Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US spog wéér met meer Maties wat graadvang
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 07/12/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) ken wéér vanjaar ʼn rekordgetal grade en diplomas toe by sy Desember-gradeplegtighede – 5769 in vergelyking met 5720 in 217 en 5300 in 2016. Daar is ook weer 'n toename in die aantal doktorsgrade (149) en magistergrade (546).

Agt seremonies word vanaf Maandag 10 tot Vrydag 14 Desember 2018 in die Coetzenbergsentrum op Stellenbosch gehou.

Vier eredoktorsgrade word ook toegeken: aan prof Homi K Bhabha, die wêreld se voorste postkoloniale literêre teoretikus verbonde aan Harvard in die VSA; prof dame Glynis Marie Breakwell, voormalige visekanselier van die Universiteit van Bath wie se bydrae tot die sosiale sielkunde van wêreldbelang is; mnr Lesetja Kganyago, President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) én voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee; en regter Zak Yacoob, ʼn uitmuntende regsgeleerde op die gebied van menseregte en staatsreg (skakel na meer inligting oor die ontvangers).

Bhabha ontvang die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, Breakwell die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa (beide op Do 13 Des om 17:30), Kganyago die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa (Ma 10 Des om 17:30), en Yacoob die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD), honoris causa (Do 13 Des om 10:00).

Die US verleen jaarliks eredoktorsgrade om erkenning te gee aan uitnemendheid op ʼn verskeidenheid vakterreine en om sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap te identifiseer. Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Bill Gates, Antjie Krog, Helen Suzman, Athol Fugard, Tito Mboweni, Naledi Pandor, David Kramer, Thuli Madonsela, Edwin Cameron en Mervyn King tel onder die ontvangers van US-eregrade.   

Die skedule van die Desember-gradeplegtighede is soos volg:

  • Maandag 10 Desember om 17:30: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (vir 'n B-groep)
  • Dinsdag 11 Desember om 10:00: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en om 17:30: Fakulteit Natuurwetenskappe
  • Woensdag 12 Desember om 10:00: Fakulteite Opvoedkunde en Krygskunde en om 17:30: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (vir 'n A-groep)
  • Donderdag 13 Desember om 10:00: Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (slegs Drama, Musiek en Visuele Kunste); AgriWetenskappe en Regsgeleerdheid (uitgesluit BA Regsgeleerdheid, BCom Regsgeleerdheid en BRekLLB) en om 17:30: Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (ingesluit BA Regsgeleerdheid, maar uitgesluit Drama, Musiek en Visuele Kunste)
  • Vrydag 14 Desember om 10:00: Fakulteite Teologie en Ingenieurswese.

Die Universiteit gee ook tydens die gradeplegtighede erkenning aan van sy voorste akademici en ander personeellede.

Parkeerplek op Stellenbosch

Daar word swaar verkeer op al die hoofweë na Stellenbosch verwag sowel as in die dorp self. Graduandi, ouers en vriende word vriendelik versoek om vroeg te arriveer om verkeersopeenhopings te vermy en om parkeerplek te kry.

Gaste moet genoeg tyd toelaat om hul voertuig te parkeer en na die Coetzenburg-sentrum te stap. Gaste word aangeraai om tydens die stap ʼn hoed te dra en om ongegeurde gebottelde water saam te bring. Let asseblief daarop dat kos, koeldrank en gegeurde water nie in die Sentrum toegelaat word nie.

Kaartjiesisteem

Aangesien sitplek in die Coetzenburg-sentrum beperk is, en die US aan nasionale wetgewing en munisipale ordonnansies moet voldoen, word slegs ʼn spesifieke aantal sitplekkaartjies vir gaste per graduandus* toegeken.​ Meer inligting hier

Graduandi met gestremdhede

Graduandi wat as gevolg van ʼn gestremdheid, besering of siekte nie in staat is om die trappe na die verhoog te klim nie, moet die Kliëntedienssentrum by 021 808 9111 skakel of info@sun.ac.za e-pos om reëlings te tref dat hul grade op die Sentrumvloer aan hulle toegeken word.

Videostroming

Al die gradeplegtighede kan regstreeks aanlyn gekyk word: besoek www.sun.ac.za/streaming