Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Dr Nyasha Magadzire van Zimbabwe ken van vasbyt
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 13/12/2018

​Na voltooiing van haar meestersgraad in Geoinformatika in 2011 aan die Universiteit Stellenbosch (US), het dr Nyasha Magadzire (31) na haar geboorteland, Zimbabwe, teruggekeer met die hoop dat sy werk sou vind en haarself weer daar sou kon vestig, maar die vertrek uit die RSA het 'n jaar van werkloosheid tot gevolg gehad.

“Daardie selfde jaar het my studieleier vir my meestersgraad, prof Helen de Klerk, my aangemoedig om aansoek te doen om 'n PhD-pos wat deur die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk (SAEON) geadverteer is.  My aansoek was suksesvol maar die besluit om na Suid-Afrika terug te keer, was vir my maar 'n bittersoet een aangesien ek toe maar pas getroud was."

Nyasha, wat 'n agtergrond in Geografie en Omgewingstudies het, vertel dat haar werk vir haar PhD van haar vereis het om heelwat te delf in ekologie en statistiek.  Dit was vir haar 'n reuse-aanpassing, maar sy het darem daarin geslaag om kop bo water te hou.

“My studieleiers was ontsaglik behulpsaam en ondersteunend; hulle is erg passievol oor onderrig en gee mildelik van hulle tyd om aan jou hulp te verleen," sê sy.

Nyasha sê dit was glad nie 'n maklike taak om terselfdertyd eggenote te wees en ook aan 'n PhD-graad te werk nie.  Gelukkig kon haar man ook na Suid-Afrika verhuis en het ook verder begin studeer aan die US.

“In 2016 het ons 'n baba gehad."

Sy beskryf dié tydperk as dol, aangesien daar by haar twyfel begin ontstaan het of die koms van 'n baba so te midde haar pogings om 'n PhD te verwerf negatief op haar studies sou inwerk, en meer nog omdat sy besig was om met behulp van 'n beurs haar studie in rekordtyd te voltooi.

“Ek het maar so ietwat die pas makeer wat betref die aankondiging oor my swangerskap, want ek was bekommerd dat dit moontlik sou maak dat ek my studies sou moes staak."

Tot Nyasha se groot verligting, was haar studieleiers egter buitengewoon ondersteunend en het daartoe ingestem dat sy teen haar eie pas voortgaan om 'n balans te vind tussen die beoogde PhD en moederskap.

Nyasha se navorsing het gefokus op die rol van brand in die modellering van fynbossoorte, veral in die lig van klimaatverandering; dit het verskeie interessanthede na vore gebring, soos hoe sterk 'n invloed brand het op die verspreiding van fynbossoorte, watter plante waarskynlik die meeste kwesbaar is vir veranderinge in klimaat asook in tye van brand, en nog verskeie ander.

“Die punt van die navorsing was om ons begrip van die dryfkrag en onderliggende ekosisteem-prosesse te verbeter wat die plantegroeiverspreiding in die Kaapse Floristiese streek uitmaak.