Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe krapspesie in Oos-Kaapse “vergete” woude ontdek
Outeur: Dane McDonald
Gepubliseer: 21/11/2018

'n Nuwe pêrelwit varswaterkrapspesie is ontdek in die “vergete" Oos-Kaapse woude van Suid-Afrika.

Prof Savel Daniels, 'n molekuêre taksonoom  by die Universiteit Stellenbosch, sê alhoewel daar al redelik baie studies oor krappe in Suid-Afrika gedoen is, is woude om die een of ander duistere rede afgeskeep en nie in steekproefnemings ingesluit nie.

“Niemand het al ooit die woude in die Oos-Kaap waar ons (toevallig) die spesie by Mbotyi gekry het, intensief ondersoek nie," het hy aan die FBIP vertel.

Hierdie studie het deel uitgemaak van die Oos-Kaapse Woudprojek, een van die groot geïntegreerde projekte wat deur Suid-Afrika se Foundational Biodiversity Information Programme (FBIP) gefinansier word.

Mbotyi is 'n skilderagtige woudstreek noordoos van Port St Johns en aangrensend aan die ooskus van Suid-Afrika.

Die krappe, wat glinster wanneer dit aan lig blootgestel word, is in klein stroompies wat na die kus vloei onder klippe uitgehaal.

In omstandighede wat filogeograwe “simpatrie" noem, leef hierdie pêrelwit krap sy-aan-sy met 'n bekende roesbruin spesie wat behoort tot die Afrika-varswaterkrapgenus Potamonautes.

 

Soortgelyk aan 'n geskeide paartjie wat steeds 'n huis deel, is die twee verwante (maar geneties verskillende) populasies simpatries, omdat hulle in dieselfde geografiese gebied hou en mekaar dus dikwels raakloop, maar tog nie paar nie.

Op 'n manier was Daniels bloot gelukkig om hierdie spesifieke krap met sy treffende kleur wat so baie van sy buurman, P. sidneyi verskil, te ontdek.

Deesdae, en veral waar dit ongewerweldes aangaan, is sulke ontdekkings waar wetenskaplikes 'n duidelike morfologiese verskil as “leidraad" kry ten einde 'n potensieel nuwe spesie te beskryf, baie raar.

In Daniels se veldwerk maak hy dikwels kennis met sogenaamde kriptiese spesies, waar diere wat op die oog af dieselfde lyk, geneties baie van mekaar verskil. In ander gevalle lyk diere weer verskillend, maar toon nie beduidende genetiese verskille nie.

Daniels wou vasstel of die twee krappe inderdaad verskillende spesies verteenwoordig en of hulle (minder skouspelagtig) net twee oppervlakkige kleurvariante was waar die een pêrelwit is en die ander roesbruin.

Terug in die laboratorium van die Fasiliteit vir Evolusionêre Genomika by die Universiteit Stellenbosch, is weefsel van beide groepe diere onderwerp aan DNS-toetsing. Daar is gefokus op drie gene, onder genetici bekend as 'COI, 12S rRNA, en 16S rRNA'.

Die DNS-opeenvolgingsafwyking (m.a.w.die genetiese verskil) vir die COI-geen, gewoonlik 'n primêre merker in dieregenetikastudies, was 'n opvallende 13.42%.

Ten einde 'n beter perspektief van afwykingswaardes te kry, moet molekulêre taksonome kyk na watter waardes in vorige studies gebruik is om iets as genoegsaam ánders te verklaar om dit 'n nuwe spesie te kan noem.  

Daniels se navorsingsartikel wat in die Journal of Crustacean Biology gepubliseer is, haal twee vorige studies aan met waardes wat wissel van 2.8% tot 14.7% in die een, en 7.9% tussen twee spesies in die ander studie.

Daar bestaan dus geen twyfel dat die glimmende pêrelwit krap van Mbotyi 'n nuwe spesietoevoeging tot die natuurwetenskap is nie.

Daniels het geen ander morfologiese eienskappe gevind waarmee hy P. sidneyi kon onderskei van die nuwe Mbotyi-spesie nie, behalwe vir die opvallende kleurverskil tussen die twee. Laasgenoemde was dan ook die inspirasie vir die naam van die nuwe spesie, een van die min geleenthede waar kreatiwiteit ingespan kan word in die beskrywing van 'n nuwe spesie.

As 'n eerbetoon aan die Xhosa-bevolking van die Mbotyi-streek, het Daniels besluit om die nuutontdekte krap die spesiebynaam mhlophe, (wat “wit" in isiXhosa beteken) te gee.

Volgens Daniels is hierdie ontdekking belangrik aangesien dit die aandag vestig op die biodiverstiteit van die gebied, en bykomend hiertoe ook die streek verder vestig as biodiversiteitshutspot, 'n toeristetrekpleister.

“Toerisme skep baie volhoubare werksgeleenthede in die streek," sê hy.

Die Foundational Biodiversity Information Programme (FBIP) is 'n langtermynprogram waarin fundamentele biodiversiteitsinligting en -kennis gegenereer, bestuur en versprei word ten einde besluitneming en dienslewering  te verbeter en nuwe ekonomiese geleenthede te skep.

Volg:

  • FBIP op Facebook en Twitter

Vir meer besonderhede:

Kontakpersoon:            Dane McDonald 

Titel:                                Wetenskapsjoernalis

Sel:                                   +27 (0) 72 1299 649

E-posadres:                    d.mcdonald@sanbi.org.za

Webwerf:                       http://fbip.co.za/