Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oasis bevorder uitnemendheid en sukses
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/11/2018

​As deel van ʼn omvattende inisiatief wat Suid-Afrikaanse leerders en studente op alle vlakke ondersteun – van programme vir die vroeë kinderjare tot nagraadse studies – het die Kaapstad-gebaseerde Oasis Crescent Fund Trust hul verbintenis met die Universiteit Stellenbosch (US) uitgebrei.​

Dié fonds wat reeds nou bande met die Universiteit se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gesmee het, bied nou ook volle beurse aan studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Hierdie jaar bied hulle ʼn volledige ondersteuningspakket – insluitend die betaling van universiteitsgeld en geld vir boeke, sowel as die voorsiening van ʼn mentorskap‑ en werkplasingsprogram – aan sewe studente aan die Universiteit. Twee van hulle studeer medies en die ander vyf is ingeskryf om ekonomie en bestuur te studeer.

Die fonds is deur die Oasis‑groep, wat ʼn reeks beleggingsprodukte en ‑dienste bied, gestig omdat hulle oortuig is privaatsektorsteun is deurslaggewend vir onderwys. Dié maatskappy beskou onderwys as ʼn onmisbare pilaar in die land se ontwikkeling as  ʼn nasie.

Die fonds gebruik ʼn holistiese benadering wanneer hulle hul keuse maak van wie om te ondersteun. Beurse word op grond van akademiese prestasie toegeken en psigometriese evaluering wat die kognitiewe vermoëns en emosionele en persoonlike sterkpunte van voornemende studente meet, word ook ingespan. Ná keuring word die akademiese prestasie van die gekose studente deurlopend gedurende die akademiese jaar geëvalueer.

Die beurse maak voorsiening vir die volle onderriggeld vir die duur van die studies, wat voor‑ en nagraadse vlakke insluit, onderworpe aan die studente se prestasie, en dek die koste van alle voorgeskrewe boeke en materiaal.

Die Oasis‑beurspakket bied ook voorligting en ʼn reeks werk‑ en uitreikgeleenthede. ʼn Mentor wat leiding en akademiese ondersteuning bied, word aan elke student toegewys. Twee keer per jaar, gedurende vakansietye, word werkplasings van twee weke lank gedoen wat met die studente se studievelde ooreenstem.

Nadat die beursstudente gegradueer het, kan die Oasis‑groep hulle werk aanbied wat ʼn internasionale plasing by een van die firma se wêreldwye vennote kan insluit.

Daarbenewens word begunstigdes aangemoedig om in hul gemeenskappe terug te ploeg deur aan uitreikaktiwiteite deel te neem wat as deel van die maatskappy se openbare bystandsinisiatief gereël word.

Mediese gegradueerdes wat deur die fonds geborg word, neem aan ʼn gesondheidsbewusmakingsprogram deel wat aan beide die firma se werknemers en lede van die plaaslike gemeenskap aangebied word.

Oasis het ook vroeë kinderjare‑ontwikkeling as ʼn belangrike deel van ontwikkeling in die onderwysveld geïdentifiseer, en het oor die R5 miljoen vir ontwikkeling van dié sektor bewillig.

 “In sy geheel streef die program daarna om uitnemendheid en sukses te bevorder en harde werk en prestasie te beloon,” sê Juwairia Mallick, wat die fonds se beurse administreer. “Breër gesien, die doelwit is om tot die groei en uitbreiding van die vaardigheidsbasis in Suid-Afrika by te dra.”

Sedert die fonds se stigting in 2002 deur wyle professor Fatima Meer, het die program meer as 100 beurse op tersiêre vlak toegeken en finansiële steun aan 48 skoolleerders verskaf. Tans bied die fonds bystand aan 32 universiteitstudente en 29 leerders.

 “Ons Matie‑studente is van ons toppresteerders en oortref die beursvereistes jaar na jaar,” sê Juwairia.

Die sukses van die program het onlangs tot ʼn vergadering oor die smee van nouer bande tussen die fonds en Maties gelei. Die vergadering is bygewoon deur die Hoof Uitvoerende Beampte, Adam Ebrahim, en die Ondervoorsitter van Oasis Group Holdings, Nazeem Ebrahim, en die Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Ingrid Woolard, en Candice Egan wat fondse vir die Universiteit by maatskappye en die regering werf.

 “Ons wil ons blootstelling aan en betrokkenheid by die US vergroot, vandaar die uitbreiding van ons interaksie,” verduidelik Juwairia.

Dit is voorgestel dat meer Matie‑studente by die huidige lys van Oasis-geborgde studente gevoeg word.​