Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Musiekgegradueerde deel haar passie met plaaslike gemeenskap
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/12/2018

Vir Marlise Theron is die daaglikse skep van musiek nie meer die enigste dryfveer in haar lewe nie.  Om tyd te bestee deur musiek aan jong kinders van die Cloetesville-gemeenskap op Stellenbosch te leer, het groter waardering vir haar ambag meegebring en haar meer doelgerig gemaak om haar passie met ander wat minder gelukkig is as sy te deel.

Theron, wat van Stellenbosch afkomstig is, het die graad BMus in Musiekopvoeding cum laude Donderdag (13 Desember) op die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe verwerf.  Sy is ook 'n ontvanger van die 2018 Konserwatorium Stipendium – die Departement Musiek aan die US se hoogste verering vir sy mees uitsonderlike student.

Theron sê: “My hele lewe draai om musiek.  Ek is werklik passievol oor musiek en musiekopvoeding.  Ek is uiters gelukkig in dié sin dat my passie iets is wat ek bestudeer, wat my laat ontspan en wat ek graag met ander mense deel".

Theron, en ander studente van die Departement Musiek, het tydens hulle studietermyn deelgehad aan die ATKV se Abbasorg en die Rietenbosch-projek. Dié projek is daarop gerig om voorskoolse studente en laerskoolleerders in die Cloetesville-gemeenskap op te lei.  Dit is deur Danell Muller, 'n dosent aan die US se Departement Musiek, begin en sy en Theron, Rozelle Wilken, Jolandi Hanekom, Chandre Windvogel, Rachel Mertens en Jessica October, het gehelp om sowat R60,000 vir die Primêre Skool Rietenbosch in te samel deur 'n musiekkonsert aan te bied.

Theron sê: “Musiekopvoeding is so 'n ontsaglike ryk veld.  Ek meen dit is 'n edele kuns om dit te beoefen, want jy is met 'n enorme verantwoordelikheid belas om voort te gaan met die maak van musiek en dit aan die volgende geslag oor te dra."

Benewens haar betrokkenheid by die Rietenbosch-projek, het Theron ook gehelp om die 2018 Con Serve Eisteddfod te organiseer en te fasiliteer vir die breër Stellenbosch-gemeenskap, waar onder 80 deelnemers, insluitend 'n 76-jarige vrou uit die Stellenbosch-gemeenskap haar debuut gemaak het. Dit het duidelik geblyk dat haar werk in die gemeenskap van Cloetesville bygedra het tot die skep van wedersydse vertroue en goeie verhoudings tussen mense waardeur hindernisse, wat gemeenskappe te lank geskei het, uit die weg geruim is.

Verder sê Theron: “Musieklesse kan as 'n voorreg en nie 'n noodsaaklikheid nie vir talle mense beskou word.  Met tye wanneer jy 'n musiekstudent is, kan dit vir jou voel asof jy binne 'n borrel leef, waar jy jou instrument beoefen, en jy is ten volle betrokke by jou eie professionele wêreld van musiek maak. Die ATKV Abbasorg en Rietenbosch-projek is 'n wonderlike gemeenskapsinisiatief en dit was 'n fantastiese ervaring om deel daarvan te wees."

Theron glo dat meer musiekstudente dit moet oorweeg om Musiekopvoeding te bestudeer aangesien dit aan 'n mens 'n groter perspektief op die lewe bied en 'n wonderlike en verrykende ervaring is.

Sy stel haar punt so: “Ongelukkig is daar nog nie baie mense wie se keuse Musiekopvoeding is nie.  Die toekoms vir Musiekopvoeding in hierdie land is ongelooflik rooskleurig en die geleenthede is eindeloos. Om Musiekopvoeding te bestudeer, maak eerlikwaar van 'n mens die volledige musikant.  Daar bestaan 'n wanopvatting dat diegene wat uitvoerings lewer, suksesvol is, wyl dit met diegene wat Musiekopvoeding bestudeer die teenoorgestelde is.  Studie in Musiekopvoeding verhoed nie dat jy steeds met jou musiekloopbaan kan voortgaan nie en dit open vir 'n mens 'n groter musikale wêreld."

Theron is aanvaar om aanstaande jaar (2019) 'n honneursgraad in Viool-uitvoering te bestudeer en sy hoop van harte om voort te gaan om haar passie vir musiek met die wyer Stellenbosch-gemeenskap te deel.

Foto deur Stefan Els.