Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 26 November 2018)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 28/11/2018

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 26 November 2018 sy vierde en laaste geskeduleerde vergadering van die jaar gehou.

Ons kan terugkyk op ʼn historiese jaar met veral twee mylpale wat uitstaan: die herdenking van die US se totstandkoming 100 jaar gelede, en die aanvaarding van ʼn nuwe visie en strategiese raamwerk wat die grondslag vir die toekoms lê.

Soos wat die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, in sy verslag uitgewys het (klik hier), was 2018 tot dusver nóg ʼn uitstekende jaar vir die US, hoewel daar ook uitdagings was. Die Raad is tevrede dat die Universiteit op koers is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word – soos die US se nuwe visie weliswaar lui.

By Maandag se vergadering het die Raad die Universiteit se begroting vir 2019 goedgekeur, waaronder aanpassings aan personeelvergoeding en studentegeld. Ons het ook 'n hersiene Statuut aanvaar en ʼn bygewerkte Institusionele Plan en fakulteitsvernuwingsplanne goedgekeur. Boonop het ons ʼn nuwe Raadslid verwelkom en van 'n ander afskeid geneem.

Lees gerus meer hieroor sowel as oor ander besluite en besprekingspunte hieronder.

Sterkte met die laaste verpligtinge van 2018. Geniet die rustyd wat voorlê, en kom veilig terug vir die eerste jaar van ons tweede eeu!

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

 

Begroting 2019

Die Raad het op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee (UK[R]) die Universiteit se geïntegreerde begroting vir 2019 en finansiële beplanning vir die tydperk 2020 tot 2024 goedgekeur. Die vernaamste aspekte sluit die volgende in:

  • Studiegeld styg met 5,3% (en nie 7% soos wat aanvanklik beplan is nie, want die jongste verwagte styging in die staatsubsidie vir 2019 blyk genoegsaam te wees om die US in staat te stel om aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding [DHOO] se versoek te voldoen om die verhoging tot die verbruikersprysindeks te beperk).

  • Studentehuisvestingsgeld styg met 7,3% (in die lig van die hoër kostefaktore wat met studentebehuising gepaardgaan).

  • Personeelvergoeding styg met 6,3% vir diegene wat in die beoordelingsiklus van 2018 ʼn prestasiepunt van 3 of meer behaal het (synde ʼn inflasiegekoppelde aanpassing).

Fakulteitstoewysings gaan voort volgens die ooreenkoms met die onderskeie fakulteite. Die perk van 10% op reserwes in US-omgewings sal in die eerste helfte van 2019 in werking gestel word.

In die lig van die bykomende staatsubsidie kom die US se totale geïntegreerde begroting op R6,3 miljard te staan. Die Raad het met waardering kennis geneem van die bykomende staatsfinansiering, maar ook kommer uitgespreek oor die voortgesette onsekerheid en finansiële risiko's in die hoëronderwyssektor.

Die goedkeuring van die begroting is onderworpe aan finale bevestiging van die staatsubsidie vir 2019. Derhalwe het die Raad ingestem dat die Rektor en die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad enige begrotingswysigings goedkeur wat moontlik uit die bevestiging van die staatsubsidie kan spruit, ná oorlegpleging met die voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. Indien daar egter 'n beduidende afwyking is, moet die Raad self enige begrotingswysigings oorweeg.

Fakulteitsvernuwingsplanne

Die Raad het die finale vernuwingsplanne van die fakulteite Opvoedkunde sowel as Lettere en Sosiale Wetenskappe goedgekeur, en sy tevredenheid daarmee uitgespreek dat dié fakulteite nou finansieel en sistemies meer volhoubaar is as in 2016, toe uitdagings geïdentifiseer is. Die Raad het ook sy waardering oorgedra aan prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, wat die vernuwingsproses gelei het. Maandelikse beheerkomiteevergaderings het in die twee fakulteite plaasgevind en talle aanbevelings is reeds met goeie gevolge in werking gestel.

Hoogtepunte van die finale vernuwingsplanne volg hieronder:

Opvoedkunde

  • ʼn Nuwe dekaan sal teen die beplande teikendatum van 1 Julie 2019 aangestel word. (Prof Johan Malan neem tans waar as dekaan ná ʼn vroeëre besluit deur die Rektoraat om die aanstellingsproses uit te stel tot nadat vernuwing klaar beplan is.)

