Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Chirurge bring vreugde tydens Smile Week
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 28/11/2018

Daar is van oor tot oor geglimlag toe die afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie, in samewerking met die Duitse NRO, Big Shoe, vroeër vanjaar 11 rekonstruktiewe operasies tydens die Tygerberg-hospitaal se “Smile Week" uitgevoer het.

Die prosedures sluit in operasies om kinders met 'n gesplete verhemelte en ander gesigsteurings te help, asook 'n seldsame prosedure waartydens 'n sesjarige pasiënt, wat met 'n Tessier 10 gesplete verhemelte gebore is, ʼn operasie ondergaan het om die toestand te herstel.

Smile Week, wat deur die Smile Foundation-NRO bedryf word, vind al jare lank landwyd plaas. Die Tygerberg-hospitaal werk sedert 2008 saam met hulle. Big Shoe, wat in 2006 tydens die Wêreldbeker-toernooi in Duitsland van stapel gestuur is, samel geld in vir kinders wat rekonstruktiewe operasies in Afrika benodig.

Dr Alexander Zühlke, waarnemende hoof van die afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie, het gesê die resultate van die prosedures is lewensveranderend, nie net vir die jong pasiënte self nie, maar vir hul hele familie.

“Dit is iets wat ek gereeld doen – ons doen elke Vrydag geborgde operasies by Tygerberg-hospitaal – maar enige geleentheid om 'n suksesvolle operasie te doen wat ʼn kind help om ʼn normale lewe te lei, is na my mening fantasties. Dit is werklik bevredigend.

“Smile Week of ʼn Big Shoe-geleentheid is soos ʼn gewone Vrydag op steroïede. Ons het baie kinders saam in die saal en baie van hulle ouers is ook daar. Dit is ʼn goeie geleentheid vir die ouers om met mekaar te gesels, en dit word ʼn informele ondersteuningsgroep. Daar is baie spanning en opwinding en dit is altyd 'n spesiale geleentheid.

“Wat altyd verbasend is, is om die gesigte van die kinders en hul ouers ná die operasie te sien. Ons verduidelik altyd vir hulle wat ons gaan doen tydens die operasie, maar dit is moeilik vir hulle om dit te visualiseer. Daar is verskillende reaksies – van verbasing tot oorweldigende gevoelens - van beide die kinders en hul familie. Dit is net so bevredigend vir die chirurge en ander personeel wat by die bedrywighede betrokke is."

Die kinders wat tydens ʼn tipiese Smile Week geopereer word, is van die Wes-Kaap. “Ongeveer een uit elke 1 000 kinders word met ʼn gesplete lip of verhemelte gebore," het Zühlke gesê.

“Die Smile Weke is baie belangrik. As ons nie dit of die Vrydag-teater lyste gehad het nie, sou dit baie langer geneem het om die nodige operasies te doen. Die waglyste sou langer word, en die kinders sal op 'n later stadium geopereer moet word, wat nie ideaal is nie.

“Hierdie spesiale weke bied die kinders en hul ouers tyd en ruimte wat net vir hulle is, waar hulle op die regte tyd geopereer word en die regte behandeling ontvang na hul operasies."

Tydens ʼn Smile Week vind daar 'n verskeidenheid ander aktiwiteite plaas wat gemik is op die kinders en hul ouers. “Behalwe vir die rekonstruktiewe prosedures word daar ook sielkundige ondersteuning aan die pasiënte en ouers gebied.  ʼn Privaat-sielkundige berei die pasiënt en hul ouers voor vir die operasie, aangesien dit ʼn stresvolle en soms traumatiese ervaring kan wees, alhoewel dit ʼn gelukkige einde het," het Zühlke gesê.

"Soms tydens Smile Week ontvang die verpleegsters ook opleiding in vaardighede soos wondbestuur en -verbinding.

“Dan is daar gewoonlik ʼn partytjie vir die kinders, waartydens vrywilligers met hulle kom speel; ons het gesig-verf en ander aktiwiteite, en die kinders kry geskenksakkies wat items soos pajamas, ʼn tandeborsel en ʼn sagte speelding bevat."