Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit stel OPTIMUS-verrykingsprogram bekend
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 13/02/2019

​​​Voorgraadse toppresteerders van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Maandagmiddag (11 Februarie 2019) die bekendstelling van die OPTIMUS-program vir 2019 bygewoon.

Die OPTIMUS-program is daarop gemik om ontwikkelingsgeleenthede aan voorgraadse akademiese toppresteerders in hul tweede en derde studiejare in die fakulteit te voorsien. Die program het 'n langtermynfokus en help studente om holisties te ontwikkel om hulle onder andere in staat te stel om hulself optimaal te posisioneer om vir prestigeryke beurse, internasionale uitruilprogramme en geleenthede op eie bodem en oorsee te kwalifiseer.

Prof Ronel du Preez, visedekaan (leer en onderrig), het die studente verwelkom waar hulle aan die begin van 'n opwindende ontwikkelingsreis staan, en het dr Sharon Malan, koördineerder van die OPTIMUS-program aan hulle voorgestel.

“OPTIMUS is ontwerp as 'n twee jaar lange verrykingsprogram," het dr Malan gesê.

Sowat 33 tweedejaarstudente word jaarliks vir die program gekeur en aan intervensies in die vorm van temas blootgestel. Dié temas sluit die volgende in: akademiese verryking, self- en leierskapsontwikkeling, sosiale impak, professionele en loopbaangerigte oriëntasie asook 'n globale ingesteldheid en innovasie.​

  • ​​Foto: Hierdie groep OPTIMUS-studente se twee jaar lange verrykingsprogram het Maandag afgeskop.