Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Projek Zero-befondsing help Matie-drome verwerklik
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/12/2018

Vir baie voornemende universiteitstudente en hul ouers is die las van studiegeld iets wat hulle snags wakker hou. Gelukkig kan 'n hele aantal studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) hul studie sonder finansiële kommer of studieskuld voltooi vanweë befondsingsinisiatiewe soos Projek Zero.

In 2015 het die Fakulteit 'n inisiatief bekend as Projek Zero geloods om die werklike koste van studie aan die US vir talentvolle studente tot 'n nulbedrag af te bring. Projek Zero-beurse, tesame met die Universiteit se werwings- en merietebeurse, dek die ontvangers se studie-, verblyf- en lewenskoste.

By die 2018 Desember-gradeplegtigheid gaan vyf Projek Zero-ontvangers hul graad behaal. Kamir Arjun (BRek), Salona Burdhu (BCom Aktuariële Wetenskap), Levern Fortuin (BRek), Panashe Hakutangwi (BCom Aktuariële Wetenskap) en Aishah Karaan (BRek) sal almal hul onderskeie grade ontvang.

ProgramGrads.jpg
 

(In die foto bo: Panashe Hakutangwi)

Volgens Kamir het die Projek Zero-beurs hom gehelp om sy droom van 'n graad in die besigheidsveld te verwerklik. “Ek is lief vir die sakewêreld, dit fassineer my absoluut. Vandat ek 'n klein seuntjie was, het ek produkte gemaak en dit verkoop. Ek het toe al geweet dat ek 'n stel vaardighede benodig wat my kan bemagtig om gesonde finansiële besluite te neem sodat ek as 'n volwassene finansieel vry kan wees, en dit het my op die reis geneem om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word."

Kamir sê die beurs het ook al sy finansiële laste verwyder en hom gehelp om 'n meer verrykende Matie-ervaring te hê. “Projek Zero het een van my grootste finansiële uitgawes ‒ studieskuld ‒ uitgewis. Die beurs het my die gemoedsrus gegee om te kan studeer sonder om my hoef te bekommer oor hoe ek my studie sal kan bekostig."

Ná die gradeplegtigheid beplan Kamir om vir 'n honneursgraad in Rekeningkunde aan die US in te skryf, en hy hoop om eendag mentorskap te gee aan studente wat ook die pad van geoktrooieerde rekenmeester wil volg.

Die befondsing deur Projek Zero het Salona Burdhu laat voel sy is deel van 'n merkwaardige familie. “Dit het my gehelp met netwerkgeleenthede, omdat ek ander beursontvangers kon ontmoet wat in dieselfde vak gestudeer het, en oor die jare het ons 'n ondersteuningstruktuur geskep en herinneringe saam met wonderlike vriende gemaak."

ProgramGrads-3.jpg
 

(In die foto bo: Salona Burdhu)

Salona beplan ook om 'n honneursgraad in Aktuariële Wetenskap aan die US te volg en hoop om in die toekoms voldoende ervaring op te doen sodat sy eendag innovasies in die aktuariële beroep kan invoer.

Levern en Aishah sê hulle sou nie hul doelwitte kon bereik sonder die beursfinansiering nie. “Project Zero het my gemotiveer om deurlopend hard te werk tydens my studies, sonder die gewig van studenteskuld op my skouers. Die koste van tersiêre opleiding is 'n voortdurende stryd en baie kan nog steeds nie die universiteitsdeure binnegaan nie omdat hulle nie die middele het om dit te bekostig nie. Project Zero het dié deure vir my oopgemaak sodat ek daardie voordele kan maai," sê Aishah.

Levern beplan om volgende jaar haar studie aan die US voort te sit en hoop om haar kwalifikasies in werksgeleenthede in die buiteland te gebruik.

Die Projek Zero-beurs is op die akademiese meriete van swart, bruin en Indiër-studente gebaseer. Indien jy tot die Projek Zero-inisiatief wil bydra, of om 'n beurs wil aansoek doen, kontak gerus die Fakulteitsbestuurder, MJ Brooks, by tel 021 808 2078 of mjbrooks@sun.ac.za, vir meer inligting.

Fotos deur Stefan Els.

In die hoof foto van links na regs: Levern Fortuin, Kamir Arjun, Aishah Karaan.

__________________________________________________________________________________

Ander stories oor die Projek Zero-beurs is by:

http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5532

http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3977