Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom nuweling-Maties
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 25/01/2019

Meer as 5 000 nuwelingstudente, vergesel deur hul ouers, is Donderdag, 24 Januarie 2019 by die Universiteit Stellenbosch (US) se amptelike verwelkomingsgeleentheid in die Danie Craven-stadion welkom geheet.

Pret, musiek, 'n formele verwelkoming en 'n menslike uitbeelding van die syfer 2019 was deel van die program by die belangrike geleentheid op die Universiteit se jaarlikse kalender. Na afloop van hierdie aktiwiteite het die studente en hul ouers aan 'n optog vanaf Coetzenburg na die ikoniese Victoriastraat op die kampus deelgeneem.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het by die amptelike verwelkoming gesê die nuwelinge is nou deel van 'n universiteit waar drome gekoester word, nuwe drome gestalte kry en waar studente die geleentheid het om hul drome te verwesenlik.

WelcomingDreamSocial_HalloMaties2019-38.jpg
“Julle is nou deel van 'n nuwe gemeenskap – die Matie-gemeenskap. Binne hierdie oorkoepelende gemeenskap is julle in 'n koshuis of PSO-groep en daardeur val julle in 'n kluster. Hierdie stelsel is doelbewus só ontwerp dat elkeen van julle deel van 'n sosiale netwerk sal wees wat julle in staat sal stel om gesamentlik te leer, om in diverse groeperings te woon en aan 'n wye reeks stemme blootgestel te word."

Hy het studente ook aangemoedig om aktiewe vennote te wees en beheer oor hul lewens te neem terwyl hulle op universiteit is. “Julle gaan uitgedaag word soos nog nooit tevore nie – nie net akademiesgesproke nie, maar ook op ander maniere. Julle gaan met nuwe denkwyses en maniere van doen gekonfronteer word, 'n verskeidenheid van mense en idees, en dit is hoe dit veronderstel is om te wees. Universiteit is die beste plek om die lewe te ondersoek en tot nuwe insigte saam met ander te kom."

WelcomingDreamSocial_HalloMaties2019-32.jpg

Me Carli van Wyk, voorsitter van die Studenteraad (SR), het ook die nuwe studente by die amptelike geleentheid verwelkom. Sy het hulle aangemoedig om dapper te wees, om groot te droom en dit buite hul gemaksones te waag. “Moenie vir die geleentheid wag om hom voor te doen nie, skep die geleentheid en gryp dit aan. Die Universiteit Stellenbosch is nie net 'n podium om 'n graad te behaal nie, maar ook 'n plek vanwaar jy 'n wêreldburger kan word. Julle word talle geleenthede gebied om uit te blink en om die mandaat te aanvaar om die oplossing te wees. Laat jul drome en jul potensiaal vlamvat. Ontlont jul roeping. Die Universiteit Stellenbosch verwelkom julle!"

Na afloop van die formele verwelkoming het die nuwe Maties van die stadion af na Victoriastraat gestap as deel van 'n “Droomlansering" wat die begin van hul reis by die US om hul drome te realiseer, gesimboliseer het. Die studente het elkeen 'n kaartjie ontvang waarop hulle hul drome vir hulself kon neerskryf.

WelcomingDreamSocial_HalloMaties2019-51.jpg WelcomingDreamSocial_HalloMaties2019-60.jpg

Die kaartjies is by verskeie punte langs die roete in Victoriastraat opgesit waar dit vir die volgende paar dae teen die bome – waarvan die stamme in verskillende kleure materiaal toegedraai is – sigbaar sal wees vir almal wat Victoriastraat langs sal ry of stap.

Nuwelingstudente kan ook meer inligting op die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, vind. Dit bevat al die nodige inligting oor die hele week se verwelkomingsprogram, asook oor die registrasieskedule, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek en gratis skryfhulp. 


Foto deur Stefan Els.