Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Natuurwetenskappe verwelkom Michael Hoefnagel by Biowiskunde
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 11/12/2018

Dr Michael Hoefnagel, 'n Nederlander van geboorte, het by die derde gradeplegtigheid op 11 December 'n PhD-graad by die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang. Sy ouers het na Suid-Afrika verhuis toe Michael nog 'n kleuter was, en het hom en sy sibbe op Hermanus grootgemaak.

Hy het werk gekry as 'n skrynwerker in 'n fabriek in Soutrivier, Kaapstad, waar hy die meeste van sy vrye tyd daaraan bestee het om wiskundige probleme te skep en meganika en fisika te ondersoek en te verken.

Hoefnagel sê toegepaste wiskunde en fisika het hom gefassineer. “Ek was vreeslik nuuskierig oor die vreemdste goed, soos hoe 'n yskas en 'n enjin werk."

In sy eerste jaar aan die US het Hoefnagel sy hoofvak na Rekenaarwetenskap verander nadat hy 'n kursus in programmering gevolg het. Dít was volgens hom die heel beste ding wat hy in sy studieloopbaan gedoen het.

Hy het die meeste van sy navorsing vir sy magistertesis in Italië onderneem. Nadat sy navorsingsvoorlegging in België goeie terugvoering ontvang het, het sy studieleier hom aangeraai om sy magistertesis in 'n PhD-proefskrif om te skakel.

Hoefnagel het daardie selfde jaar ook 'n klasaanbiedingskursus in Biowiskunde gevolg, waarmee hy vyf maande se klasgee-ervaring kon opdoen. Toe sy navorsing klaar was, het hy as 'n tydelike dosent in Biowiskunde begin werk, en kort voor lank het daar 'n vakature in die Fakulteit Natuurwetenskappe ontstaan.

“Ek het daardie geleentheid met albei hande aangegryp en al die nodige stappe vir die keurings- en onderhoudproses gevolg. Ek begin in Januarie 2019 met my nuwe werk as dosent vir eerstejaars."

Hoefnagel sê die hoogtepunt van sy studie aan die US was om 'n ervare en ondersteunende studieleier te hê wat hom deur uitdagings gelei het wat hy nooit gedink het hy sou kon hanteer nie.

“Ek voel trots daarop om te kan gradueer, en ek's bly om 'n tree nader daaraan te kan kom om myself as 'n akademikus te professionaliseer. Boonop is ek baie opgewonde oor my loopbaan as 'n wiskundige.

“Wat uitstaan van my tyd hier was dat dit my in staat gestel het om onafhanklike, oorspronklike navorsing te doen. 'n Mens het dikwels idees waarvan daar uiteindelik niks kom nie. Maar met my studieleier aan die stuur, kon ons gelukkig 'n goeie bydrae lewer deur juis daar te kyk waar ander mense nié het nie."