Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Teologiese dag gee ʼn voëlvlug van 160 jaar
Outeur: Jacobie M. Helena
Gepubliseer: 19/02/2019

“Wat is dit wat die Afrika-teologie aan die wêreld moet bied wat net dít kan bied?"

Só het prof Tinyiko Maluleke by die jaarlikse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie (FT) aan die Universiteit Stellenbosch (US) gesê. Hy is 'n professor by die Universiteit van Pretoria (UP) en doen navorsing oor onder meer godsdiens, politiek en swart-Afrika teologie.

Die tema van die dag was: 'Teologie van en vir Afrika: Ons klaagliedere, stryd en hoop'.

Maluleke het in sy toespraak uitgebrei oor die belangrike stemme van teologie in Afrika in die geskiedenis en het onder andere verwys na proff Kwame Bediako, John Mbiti en David Bosch. Hy het verder ook na Lamin Sanneh en Jesse Mugambi verwys. Hy het dié stemme geprys vir die ink van hoop wat hulle uit Afrika vir wêreldteologie in die 21ste-eeu voorsien het.

Ter aansluiting by Maluleke oor die belangrike stemme van teologie in Afrika, het Prof Reggie Nel, dekaan van die FT,'n voëlvlug oor die 160 jaar van teologiese opleiding aan die US geneem. Nel vertel dat waar predikante hoofsaaklik vroeër uit Europa na Afrika ingevoer is, het die behoefte ontstaan vir opleiding wat inheems is – opleiding wat vanuit die Afrika-bodem geskied. Vir die grootste deel van die kweekskool en later die fakulteit se geskiedenis het slegs wit Afrikaner-mans teologiese opleiding by die instelling ontvang. Daar was wel enkele swart studente, maar hul geskiedenis is onseker. Die instelling was ook verknog aan 'n bepaalde ideologie – Afrikaner nasionalisme.

 “As ʼn mens na die geskiedenis kyk, was daar ook unieke en evangeliese stemme wat opgeklink het teen dié teologiese verknegting. Dit was soms maar eensame stemme soos dié van proff BB Keet, Beyers Naudé en Nico Smit. Hierdie stemme was voortdurend 'n gewete wat die kerk en teologie teruggeroep het na die gesonde wortels van Afrika. Dié leiers het die profetiese stem van die Here gehoor," het Nel verder gesê.

Volgens hom het daar in 2000 verdere skuiwe plaasgevind toe studente van die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) van die Universiteit van die Wes-Kaap na die FT oorgeskuif het. Dié skuif het baie meer diversiteit – ook teologies – aan die fakulteit verleen, met professors soos proff Dirkie Smit, Russel Botman en Hannes Adonis en dr Llewellyn Macmaster. Nel beskryf die fakulteit as'n stroom met sytakke wat met die jare verryk is.

“Vandag word die fakulteit as een van die mees diverse fakulteite aan die US beskou. Die unieke bydrae wat ons as fakulteit in Afrika maak, is die profetiese tradisie wat ons onderstreep op die terrein van gender, sosiale kohesie en geregtigheid."

Prof Julie Claassens, professor in Ou Testament aan die FT, sê die fakulteit spits hom deur verskeie projekte spesifiek daarop toe om komplekse temas soos menswaardigheid en gender-geregtigheid in die Afrika-konteks akademies verder te ontwikkel.

​ 

Die hooffoto:  Van links staan proff Reggie Nel, Tinyiko Maluleke  en Robert Vosloo.