Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Visuele Kunste student in Parys na sy L’Atelier-prys wen
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 18/02/2019

​​Wat aanvanklik beskou is as 'n aftakelende siekte wat Marguerite Kirsten, 'n magisterstudent in Visuele Kunste, verskeie mediese probleme op die hals gehaal het, was uiteindelik die inspirasie wat dié jong kunstenaar van Blouberg die gesogte Absa L'Atelier-prys van 2018 besorg het.

Kirsten, wat met chroniese niersiekte leef, is tans in Parys, Frankryk, waar sy deelneem aan 'n program vir inwonende kunstenaars by die Cité Internationale des Arts, wat jaarliks tot 300 kunstenaars van oor die hele wêreld inneem. Sy neem deel aan hierdie program danksy die prys wat sy gewen het.

Die L'Atelier-prys word as een van “Afrika se mees gesogte kunswedstryde" beskou, en erken en “beloon jong visuele kunstenaars tussen die ouderdom van 21 en 35 met die geleentheid om hulle talente oorsee te slyp".

Die wedstryd is 33 jaar gelede tot stand gebring, en word deur Absa en die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir die Visuele Kunste (SANAVA) geborg. Inskrywings word uit verskeie oorde van die vasteland ontvang, onder meer Nigerië, Namibië, Suid-Afrika, Botswana, Ghana, Zambië, Kenia, Uganda, Tanzanië, Mauritius, die Seychelle en Mosambiek.

“Ek het glad nie verwag om die prys te wen nie," sê 'n ooglopend gelukkige Kirsten.

“Ek het die aankondiging gehoor, maar nie heeltemal gesnap dat dit ek was nie, totdat iemand gesê het: 'Dis jou naam op die skerm.'"

Haar inwoning by die Cité Internationale des Arts en lewenskoste in Parys word gedek deur haar prysgeld van R330 000. Sy sal gedurende haar tyd by die instituut ook aan kunswerke vir 'n solo-uitstalling werk wat by haar terugkeer in die Absa-galery in Joahnnesburg aangebied sal word.

Nadat sy as een van die top 10 kunstenaars in die wedstryd aangewys is, het Kirsten twee propvol dae in Johannesburg saam met die nege ander finaliste, waaronder Lemeeze Davids, 'n Visuele Kunste-alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), deurgebring. Hier het hulle seminare oor regs-, finansiële en mediakwessies, galerypraktyk en die skryf van kunstenaarsverklarings bygewoon en met die voorste kunstenaars in Afrika skouers geskuur.

“As jy na die beste 100 uitstallings kyk, besef jy daar was soveel ander kunstenaars wat in die top 10 kon eindig. Ek was in die sewende hemel om net die top 10 te kon haal, so ek was ongelooflik geëerd en opgewonde om uiteindelik die Absa L'Atelier-prys te wen."

Kirsten se werk gebruik LED-ligte, mediese onderhoude, koper, laboratoriumglasware en selfs urine om haar eie stryd uit te beeld met 'n “siek liggaam", wat sedert sy vyf jaar oud was reeds aan ingrypende mediese behandeling onderwerp is.

“Ek het met hierdie stuk werk begin in 'n tyd toe ek met my akademie gesukkel het. Die nierskade wat ek op 'n jong ouderdom opgedoen het, het in my tweede studiejaar 'n terugslag in my gesondheid veroorsaak. Skielik het ek geworstel om te aanvaar wat met my aan die gebeur was, en ek was haastig om vir 'n ondersoek te gaan en betyds behandel te word sodat ek my tweede jaar kon voltooi. Nietemin moes ek uiteindelik in die hospitaal opgeneem word, wat natuurlik my akademie beïnvloed het."

Kirsten verduidelik dit het lank geduur voordat sy met haar terugslag kon vrede maak.

