Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mediese studente gaan 902 km fietsry om ‘vriende te help dokters word'
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 28/11/2018

'n Groep mediese studente van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan van 1 tot 8 Desember 2018 'n ambisieuse 902km fietstoer van Vioolsdrift aan die Namibiese grens tot by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, aanpak.

Op Dinsdag 27 November 2018, was dit 'n 100 dae sedert die bekendstelling van die US se #Move4Food-veldtog – 'n studente-geïnspireerde inisiatief wat daarop gemik is om voedselbanke op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse te vestig om te verseker dat geen Matie-student vir die volgende drie jaar moet honger ly nie.

“Ons doelwit om die R10 miljoen in te samel om volhoubare voedselbanke by die Universiteit te vestig, is steeds 'n prioriteit," sê me Karen Bruns Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumniverhoudinge. “Alhoewel ons nog nie ons teiken bereik het nie, ontvang ons op verskillende vlakke baie positiewe ondersteuning. Om hierdie rede het ons besluit om die veldtog tot 19 April 2019 te verleng ten einde studente, alumni en vriende van die Universiteit verdere geleentheid te gee om te help om die teiken te haal."

Ons wil ons vriende help om dokters te word

Die projek is 'n inisiat​ief van Breda Reed, 'n Namibiese burger en derde jaar mediese student op die Tygerberg-kampus en vier van sy medestudente. “Ons wil ons vriende help om dokters te word. Ons dink nie dit is regverdig dat sommige studente uitval omdat hulle nie toegang tot basiese noodsaaklikhede het nie."

  • Kyk na 'n video wat die studente gemaak het, hier.

Die studente se doel is om R100 000 in te samel en hulle doen 'n beroep op veral diegene in die mediese professies om by te dra tot 'n fonds om te verseker dat hul mede-mediese studente nie finansieel uitgesluit word nie. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, wat self 'n mediese agtergrond het, ondersteun die inisiatief ten volle en sal saam met die groep van Stellenbosch na Franschhoek ry.

De Villiers het vroeër vanjaar die Kaapstadse Fietstoer voltooi om fondse vir beurse in te samel.

“Dit is werklik bemoedigend om die passie en entoesiasme van ons personeel, studente en alumni te sien om studentesukses by die US te help verseker. Die passie waarmee hierdie jong mans iets wil doen om die uiters relevante kwessie van studente finansiële nood die hoof te bied, is inspirerend," sê De Villiers.

Die groep bestaan uit Breda Reed (Windhoek), Mias Marais (Ceres), Luke Titus (Worcester) en Christoff Greyling (Durbanville) – almal mediese studente en Wonderboy Nkosi (Nelspruit) 'n student in dieetkunde.

ROETE

30 November: Reis vanaf Tygerbergkampus na Vioolsdrift

1 Desember: Vioolsdrift na Springbok - 120km

Vertrek om 04:00, arriveer na verwagting om 11:30

2 Desember: Springbok na Garries - 118km

Vertrek om 04:00, arriveer na verwagting om 11:30

3 Desember: Garries na Vanrynsdorp - 148km

Vertrek om 03:00, arriveer na verwagting om 11:45

4 Desember: Vanrynsdorp na Citrusdal - 133km

Vertrek om 03:00, arriveer na verwagting om 11:00

5 Desember: Citrusdal na Malmesbury - 112km

Vertrek om 04:00, arriveer na verwagting om 10:30

6 Desember: Malmesbury na Tygerbergkampus - 63km

Vertrek om 04:00, arriveer na verwagting om 08:00

7 Desember: Tygerbergkampus na Caledon (Via Stellenbosch en Franschhoek) - 133km

Vertrek om 04:30, arriveer na verwagting om om 06:00 in Stellenbosch; om 08:00 in Franschhoek en om 12:00 in Caledon

​8 Desember: Caledon na Kaap Agulhas - 110km

Vertrek om 04:00, arriveer na verwagting om 10:30