Me Vuyiseka Dubula-Majola,
direkteur van die Afrika Sentrum vir MIV/Vigs-bestuur aan die Universiteit
Stellenbosch, is een van 15 individue wêreldwyd wat vanjaar die Frans-Duitse
prys vir menseregte en regsoewereiniteit ontvang. Die ministers van buitelandse
sake van Duitsland en Frankryk het dié aankondiging op 21 November 2018
gedoen.
Dit is die derde jaar waarin Frankryk en Duitsland dié
gesamentlike prys vir menseregte en regsoewereiniteit toeken en val saam met
(die VN) Menseregtedag op 10 Desember.
In hul aankondiging het buitelandse sake ministers Heiko Maas
van Duitsland en Jean-Yves Le Drian van Frankryk gesê: “In hierdie jaar waarin
ons die 70ste bestaansjaar van die Universele Verklaring van Menseregte vier,
het Duitsland en Frankryk 15 individue gekies wat hulle met dapperheid vir die
beskerming van menseregte beywer het.
“Hulle verteenwoordig ook die baie ander beskermers van
menseregte wie se pogings onerkend is en wat dikwels die slagoffers van groot
onreg is in hul stryd om geregtigheid. Ons betuig ons dankbaarheid, erkenning
en respek aan hulle omdat hulle die woorde van die Verklaring in dade omskep
het.”
Praat die waarheid
“Dit maak mens altyd nederig om
as aktivis erkenning te ontvang. Hierdie toekenning moet ook kollektief gesien
word as waardering aan diegene wat nie bang is om die waarheid aan die lig te
bring nie,” het Dubula-Majola gesê.
Nadat sy haar twee nagraadse
kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, is Dubula-Majola
as dosent by die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigs-bestuur aangestel en later as dié
sentrum se direkteur. Sy is self in 2001 met MIV/Vigs gediagnoseer.
In haar gelukwense aan Dubula-Majola, het die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Ingrid Woolard, gesê sy is verheug om te sien dat haar werk op hierdie manier erken word. “Vuyiseka is ʾn buitengewone rolmodel vir ons almal – sy is dapper, hartstogtelik, toegewyd, gefokus en tog nederig. Ons wens haar geluk met hierdie internasionale erkenning van haar onwrikbare verbintenis om mense wat met MIV/Vigs te leef, se lewens te verbeter en na oplossings te soek om die oordrag van die virus te verminder."
Dubula-Majola is ook opgeneem in die boek A to Z of Amazing South African women, 'n publikasie wat die bydraes van vroue tot Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms huldig. Ander name in hierdie boek sluit in Winnie Madikizela-Mandela, Fatima Meer, Caster Semenya, Natalie du Toit en Thuli Madonsela.
In die boek word na haar verwys as 'n “heldin vir ons tye" – iemand wat alle uitdagings te bowe gekom het en steeds aktief werksaam is om die situasie te verbeter.
“Ek verwelkom uitdagings. Dit is hoe ʾn mens groei," sê sy.
Die ander wenners van die Frans-Duitse prys vir menseregte en regsoewereiniteit in 2018 is:
mnr Yu Wensheng (China), me Aminata Traoré (Ivoorkus), mnr Mohamed Lotfy (Egipte), mnr Alfredo Okenve (Ekwatoriaal-Guinee), mnr Nityanand Jayaraman (Indië), me Chak Sopheap (Kambodja), me Hessen Sayah Corban (Libanon), me Memo Mekfoula Mint Brahim (Mauritanië), mnr Daoud Nassar (Palestynse gebiede), me Liz Chicaje Churay (Peru), mnr Oyub Titiev (Rusland), mnr Anwar al-Bunni (Sirië), me Sirikan Charoensiri (Thailand), me Susana Raffalli Arismendi (Venezuela).