Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vier Archer en Decloedt se onderwysuitnemendheid
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 14/02/2019

Twee senior lektore van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is by die Universiteit Stellenbosch (US) se toekenningsplegtigheid vir onderwys- en navorsingsuitnemendheid vir hul uitnemendheid in onderwys en leer vereer.

Die plegtigheid het op 4 Desember 2018 by die US se Eenheid vir Gevorderde Studie (Stias) plaasgevind.

Dr Elize Archer, hoof van die Simulasie- en Kliniesevaardighede-eenheid by die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO), en dr Eric Decloedt, koördineerder van kliniese farmakologie-onderwys in die Afdeling Kliniese Farmakologie, het elkeen ʼn onderwysuitnemendheidstoekenning ter waarde van R25 000 in die kategorie “Ontwikkelende Onderwyser" ontvang.

Die toekennings is in 2017 ingestel om erkenning aan uitnemende onderwys en leer in hoër onderwys te verleen en ʼn geleentheid te bied om die waarde van nadenkende en kontekstueel bewuste onderwys te erken.

Lektore kan in een van twee kategorieë erkenning geniet: 1) Die “Ontwikkelende Onderwyser"-toekenning vir personeellede met ervaring van tussen drie en tien jaar in onderwys en leer, of 2) die “Uitgelese Onderwyser" vir personeellede met meer as 10 jaar se ervaring.

Aansoekers moet ʼn portefeulje indien wat hul denke oor en bewyse van vier komponente demonstreer: konteks, studente, kennis en professionele groei. Hulle moet ook die lesse beskryf wat hulle geleer het op hul reis om uitnemende onderwysers te word.

Dr Elize Archer

“Ek is baie dankbaar vir die erkenning, want daar is baie ander goeie onderwysers aan die US," het Archer in reaksie op haar toekenning gesê.

“Die samestelling van my portefeulje as deel van my toekenningsaansoek was nogal harde werk. ʼn Mens moet bewyse verskaf om te toon jy is ʼn goeie onderwyser, derhalwe is ek baie bly die harde werk het die moeite geloon! Die toekenning motiveer ʼn mens regtig om meer te doen en dit beter te doen. Ek hoop dit sal ander lektore aanmoedig om ook aansoek te doen."

Archer, wat ʼn agtergrond in intensiewesorgverpleging en -opleiding het, het in 2005 by die US ingeval as hoof van die Simulasie- en Kliniesevaardighede-eenheid van die SGBO. Sy is in 2015 as senior lektor aangestel.

"Ek dra twee hoede wat my huidige onderwysrol betref: Enersyds onderrig ek pasiëntgesentreerde kommunikasievaardighede aan voorgraadse MB,ChB-studente en koördineer en onderrig ek ons meestersgraad in die gesondheidsberoepe-onderwysprogram. Andersyds is ek ook betrokke by fakulteitsontwikkeling in die SGBO, met die oogmerk om lektore toe te rus om meer doeltreffende fasiliteerders van leer te word.

“Ek geniet dit veral om te sien hoe studente oor die jare groei en ontwikkel. Jy leer die mens agter die student regtig ken."

Archer het in 2016 ʼn PhD in gesondheidsberoepe-onderwys verwerf, wat op die onderwys en leer van pasiëntgesentreerdheid by voorgraadse mediese studente gefokus het. In 2017 is ʼn genootskap van drie jaar deur die Sentrum vir Leer en Onderwys aan die US aan haar toegeken, wat haar in staat stel om ʼn deel van haar tyd toe te wy aan die ontwikkeling van ʼn onderwysintervensie wat op empatiese kommunikasievaardighede by voorgraadse studente toegespits is.

“Ek is in die uiters bevoorregte posisie om vir ʼn instelling te werk wat goeie onderwys erken en beloon," sê Archer.

Dr Eric Decloedt

“Dis ʼn groot eer om vir my passie vir onderwys vereer te word," het Decloedt in reaksie op sy toekenning gesê.

“Hierdie toekenning verleen erkenning aan onderwys as ʼn belangrike element van ʼn akademiese skolier en moedig uitnemendheid in onderwys aan. Dit verleen ook erkenning aan die belang en waarde van kliniese farmakologie in die MB,ChB-kurrikulum."

Dis nie die eerste keer dat Decloedt vir sy uitnemende onderwysvaardighede vereer word nie. In 2016 is hy deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Basiese en Kliniese Farmakologie (SASBCP) as die “Opvoeder van die Jaar" benoem ter erkenning van sy bydraes tot uitnemendheid, kundigheid en bewysbare prestasies in farmakologie-onderwys.

Decloedt, wat sedert 2012 kliniese farmakologie aan voorgraadse studente en kliniese assistente onderrig, sê een van sy grootste uitdagings was om farmakologie (wat tradisioneel as ʼn vak ryk aan feite onderrig is), klinies relevant te maak vir studente wat in die Suid-Afrikaanse konteks werk, en om sy interaksie met studente ondanks al hoe groter wordende klasse te behou.

“My primêre onderwysdoelwit is om die noodsaaklike vaardigheid om medikasie rasioneel voor te skryf by mediese studente te vestig. Ek voel sterk daaroor dat mediese graduandi van die US toegerus moet wees om in enige gesondheidsorgfasiliteit in Suid-Afrika te werk."

Decloedt is mal oor die interaksie met studente, veral oor hul spitsvondige antwoorde tydens ligter oomblikke. “Studente bring so ʼn ryk tapisserie van ervaring en kennis na die klas en ek leer voortdurend by hulle."

Hy moedig ander lektore aan om gebruik te maak van die uitstekende hulpbronne wat die US se Sentrum vir Onderwys en Leer bied. “Talle van my inisiatiewe is geïnspireer deur by ander te leer. Wees bereid om deur die proefmetode te leer, gegrond op die kritiek van jou studente en eweknieë. Dit maak vir studente saak hoeveel jy omgee, nie hoeveel jy weet nie. Onthou, jy was ook eens ʼn voorgraadse student. Trouens, ons is almal studente op ons lewenspad."

Onderskrif: Drr Elize Archer en Eric Decloedt saam met die FGGW Visedekaan: Onderrig en Leer, prof Julia Blitz.