Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit se landboukundiges, oud-studente word vereer deur Landbouskrywers SA
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 23/11/2018

Landboukundiges en oud-studente van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe is vir hul uitsonderlike bydraes tot landbou vereer.


'n Glansgeleentheid is Vrydag (16 November) op Stellenbosch deur Landbouskrywers SA aangebied gehou waartydens die wenners van die Boer van die Jaar, Nuwe Toetreder to Kommersiële Landbou en die Landboukundige van die Jaar in 2018 aangewys is.


Twee van die fakulteit se oud-studente is onder meer vir hul bydraes vereer. Hulle is Pieter Graaff en Wandile Sihlobo.


Graaff, die grootste individuele appelboer in Suid-Afrika, is aangewys as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar in 2018. Wandile Sihlobo en Leonard Mavungu, ’n Oos-Kaapse melkboer, is onderskeidelik as die Landboukundige van die Jaar en die Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou van die Jaar in 2018 aangewys.


Graaff het in 1984 die boerdery Witzenberg Eiendomme by sy pa, dr Jan Graaf, oorgeneem. Onder sy leiding is vyf eenhede by die oorspronklike plaas gevoeg om produksie, omset en winste te verhoog. Graaff het ook die onderneming uitgebrei om binne die totale waardeketting te funksioneer. Die onderneming boer ook met pere, perskes, kersies, wyndruiwe, groente, graan, beeste, skape, bedryf ‘n saagmeule en het ’n perdestoetery.

Sihlobo, ’n landbou-ekonoom van Gauteng, is hoof van landbounavorsing in die landbou-sakekamer Agbiz. Sihlobo word beskou as ’n leier in die gesprek oor landbou-ekonomie in die drukmedia en op sosiale netwerke. Hy is onlangs aangewys as lid van President Cyril Ramaphosa se adviespaneel wat die interministeriële komitee oor grondhervorming van raad bedien.


Op sy beurt is prof Mohammed Karaan vereer vir sy rol in die Suid-Afrikaanse landbousektor. Hy het ’n spesiale toekenning ontvang en is aangewys as die Persoonlikheid van die Jaar in 2018. Karaan was voorheen onder andere dekaan van die fakulteit en ’n waarnemende vise-rektor van die universiteit in 2014 en 2015. Karaan is onlangs heraangestel vir ’n tweede vyf-jaar lange termyn as lid van die Nasionale Beplanningskommissie. Gedurende sy eerste termyn vanaf 2010 tot 2015 het hy ’n kernbelangrike rol gespeel in die hoofstuk van die Nasionale Ontwikkelingsplan - Visie 2030, oor hoe om ’n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie te vestig. Karaan dien as lid van President Cyril Ramaphosa se adviespaneel oor grondhervorming wat die interministeriële komitee oor grondhervorming van raad bedien.

Prof Eugene Cloete was ’n finalis in die kategorie Landboukundige van die Jaar in 2018. Hy is die US se viserektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies. Cloete, die Wes-Kaapse landboukundige van die Jaar, het ’n groot rol gespeel in die daarstel van ’n eerste innovasiesentrum vir plantbiotegnologie-strategie (BioPAD) in Suid-Afrika. Hy het ook ’n leierskapsrol vervul in die daarstel van beleid wat die gebruik van geneties gemodifiseerde gewasse in Suid-Afrika reguleer. Cloete is tans onder andere die voorsitter van die advieskomitee vir die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie wat fokus daarop om die nadelige gevolge van indringerplante op die omgewing en die landbousektor te verminder.


Die jaarlikse toekennings het ten doel om die rol van boere en landboukundiges in die landboubedryf te benadruk, het Magda du Toit, voorsitter van Landbouskrywers SA, gesê. Dit is ook belangrik om kennis te neem van die rol van diegene wat vereer is in die ekonomie van die land en die streek. “Ons word daagliks gekonfronteer met die uitdaging om kos aan die groeiende wêreldbevolking te voorsien. Landbouskrywers SA gee hiermee erkenning aan die rol wat boere en landboukundiges speel in die landbousektor en om kossekerheid te verseker,” het Du Toit in ’n verklaring gesê.


(Van links na regs) Me Eunice Joubert (Agri-Expo), ​Prof Mohammed Karaan, Mnr Hugo Lochner (President van Agri-Expo)

Foto: Andrew Gorman ​