Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ek is ʼn beter mens weens die US gemeenskap,' sê teologie gegradeerde
Outeur: Jacobie M. Helena/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 13/12/2018

Mphumezi Hombana (42) het sopas sy tweede meestersgraad in teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang, ten spyte daarvan dat almal hom van dié studierigting afgeraai het.

“Waar ek vandaan kom oordeel mense jou na gelang van die graad wat jy in die hand het. Die graad wat jy verwerf moet vir jou geld maak. Ek het dáárom aanvanklik vir grade in ingenieurswese en rekeningkunde onderskeidelik ingeskryf, maar belangstelling verloor en dit gestaak," sê Hombana.

Hombana, wat in die Moses Mabida-informele nedersetting naby Kirkwood grootgeword en skoolgegaan het, sê: “Die lewe in 'n informele nedersetting in die 1970-1980's was moeilik. Ek en my vriende wou nie skool toe gaan nie. Ons het gerook, gedrink en soms het my ouers nie eers geweet waar ons was nie. Die standaard van die opleiding wat ons ontvang het, was nie goed genoeg nie. Ons het Engels in isiXhosa geleer."

Hy het egter later by kerke betrokke geraak en geroepe gevoel om teologie te studeer.

“Ek het tot my skaamte besluit om teologie te studeer. Ek was glad nie trots daarop nie, omdat ek geweet het dat die mense by die huis nie sou dink dit maak genoeg geld nie. Selfs my skoolonderwyser, wat ons aangemoedig het om verder te studeer, het gesê dat ek iets anders met my lewe moes doen," sê hy.

Hombana het in die vroeë 2000's Wes-Kaap toe verhuis om tersiêre opleiding by 'n plaaslike teologiese seminarie naby die Kaapse Vlakte te begin.

Maar dit was nie maklik nie. “Ek moes tydens my voorgraadse studies as algemene werker in 'n tekstielfabriek gewerk het om kop bo water te hou," sê Hombana.

Omdat Hombana weet teologie is sy “belangstelling en roeping" het hy volgehou.

Vandag is hy dankbaar dat hy deel van die US-gemeenskap kan wees. “Dit is vir my wonderlik om toegang tot wonderlike hulpbronne en die mense in Stellenbosch te hê. Studies by die US was beslis 'n leerkurwe vir my en is baie opwindend. Ek het 'n gemeenskap van vriende by die Fakulteit Teologie wat vir my soos familie voel. Ek is 'n beter mens omdat ek deel van die US-gemeenskap is," sê hy.

Mphumezi woon tans saam met sy vrou en twee dogters in Gugulethu waar hy pastoor in die Gugulethu Baptiste Kerk is. Hy begin in 2019 met sy PhD aan die US.

 

 Foto: Stefan Els