“Nierskade kan baie pynlik wees en jy tob gedurig oor of jy genoeg water drink om te keer dat jy ontwater. As 'n student is jy ook dikwels in omstandighede waar alkohol verbruik word en dan moet jy baie versigtig wees oor hoeveel jy inneem. Ek kon ook nie aan sport deelneem nie, want ek het gevaar geloop dat my niere kon dehidreer. So, jou gedagtes is heeltyd by die soort goed wat die meeste ander mense as vanselfsprekend aanvaar."

Hoewel dit moeilik was om haar leefstyl aan te pas, was dit selfs moeiliker om haar dosente om ondersteuning te nader.

“Ek het myself aangeleer om my ervarings te onderdruk, maar uiteindelik het ek 'n punt bereik waar ek myself moes afvra hoe waardig dit nou eintlik was om my lyf te probeer wegsteek. Die realiteit is dat ek met 'n siek liggaam moet saamleef. Ek sê nie dis my identiteit of wie ek is nie, maar dis deel van my identiteit."

“Dit was tyd om my nuwe realiteit en my siekte te aanvaar, en dít het beteken dat ek my doelwitte en verantwoordelikhede moes aanpas," voeg Kirsten by.

Gedurende die onderbreking in haar studie het sy haar toevlug geneem tot die ding waaruit sy nog altyd kon troos put – haar kuns.

“Dit was 'n uiters terapeutiese oomblik vir my, om terug te staan en my af te sny van wat ek besig was om te skep."

Kirsten se ouer suster, ook 'n Visuele Kunste-alumna van die US, is in hierdie tyd met leukemie gediagnoseer, wat tot gedeeltelike nierversaking gelei het. “Sy's nou in remissie, maar haar krag en positiwiteit gedurende daardie tyd was vir my 'n inspirasie."

Toe sy sien hoe taai haar eie suster in haar stryd teen kanker is, het Kirsten begin stoei met “hoe die liggaam deur die sielkundige uitwerkings van die mediese bedryf gestroop word", en spesifiek ook haar eie liggaam.

“Die geluide wat jy hoor as jy na die installasie kyk, is 'n sinspeling op die geluide wat jy gewoonlik in 'n hospitaal hoor, soos 'n hartmonitor, 'n dialise-alarm of 'n ventilator. Jy hoor ook opnames van 'n gesprek tussen my en 'n dokter in die noodeenheid. Dit beeld daardie intieme en ongemaklike gesprekke uit wanneer jy met dokters oor 'n siekte praat."

“Hierdie uitbeelding is 'n poging om krag en waardigheid te verleen aan my liggaam, wat 'n voorwerp en instrument van die mediese instelling geword het. Die kunswerk is 'n aanslag op die sintuie, maar dis 'n waardige en plegtige oomblik, en al kan die kunsinstallasie oorweldigend voel, baie soos 'n siekte, bring dit perspektief vir die kyker." 

Davids, wat 'n BA in Skone Kunste aan die US verwerf het, is op haar beurt saam met Kirsten as een van die top 10 finaliste gekies vir haar beeldhouinstallasie getiteld Thank You for My Lunch. Dit bestaan uit sementpilare met keramiekhouers bo-op sommige. Binne-in die houers is speserye uit haar ma se spens.

“Ek wou graag in hierdie installasie met kos werk, want almal kan hulle daarmee vereenselwig – almal eet en almal het sekere kossoorte waarvan hulle hou en nié hou nie. Dit sal mense help praat oor my kunswerk in plaas daarvan dat hulle vervreemd en geïntimideerd voel omdat hulle dalk 'die verkeerde ding' oor 'n kunswerk kan sê. Heelwat van my werk probeer wegdoen met die kwansuise vreesaanjaendheid van die kunswêreld," verduidelik Davids.

“Dit was ook 'n huldeblyk aan my familie se kosgeskiedenis, veral die kookkuns van my oorlede ouma en oupa, wat daagliks hierdie speserye gebruik het."

