Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Adam Small-teaterkompleks amptelik by US geopen
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/11/2018

​Die Adam Small-teaterkompleks by die Universiteit Stellenbosch (US) is amptelik op Vrydag (23 November 2018) tydens ʼn naamgewingseremonie op die Stellenbosch-kampus geopen. Die US se opgeknapte en heringerigte teaterkompleks is vernoem na die bekroonde digter en dramaturg, Adam Small. Die naamsverandering is deel van ʼn proses van visuele regstelling en vernuwing van publieke ruimtes, simbole, geboue en fasiliteite by die Universiteit. 

Small het in 2015 ʼn eredoktorsgraad van die US ontvang.

 
  • Selfoongebruikers klik hier vir video.

Die Adam Small-teaterkompleks is ʼn multifunksionele fasiliteit wat die groot ouditorium (tot nou toe die HB Thom-teater) in die kompleks, ʼn seminaarkamer en ʼn kleiner laboratorium-teaterruimte insluit. Hoewel die naam HB Thom-teater voortaan nie meer gebruik sal word nie, sal dit in die opgeknapte gebou gekontekstualiseer word. Die aangrensende Dramadepartement sal nou vir die eerste keer funksioneel aansluit by die teaterkompleks.

Tydens die geleentheid het die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, gesê die naamgewing gaan oor erkenning, regstelling en versoening. 

“Ons vernoem hierdie teaterkompleks na Adam Small om hom as een van ons grootste denkers en skrywers te erken, om sommige van die onregte wat teen hom en ander slagoffers van apartheid gepleeg is reg te stel, en om die wonde van die verlede te genees ... om weer diegene wat, in die woorde van Adam Small, deur 'n 'bose stelsel' van mekaar weggeruk is bymekaar uit te bring."

Adam Small wou graag aan die US studeer, maar is weens apartheid nie toegelaat nie.

De Villiers het Small as ʼn morele gewete en kritiese stem gedurende apartheid beskryf en gesê die US is dankbaar en trots om met sy ryke erflating geassosieer te wees.

“Ons sal graag will sien dat die visie van menswaardigheid en regstellende geregtigheid ʼn werklikheid word."

Na afloop van die naamgewingseremonie, het die vermaaklikheidster Natalia Da Rocha en lede van die Applauz Arts-inisiatief die gaste getrakteer op musiek wat uit Adam Small se gepubliseerde en ongepubliseerde gedigte getoonset is. Die gaste het ook die geleentheid gehad om die teaterkompleks besigtig.