  • Die Departement Sportwetenskap verskuif na die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, waar dit beter inpas weens ontwikkelings op die vakgebied die afgelope paar jaar.

  • Stappe wat reeds vrugte afwerp, sluit in:

    • die beperking van besteding aan lae-inkomstemodules;

    • die hersiening van modules;

    • steun om die deurvloei van M- en D-studente te verbeter;

    • die hersiening van die Sentrum vir Hoër en Volwasseneonderwys se finansiële model;

    • kommersialisering van opvoedkundige sielkunde; en

    • steun om publikasieuitsette te verhoog, waar dit nodig is.

Lettere en Sosiale Wetenskappe

  • Kommersialisering van die Adam Small Teaterkompleks

  • Verbetering van die pypleiding van M- tot D-grade

  • Sentrale beskikbaarstelling van die Konservatorium en ander ruimtes

  • Vernuwing of uitfasering van geïdentifiseerde programme

  • Stappe wat reeds vrugte afwerp, sluit in:

    • die staking van leningsbesteding;

    • die besnoeiing van uitgawes;

    • die verhoging van kursusgeld vir sekere programme, reeds van vanjaar af;

    • omvangryke akademiese programvernuwing;

    • die konsolidasie van voorgraadse modules; en

    • geen magisterprogramme met minder as tien studente-inskrywings nie.

Die Raad het versoek dat vorderingsverslae by sy vergadering op 25 September 2019 dien.

IKVK verhoog

Die Universiteit se indirekte kosteverhalingskoers (IKVK) op derdegeldstroominkomste sal ter wille van finansiële volhoubaarheid van 17% tot 20% styg noudat die Raad op aanbeveling van die Institusionele Forum en Senaat ʼn hersiene beleid hieroor goedgekeur het. ʼn Taakgroep onder leiding van prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie (VR:NINS), het die vorige beleid sedert Desember 2016 stelselmatig hersien. Belanghebbendes is wyd geraadpleeg en talle werksessies het plaasgevind.

Soos wat tot dusver die geval was, geld die nuwe koers van 20% vir alle bruto inkomste uit navorsing (met óf sonder ʼn kontrak), konsultasiedienste, borgskappe, konferensies en kortkursusse. Ook die reëling met betrekking tot toerusting bly onveranderd, naamlik dat slegs die eerste R1 miljoen van buitefinansiering vir toerustingaankope aan die IKVK onderworpe is.

Wat geborgde leerstoele betref, is die IKVK op akademici se salarisse steeds net 10%, hoewel die normale koers vir die ander personeelkoste en lopende uitgawes van die leerstoel sal geld. Die IKVK op gesekondeerde poste bly ook 10%.

Geen IKVK word gehef op merietepryse, beursfinansiering óf bona fide-skenkings wat deur middel van die US se Ontwikkelingskantoor gemaak word nie. Die ledegeld wat sportklubs by US-studente invorder, asook drukkersfooie en handboekverkope deur die Afdeling Studentegeld is ook van die IKVK vrygestel.

Staatsfinansiering in die vorm van subsidies of geoormerkte toekennings is eerstegeldstroominkomste en is dus nie aan die IKVK onderworpe nie. Die IKVK geld egter wél vir alle ander staatsfinansiering, soos enige ander derdestroominkomste. Die US sal nietemin steeds die beperkings eerbiedig wat enkele finansieringsagentskappe op indirekte kosteverhaling plaas.

Kragtens nasionale wetgewing oor intellektuele eiendom is indirekte kosteverhaling op derdestroominkomste verpligtend vir instellings wat openbare geld ontvang. Dit is van toepassing op indirekte koste soos regsdienste, finansiële dienste, menslikehulpbrondienste, navorsingsdienste, inligtingstegnologiedienste, biblioteekdienste, korporatiewe kommunikasiedienste, bankkoste en ouditfooie, sowel as bystand met intellektuele eiendom.

Van die indirekte koste wat sodoende verhaal word, gaan 72% na die hoofbegroting, 27% na die fakulteit of ander omgewing waar die derdestroominkomste verdien word, en 1% na die navorsingsfonds in die NINS-verantwoordelikheidsentrum (VS).

Die nuwe beleid tree op 1 Januarie 2019 in werking, en word weer oor drie jaar hersien.

