Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties se Eeufeeswyn nou beskikbaar – met die druk van ’n knoppie
Outeur: Martin Viljoen/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 27/11/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het pas 'n beperkte reeks Pinotage bekendgestel as deel van die herdenking van sy eeufees.

Slegs 2000 bottels, elk individueel genommer, van dié amptelike eeufeeswyn, die “Eeufees Pinotage", is deur die US se Welgevallen-kelder gebottel.   

Die US het onlangs met die aanlyn-winkel Takelot.com saamgespan om die Eeufees Pinotage aanlyn beskikbaar te maak.

Mnr Riaan Wassung, wynmaker van die Welgevallen-kelder, sê die wyn is van die beste Pinotage-wingerde van die Welgevallen plaas gemaak en is dus uitstekende gehalte met 'n donker robynrooi kleur. “Die wyn het intense rooibessie- en subtiele houtverwante aromas. Die wyn is volrondig, met 'n ferm dog sagte tannienstruktuur met 'n goeie suurheid en lang nasmaak. Die wyn behoort nog vir 5 jaar by 'n koel temperatuur te kan verouder."

'n Skoot geluk

In die 1920's was prof Abraham Izak Perold die eerste professor in Wingerdkunde aan die US. In sy huis, geleë langs die Welgevallen-kelder, het hy Pinot noir en Cinsault noir (of 'Hermitage' soos dit genoem was) druiwe kultivars gekruisteël om die eerste Pinotage saailinge te skep.

In 1927 het hy 'n betrekking by die KWV in die Paarl aanvaar en die vier saailinge wat hy gekweek het, is agtergelaat. Later het 'n jong kollega van Perold, dr Charlie Niehaus, toevallig verby die woning gery waar werkers besig was om die tuin skoon te maak. Niehaus kon die saailinge red en dit is op Elsenburg Landboukollege oorgeplant.

In die middel 1930's het Perold entoesiasties die potensiaal van dié nuwe variëteit ondersteun. Die eerste Pinotage-wyn, deur CT de Waal, is in 1941 gemaak.  

Innovasie

Me Anita Nel, Hoof Direkteur: Innovasie en Besigheidsontwikkeling, sê dat Innovus, die US se innovasie en tegnologie-oordragentiteit, opgewonde is oor die vrystelling van die wyn.  “Ons het besluit om die wyn aanlyn beskikbaar te maak om dit nasionaal aan ons alumni te bied."

“Alumni en vriende van die Universiteit kan ook binnekort die US se Eeufeespublikasie, Die Universiteit Stellenbosch 100: 1918-2018, via Takelot koop en ons mik daarna om ook klerasie met die US handelsmerk en 'n groter verskeidenheid van ons wynkelder se produkte voortaan deur hierdie kanaal te versprei." 

  • Skakel met me Lizane Füzy by tel 021808 4193 of e-pos efuzy@sun.ac.za vir meer inligting
  • Lees die storie van die oorsprong van die Pinotage-druif by www.pinotage.co.za/origin-of-the-grape (as bron gebruik vir hierdie artikel)
  • FOTO: Mnr Riaan Wassung, wynmaker van die Welgevallen-kelder en prof Willie Perold,  Visedekaan: Navorsing en Industrieskakeling van die US se Fakulteit Ingenieurswese en kleinseun van prof AI Perold. (Foto: Stefan Els) 

*Die Universiteit Stellenbosch, deur Innovus, is in pas met die nuutste innovasie en maak nie net gebruik van Takealot as afsetpunt vir produkte nie, maar het onlangs ook die tweede universiteit in die wêreld geword om nie-studente akkommodasie aanlyn te bemark deur AirBnB.