Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Broer en suster ontvang saam meestersgraad
Outeur: Jacobie M. Helena
Gepubliseer: 28/12/2018

“Dis 'n groot voorreg om so 'n besonderse oomblik met my broer te deel. Die gradeplegtigheid is nie net 'n viering van ons studies nie, maar om ook ons gesamentlike groei as individue en ons verhouding as broer en suster te vier."

Só sê Nathania Hendriks (29) oor die feit dat sy en haar broer Tiaan (27) op Vrydag 14 Desember tydens dieselfde gradeplegtigheid meestersgrade in onderskeidelik teologie en ingenieurswese ontvang het.

Dié suster en broer van Upington kon mekaar met die uitdagings wat meesterstudies inhou, ondersteun. Hulle vertel saam: “Eerstens is dit belangrik om te noem dat ons die afgelope vier jaar reeds 'n woonstel deel. Ons kon daarom van die begin van ons meesterstudies mekaar ondersteun. Ons het vir mekaar klankborde geraak waar ons ons werk aan mekaar kon verduidelik om kongruente argumente in ons tesisse te formuleer."

Nathania vertel dat hulle mekaar kon ondersteun deur vir mekaar kos te maak wanneer hulle laat aande moes werk.

Nathania en Tiaan koester die tye wat hulle saam op Stellenbosch kon deurbring. Tiaan sê: “Ons het die geleentheid gehad om mekaar te leer ken as jong volwassenes nadat beide van ons in die koshuis was tydens hoërskool en voorgraadse studies."

Nathania is dankbaar dat hulle in mekaar se sosiale lewe kon deel. “Ons het mekaar se vriende en vriendinne leer ken, wat vir my besonders was," sê sy.

En wat hou die toekoms vir dié dinamiese broer en suster in? Terwyl Tiaan die werkende wêreld in Kaapstad betree gaan Nathania volgende jaar haar praktiese gemeentejaar by Stellenbosch-Wes gemeente doen. Nathania sal ook deeltyds as tutor by die Fakulteit Teologie werk.

Dit is egter nie die einde van hul studieloopbane nie. Nathania beoog om verder met 'n PhD aan te gaan en Tiaan met 'n tweede meestersgraad in elektriese ingenieurswese wat hy reeds einde 2019 wil voltooi.

 

Fotograaf: Stefan Els