Institusionele Plan 2019–2024

'n Bywerking van die US se Institusionele Plan (IP) moet teen 15 Desember elke jaar by die DHOO ingedien word. Die IP dek 'n rollende tydperk van ses jaar, wat in dié geval 2019–2024 sal wees. Prof Klopper het vanjaar se bywerking voorgehou aan die Raad, wat dit goedgekeur het.

Die bygewerkte IP strook met die US se nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, wat in Junie deur die Raad aanvaar is. Sekere aspekte van die nuwe raamwerk waaraan daar nog gewerk word, soos strategiese bestuursaanwysers, sal by die volgende plan (IP 2020) ingesluit word.

Die samestelling van die IP het in Oktober 'n aanvang geneem. Die proses is aansienlik vergemaklik deurdat VS'e en fakulteite se omgewingsplanne, die nuwe strategiese raamwerk en die IP nou sterker met mekaar verband hou.

Leer en Onderrig

By hierdie Raadsvergadering was dit die beurt van die Viserektor: Leer en Onderrig (VR:L&O), prof Arnold Schoonwinkel, om oor bedrywighede in sy VS die afgelope jaar verslag te doen. Klik ​hier vir sy volledige verslag (wat ook op 23 November voor die Senaat gedien het), en ​hier vir ʼn verkorte aanbieding.

Prof Schoonwinkel het uitgewys hoe die strategiese fokusse van sy VS aansluit by die US se visie en strategiese raamwerk wat in Junie goedgekeur is. Ál ses die US se nuwe kern strategiese temas word bevorder. Hoogtepunte sluit die volgende in:

Transformerende studente-ervaring

  • Die US het vanjaar R500 miljoen in voorgraadse beurse en lenings uitbetaal, waarvan R114 miljoen uit die Universiteit se hoofbegroting gekom het, en 68% aan bruin, swart Afrikaan-, Indiër- en Asiër- (BSIA-) toegeken is.

  • Toegang word verbreed en sukses word terselfdertyd gehandhaaf. Volgens die DHOO het die US die tweede laagste uitsakkoers (8% teenoor die nasionale gemiddeld van 15%) en die hoogste deursetkoers (84% teenoor die nasionale gemiddeld van 66%) van alle universiteite in die land.

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

  • Die US se projek vir die ingebruikneming van IKT in leer en onderrig, wat R358 miljoen bedra, gaan nou sy vyfde jaar binne. Op Stellenboschkampus is 232 (83%) van alle klaskamers nou reeds met WiFi toegerus, met genoeg bandwydte om kennisbronne aanlyn te bekom.

Navorsing vir impak

  • Die US het vanjaar ʼn nuwe Onderrig- en Leerbeleid gekry wat dosente aanmoedig om hulle in die akademieskap van onderrig te verdiep. Die onderrig- en navorsingsfunksie word al hoe meer op gelyke voet erken.

Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke

  • Die US se telematikaskoolprojek het vanjaar sowat duisend skole in agt provinsies bereik met aanvullende kurrikulumsteun vir leerders in graad 10, 11 en 12. Dít verbeter matriekslaagsyfers en verbreed universiteitstoegang.

Voorkeurwerkgewer

  • Deur middel van talle inisiatiewe kry US-akademici die geleentheid om hulle as opvoeders uit te leef, en ontvang dosente erkenning.

ʼn Florerende US

  • Inkomste uit leer en onderrig maak meer as 80% van die US se hoofbegroting uit.

  • Danksy sy akademiese reputasie lok die US topstudente. Agt uit tien van ons nuwelingeerstejaars vanjaar het na ons toe gekom met ʼn gemiddeld van meer as 70% in graad 12.

