Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ciucci-beurse verander drome in bereikbare doelwitte
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/11/2018

​'​n Beurs is die ekwivalent van ’n sleutel – ’n instrument wat studente se potensiaal ontsluit en hulle in staat stel om die doelwitte wat hulle vir hulself gestel het, te bereik. Dit is veral waar vir Kelly Turner van Strandfontein en Thembalethu Seyisi van Uitenhage, die eerste ontvangers van die Ciucci-beurse, toegeken deur die Stella Stigting.​

Die stigters van die Stella Stigting, Giuseppe en Kathleen Ciucci, is albei alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) se Regsfakulteit en ondersteun die Fakulteit al vir ’n hele paar jaar met beurse en deur die Ciucci Regsontwikkelingsinisiatief.              

Die doelwit van die Ciucci-beurse is om minderbevoorregte studente in staat te stel om ’n uitstaande akademiese kwalifikasie te verwerf wat hulle uiteindelik sal bemagtig om ’n positiewe bydrae tot die land te maak.

Kelly, wat vir ’n BA Regte-graad studeer, en Thembalethu, wat ingeskryf is vir ’n LLB-graad, is albei baie dankbaar, nie net omdat hierdie volle beurs die finansiële las van hul studies verlig nie maar ook omdat dit hul drome in bereikbare doelwitte verander het.

Kelly, wat aan die Hoërskool Norman Henshilwood gematrikuleer het, se omstandighede het haar genoop om regte te studeer. “Ek het baie vriende gehad wat seksueel aangerand is en swak regshulp ontvang het en ek het die behoefte gesien vir meer regsoptrede in die land. Ek wil die land wat ek my huis noem, verbeter en in staat wees om die dinge wat my grief, aan te spreek.”             

Thembalethu, wie se ma oorlede is toe hy in graad 7 was, het in 2014 Kaapstad toe getrek om by sy ouer suster te woon en sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Oaklands te voltooi. Sy inspirasie om regte te studeer, het ontstaan nadat hy oudpresident Nelson Mandela se biografie A long walk to freedom gelees het.                          

“Ek glo regte is ’n edel beroep en dat ’n regsgraad deure vir my sal oopmaak om in die openbare ruimte te beweeg waar ek ander mense kan help. Die leierskap in SA is tans baie teleurstellend en dit motiveer my om te volhard.”    

Hy glo dat elkeen ’n verantwoordelikheid het om te doen wat hulle kan in hul sfeer van invloed om die situasie in Suid-Afrika te verbeter.              

Thembalethu se begeerte om ’n rol in die openbare sektor te speel, is verder aangemoedig deur hierdie beurs. Hy haal Madiba aan wat gesê het: “It is in your hands to create a better world for all who live in it”. Vir Thembalethu is die donateurs ’n ware versinnebeelding van hierdie woorde.

“Hulle het die wêreld ’n beter plek vir my gemaak en daarvoor is ek baie dankbaar.”           

Kelly sal ook ’n impak op haar gemeenskap en die breër samelewing wil maak.      

“Ek wil graag ’n prokureur, uitgewer en eienaar van ’n stigting/liefdadigheidsorganisasie wees. Ek wil ’n liefdadigheidstigting met die naam FLAG (Fight Like A Girl) begin, wat daarop gemik is om vroue en kinders wat die slagoffers van misbruik is, hetsy seksueel, fisiek of emosioneel, op te hef. Ek wil ook kinders in misdaad-geteisterde gebiede (soos my woonbuurt) aanmoedig om in die skool te bly.         

“Ek weet waar ek in die toekoms wil wees en wat ek wil hê en ek weet dat ek dit nie sonder ’n graad kan doen nie. Toe ek hoor dat ek ’n ontvanger van hierdie beurs is, is ek gevul met ’n reuse-dankbaarheid.”            

Volgens Kathleen Ciucci was hulle baie beïndruk met die studente se positiewe houding.

“Hulle is baie volwasse en ook gewillig en in staat om hard te werk. Dit is ’n plesier om tyd saam met hulle deur te bring en te luister na hul entoesiasme vir hul studies, die regte en die toekoms van Suid-Afrika. Ons is dankbaar dat ons in ’n situasie is om op só ’n manier iets aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap terug te gee. Ons glo dat albei hierdie studente die potensiaal het om leiers van die toekoms te wees en ons sien uit daarna om hulle te sien groei en ontwikkel.”​