“As 'n 'bruin' persoon was daar altyd sterk gekruide geregte, kerrie en lekkergoed in die huis. Hierdie kookkuns kan teruggevoer word tot die vroeë jare van die Hollandse kolonisasie van Suid-Afrika – kos wat my eie hibridiese identiteit en bande met slawerny weerspieël. Ek het die rou bestanddeel geneem, wat juis die rede is waarom die Hollanders om die Kaap gevaar het – speserye – en dit in 'n kaart omskep, 'n installasie waardeur die kyker sy weg kan baan soos wat ek my weg deur my eie geskiedenis moes baan," voeg sy by.

Davids, wat tans vir 'n honneursgraad in Kuratorskap aan die Universiteit van Kaapstad studeer, kan steeds nie glo sy was een van die 10 finaliste nie.

“Ek moet bieg, ek het regtig niks verwag nie. Ek was geskok en baie bly vir Marguerite en myself. Ek het vir die wedstryd ingeskryf, want die mense om my het my aangemoedig om dit te doen, en ek het eers weer daarvan onthou toe hulle my bel om te sê ek het die top 10 gehaal. Ek het steeds gemengde gevoelens oor 'n klomp goed, maar my ma het my perspektief gegee deur my daaraan te herinner dat my benoeming wys mense het potensiaal in my raakgesien en dat ek nie my prestasies voor die voet moet afmaak nie. Ek is ewig dankbaar vir die geleentheid – dit het my aangespoor om aan te hou skep."

Sy het dalk nie verwag om onder die 10 finaliste te wees nie, maar Davids het van jongs af geweet sy sou 'n kunstenaar word.

“In graad 1 het een van my maatjies gesê ek moet eendag 'n kunstenaar word, want ek kon tussen die lyne inkleur. Ek was baie beïndruk met die pluimpie, hoewel ek deesdae selde tussen die lyne inkleur. Later het een van my hoërskoolonderwysers weer my liefde vir kuns laat opvlam, en het ek kuns begin sien as 'n geleentheid om te bevraagteken hoe mense dink."

Noudat sy ook buite die klaskamer kuns skep, het Davids 'n brokkie raad vir jong kunstenaars.

“Dis nie 'n algehele wanopvatting dat menige kunstenaar sukkel om geld te maak nie. Dis 'n baie moeilike terrein. Dis nie soseer dat geld skaars is nie, maar net dat jy ongelooflik toegewyd moet wees aan jou kuns, wat ook geweldig persoonlik is. Jy kan nie moed opgee as dit 'n bietjie moeilik raak nie. Ek dink dit verg baie uithouvermoë, maar as jy eers die kunswêreld betree, is daar reusebedrae geld op die spel."

“Dis beslis moontlik en maklik om 'n volhoubare bestaan te maak, maar dit verg konsekwentheid, konsekwentheid, konsekwentheid! Veral noudat sosiale media en aanlyn inkopies hoogty vier: As jy 'n sterk handelsmerk het, kan jy water aan 'n vis verkoop."

Om 'n finalis in die L'Atelier-wedstryd te wees het Davids vele geleenthede gebied om haarself te ontwikkel.

“Gemeenskap is baie belangrik in die kunswêreld. Ek het soveel ongelooflike mense deur hierdie wedstryd ontmoet, wat my as 'n kunstenaar help groei het. Geen mens is immers 'n eiland nie."

Kirsten voeg by: “Ek dink dit is belangrik om ontluikende kunstenaars aan te moedig om die geleentheid aan te gryp om vir wedstryde soos die L'Atelier in te skryf. Jy het niks om te verloor nie. Ek het twee jaar lank ter wille van myself aan hierdie stuk gewerk – nooit het ek gedink dat ek hierdie gesogte prys sou wen nie."

Foto's: Visuele Kunste-magisterstudent Marguerite Kirsten (tweede van regs in die foto ver regs) het die Absa L'Atelier-prys gewen, en is tans in Frankryk vir 'n program vir inwonende kunstenaars aan die Cité Internationale des Arts in Parys. US-alumna Lemeeze Davids (derde van links in die foto ver links) was ook onder die top 10.