Hersiene Statuut aanvaar

Die Raad het ʼn hersiene Statuut vir die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar wat nou vir goedkeuring aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding voorgelê sal word. Die dokument is die produk van ʼn uitgebreide oorlegplegingsproses wat in Augustus 2017 begin het. 'n Taakgroep onder leiding van die Registrateur, dr Ronel Retief, het met deskundiges saamgewerk om die Statuut te hersien, wat ook gedurende ʼn maand lange proses van openbare deelname vir kommentaar beskikbaar gestel is. Daar was 12 werksessies, en belanghebbendes soos fakulteitsrade, die Studenteraad en die uitvoerende komitee van die Konvokasie is ook geraadpleeg. ʼn Leeskomitee van die Raad, met prof Sandra Liebenberg van die Fakulteit Regsgeleerdheid as sameroeper, het advies gebied oor aspekte soos die struktuur, inhoud en toepaslikheid van die hersiene Statuut. Adv Andrew Breitenbach SC het gesertifiseer dat die dokument aan die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996) en die Wet op Hoër Onderwys (1997) voldoen. Uiteindelik is die sesde weergawe van die hersiene Statuut deur die Institusionele Forum (IF), Senaat sowel as die Uitvoerende Komitee (UK[R]) en Sosiale en Besigheidsetiekkomitee (SBK) van die Raad aanbeveel. Die bestaande Statuut bly van krag totdat die Minister die hersiene dokument goedgekeur en in die Staatskoerant gepubliseer het.

Taalkomitee van die Raad

Die Raad het terugvoering ontvang van sy Taalkomitee, wat die VR:L&O se verslag oor die implementering van die Universiteit se Taalbeleid bestudeer het. Verantwoordelikheidsentrums en fakulteite het tot die verslag bygedra.

Die Raad se Taalkomitee het ook met waardering kennis geneem van die aktiwiteite wat op 28 September ter viering van Taaldag by die Universiteit aangebied is.

Op aanbeveling van die Taalkomitee het die Raad die fakulteite se verslae oor hul gebruik van die taalmodusse in 2018 aanvaar. Die voorsitter van die Taalkomitee, adv Jean Meiring, het opgemerk dat daar oor die algemeen weinig klagtes oor taalimplementering van personeellede en studente ontvang is, en dat implementering betreklik moeitevry geskied. Daar blyk ook ʼn tendens te wees dat al hoe meer studente onderrig in Engels verkies.

Fakulteite se taalimplementeringsplanne vir 2019 is ook aanvaar, met dien verstande dat besonderhede oor die taalmodus van elke modules aan Raadslede voorsien sal word. Ook die VS'e se taalverslae vir 2018 en taalimplementeringsplanne vir 2019 is aanvaar.

Daarbenewens het die Raad aanbevelings oor verdere taalmeningsopnames in aansluiting by die twee van 2017 aanvaar. Dít sluit in ʼn aanbevole taalmeningsopname onder dosente, steundienspersoneel en voorgraadse studente, ʼn peiling oor die afskaling van tolkbenutting, sowel as oor die ervaring en voorkeure van studente wat na die parallelmediumopsie oorskuif. Met die oog op aanstaande jaar is dosente ook versoek om duidelik vooraf met studente oor die toegeeflike gebruik van meer as een taal in die klas te kontrakteer, waar dit van toepassing is.

Aanstellings en ledesake

Die Raad het prof Niel Krige van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge in die raad van die Stellenbosch Trust aangestel.

Die Raad het ook kennis geneem van die Gesamentlike Aanstellingskomitee se verslag oor prof Louise Warnich se heraanstelling as Dekaan: Natuurwetenskappe vir 'n tweede termyn van vyf jaar met ingang van 1 Februarie 2019.

Die Raad het 'n nuwe lid, dr Tsakani Ngomane, verwelkom nadat die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding haar vir die tydperk 1 Oktober 2018 tot 30 September 2022 aangestel het. Dr Ngomane het 'n PhD (cum laude) in Landbouvoorligting en -onderwys aan die Pennsilvanië-staatsuniversiteit in die Verenigde State verwerf. Sy is 'n beleidvormer met uitgebreide ervaring in die hoër onderwys. Sy het voorheen as adjunkdirekteur-generaal in die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie gedien, en is tans adjunkdirekteur-generaal van klimaatsverandering, luggehalte en volhoubare ontwikkeling in die Departement van Omgewingsake.

Terselfdertyd het die Raad afskeid geneem van mnr Lwando Nkamisa, uittredende SR-voorsitter, wat sy laaste Raadsvergadering bygewoon het. Die Raad het sy waardering uitgespreek vir mnr Nkamisa se gereelde bywoning van vergaderings en waardevolle bydraes, en hom sterkte toegewens met die voltooiing van sy magisterstudie.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir 25 Maart 2019 belê.

-o0o-

Onderskrif: Van links, die Raadsvoorsitter mnr George Steyn, nuwe Raadslid dr Tsakani Ngomane, en Rektor en Visekanselier Prof Wim de Villiers. (Foto: Stefan Els).