Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ResEd-werksessies betrek nuwe Maties se sosiale bewustheid
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 30/01/2019
​​Die Transformasiekantoor en die Sentrum vir Studentegemeenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) bied reeds sedert die aanvang van verwelkomingsweek verskeie ResEd-werksessies aan. As deel van die ResEd-program woon elke nuwelingeerstejaar aan die US werksessies by oor die drie temas van sosiokulturele bewustheid, leierskaps- en intergroepvaardighede, en 'n ingesteldheid van sosiale innovasie en ontwerp. Hierdie sessies help studente hulle voete vind in 'n nuwe sosiale omgewing, wat moontlik van hulle hoërskole verskil. Die einddoel is om studente aan nuwe denkwyses bloot te stel en hulle die wêreld deur ander se oë te help sien.

Die sessies oor sosiokulturele bewustheid is “Be aware of what's fair", “Dictionary of difference", “The identity map" en “Disable ignorance". Hierdie sessies skep bewustheid van maatskaplike ongelykheid, stel studente aan die terminologie van maatskaplike insluiting bekend, help studente hulle identiteite verken, en bied hulle praktiese maniere om moontlike onvanpaste interaksies met studente en personeellede met gestremdhede reg te stel. 

Die werksessies oor die tema leierskaps- en intergroepvaardighede is “Bystander effect", “Say something?" en “Enabling empathy". Hierdie sessies maak studente attent op omstandighede wat moontlik tot seksuele aanranding kan lei, help hulle op diskriminasie en onbewuste vooroordeel reageer, en leer hulle oor empatie en die rol daarvan in die US-gemeenskap.

Die derde tema, 'n ingesteldheid van sosiale innovasie en ontwerp, bestaan uit die sessies “Changing behaviour through innovation" en “Social media 4 good". Deelnemers ontvang 'n scenario of stel sosiale omstandighede waarin hulle groepsgedrag met behulp van sosiale ontwerp moet verander. 'n Gesimuleerde sosialemediaproefneming word ook gebruik om te verken hoe innoverende sosiale media ingespan kan word om die samelewing ten goede te beïnvloed.

Die ResEd-werksessies bied Matie-nuwelinge 'n gemengde omgewing waarin hulle aktief kan skakel en oor hulle ervarings kan gesels, wat hulle in staat stel om nuwe vriende in hulle koshuise of privaatstudenteorganisasies te maak. Die sessies is saamgestel deur Babalwa Gusha (Programkoördineerder: Transformasiekantoor), Yeki Mosomothane (Multikulturele Opvoeder en Koördineerder: Sentrum vir Studentegemeenskappe) en Monica du Toit (voormalige Direkteur: Transformasie), met bydraes van kollegas deur die hele US. 'n Span studenteleiers wat almal goed vertroud is met die US-gemeenskap is vroeg in 2019 opgelei om die werksessies aan te bied. By elke sessie kan 'n paar gelukkige eerstejaars ook kussingslope wen met ontwerpe wat die onderwerpe van die werksessies uitbeeld, soos geslagsneutrale terminologie en die betekenis van toestemming. ​

 
US studente en personeel kan die Transformasiekantoor 'like' en volg op op Facebook en Twitter vir meer fotos wat geneem is by die ResEd werksessies