kort vraag-en-antwoordsessie met die personeellede behartig.