Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
POCA-wet tandeloos teen bendes, meen kenner
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/12/2018

Wat het inwoners van die Kaapse Vlakte, Westbury in Johannesburg en die Noordelike gebiede van Port Elizabeth in gemeen? Hulle leef in konstante vrees omdat bendelede daagliks mekaar en onskuldig mense doodskiet.

En hoewel baie oplossings al voorgestel is om bendes in toom te hou, is een van die grootste probleme die ondoeltreffendheid van teenbende-wetgewing.

Só meen dr Delano van der Linde van die Fakulteit Regte aan die Noordwes-Universiteit. Hy het Donderdag (13 Desember 2018) sy doktorsgraad in Kriminele Reg by die sesde gradeplegtigheidseremonie van die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeplegtigheid verwerf.

“Die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (oftewel die POCA-wet), wat ingestel is om onder meer georganiseerde misdaad, geldwassery en kriminele bende-aktiwiteite te bestry, was tot op hede onvoldoende om kriminele bendes in toom te hou weens verskeie tekstuele, institusionele en grondwetlike tekortkominge," sê Van der Linde wat die studie gedoen het omdat kriminele bendebedrywighede en die vervolging daarvan ingevolge die POCA-wet nie behoorlik ontwikkel en ondersoek is nie.

“Dit het duidelik geword dat hoewel kriminele bende-aktiwiteite disproporsioneel tot beide nasionale en (die Wes-Kaap) provinsiale misdaadstatistieke bydra, die studie van sulke aktiwiteite vanuit 'n regsperspektief heeltemal afgeskeep is. Dit was dus nodig om ʼn omvattende ondersoek te doen oor waarom ons teenbende-wetgewing nie werk nie en wat moontlik gedoen kan word om die situasie reg te stel."

Van der Linde het die wetgewende geskiedenis van die POCA-wet en elke misdaad en straf ingevolge dié Wet omvattend ontleed. Hy het gevind dié Wet is in wese soortgelyk aan die gemenereg en ewe ondoeltreffend om bendebedrywighede te stop. Hy wys ook daarop dat die POCA-wet veronderstel was om die gemenereg aan te vul omdat laasgenoemde nie die wyse waarop bendes funksioneer, kon ontwrig het nie.

“Behalwe vir miskien die misdaad van bendewerwing, voeg die POCA-wet nie veel by tot die arsenaal van gemeenregtelike misdade soos sameswering, aanhitsing, openbare geweld en die regsbeginsel rakende die uitvoering van ʼn gemeenskaplike doel, wat groepgebaseerde misdaad kan aanspreek nie. Misdade wat in die POCA-wet gelys word, is basies dieselfde as gemeenregtlike oortredings."DelanovdLinde.jpg

Van der Linde meen die ondoeltreffendheid van die POCA-wet word beklemtoon deur die toenemende aantal bendeverwante moorde. Hy wys daarop dat sowat 21,6% van alle moorde in die Wes-Kaap gedurende die 2017/18-boekjaar aan bendegeweld toegeskryf is.

“Nog ʼn probleem met die POCA-wet is dat die strawwe vir bendelede ook uiters lig is  ̶  van drie tot agt jaar (wat verhoog kan word deur verswarende faktore soos bendeverwante misdade naby skole) of die alternatief van 'n boete."

Van der Linde sê daar is ook verskeie ander kwessies inherent aan die POCA-wet wat maak dat die aanwending daarvan potensieel onregverdig kan wees teenoor persone wat beskuldig word van oortredings in Hoofstuk 4 van die Wet, wat spesifiek oor kriminele bende-aktiwiteite handel.

“Die POCA-wet is te breed en onduidelik as gevolg van moontlike interpretasie (s) van 'kriminele bende' en 'kriminele bende-aktiwiteit'. Hierdie is 'oop' definisies en 'n hof hoef nie noodwendig daarby te hou nie."

“Gevolglik kan 'n hof persone ingevolge die POCA-wet skuldig bevind hoewel hulle streng gesproke nie as sodanig skuldig is nie. Dit is onbillik teenoor persone wat potensieel binne die bestek van dié Wet val omdat hulle nie voldoende gewaarsku is oor watter tipe gedrag as ontwettig beskou word nie."

Van der Linde voeg by dat een van die vonnisverhogings of verswarrende faktore in die POCA-wet ongrondwetlik is en die vryheid van assosiasie skend.

“Artikel 10 (3) maak dit moontlik om 'n persoon se vonnis vir enige misdaad te verhoog bloot omdat hy of sy 'n bendelid is. ʼn Bendelid wat aan 'n spoedoortreding skuldig bevind word, kan dus swaarder gestraf omdat hy of sy 'n bendelid is."

“Dit is arbitrêr en irrasioneel om iemand se vonnis opgrond hiervan te verhoog. Artikel 10 (3) moet beperk word tot bendeverwante misdade. Dit moet gewysig word sodat dit slegs van toepassing kan wees op bendelede (of aktiewe deelnemers) wat misdade gepleeg het 'tot voordeel van, in opdrag van of in assosiasie met enige kriminele bende'."

Bendeleiers

Van der Linde sê verskeie strategieë van buitelandse en internasionale reg kan deel van ons regstelsel gemaak word. In sommige gevalle is slegs 'n nuwe toepassing van die gemene reg nodig, voeg hy by.

Met verwysing na internasionale strafreg maak hy voorstelle en stel meganismes voor vir 'n nuwe manier waarop bendeleiers vir misdade wat deur hul ondergeskiktes gepleeg is aangespreeklik gehou kan word.

“Ingevolge internasionale strafreg kan leiers van militêre- en burgerlike organisasies aanspreeklik gehou word vir die dade van hul ondergeskiktes en ook waar sulke dade gepleeg is. Soortgelyke maniere van aanspreeklikheid kan maklik deelgemaak word van die Suid-Afrikaanse reg."

“Die gemenereg skryf byvoorbeeld strafregtelike aanspreeklikheid voor vir nalatigheid of pligsversuim, soos om 'n gevaarlike situasie te skep en nie die vooruitspruitende skade te voorkom nie. Bendeleiers kan aanspreeklik gehou word vir die skep van 'n gevaarlike situasie ('n bende) en omdat hulle nie heeltemal verhoed het dat skade daaruit voortspruit nie."

Van der Linde meen hierdie wysiging kan dit vir die Staat makliker maak of te bewys dat sekere misdade in opdrag van bendeleiers gepleeg is.

“In gevalle waar 'n bendelid 'n misdaad in opdrag van 'n leier pleeg, kan die leier aanspreeklik gehou word asof hy of sy self die misdaad gepleeg het. Hierdie gemeenregtelike metodes is baie makliker om te bewys as die moeilike statutêre skema ingevolge die POCA-wet."

Hy sê sy studie bied ook ʼn omvattende gids vir die interpretasie van die teks van POCA-wet en maak verskeie substantiewe en noodsaaklike voorstelle vir die wysigings aan die teks.

“Wysigings aan die definisies van 'kriminele bende' en 'bendebedrywighede' word geformuleer wat dit verpligtend maak vir die howe om nie daarvan af te wyk nie."

“Hoofstuk 4 van die POCA-wet steun ook swaar op vorige skuldigbevindings en hoorsê wat normaalweg ontoelaatbare vorme van getuienis is. Die insluiting hiervan kan dus tot ʼn onregverdige verhoor lei indien die Staat nie op die toepaslike wetgewing vir dié insluiting steun nie."

Van der Linde stel ʼn bepaling voor wat soortgelyk is aan dié in Hoofstuk 2 van die POCA-wet wat die insluiting van hierdie tipe getuienis toelaatbaar maak.

Hy sê daar moet erns gemaak word met die tekstuele, institusionele en grondwetlike tekortkominge van die POCA-wet ten einde kriminele bendebedrywighede doeltreffend aan te spreek, en ook om die beskuldigde se grondwetlike reg op 'n regverdige verhoor te beskerm.

Van der Linde is krities teenoor die nuutgestigte teenbende-eenheid en sê dit is bloot 'n kleefpleister en 'n tydelike oplossing vir 'n groter sosio-ekonomiese probleem.

“Daar is gerapporteer dat tot 85% van die polisiekantore onderbeman is en ander bendebrandpunte  disproporsioneel onderbeman is in vergelyking met gebiede soos Stellenbosch met 'n laer misdaadsyfer."

Van der Linde moedig akademici, gemeenskapsleiers en die burgerlike samelewing aan om meer te doen om verdere wetgewende ingryping te motiveer.

“Die toename in die aantal bendeverwante voorvalle (veral moorde) toon dat die Staat nie sy grondwetlike plig nagekom het om landsburgers teen alle vorme van geweld te beskerm nie."

Van der Linde sê die drie takke van die regering (die uitvoerende-, wetgewende- en regterlike gesag) sal die meeste baat by sy studie.

“Mense van die Kaapse Vlakte sal uiteindelik baat vind indien my voorstelle geïmplementeer word."

Hy beplan om sy navorsingsbevindinge aan die Parlement en die Regshervormingskommissie voor te lê.

  • Hooffoto: Sommige van die bendes se gereedskap. (Pixabay)
  • Foto 1: Dr Delano van der Linde by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Delano van der Linde

Fakulteit Regte (Vaal-kampus)

Noordwes-Universiteit

​Tel: 016 910 3634

E-pos: Delano.vanderLinde@nwu.ac.za

        UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za