Hierdie inisiatief, ʼn vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US),
Sharing Abundant Life Together (SALT) en die Departement van Gesondheid (DvG), bedien
hoofsaaklik die Dunoon-gebied waar talle vroue MIV-positief en werkloos is.
Daar is ʼn groot gaping tussen die kapasiteit vir dienste en die behoeftes van
die gemeenskap.
Die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe werk nou saam
met SALT, ʼn organisasie sonder winsbejag vir sosiale geregtigheid wat poog om
die gaping tussen openbare en privaat gesondheidsorg te oorbrug. “Toeganklikheid,
opvoeding en inligting moet ook vir die kwesbaarstes in ons gemeenskappe
beskikbaar wees. Ons het ʼn passie vir vroue se gesondheid in die geheel:
liggaamlik, emosioneel, geestelik en sosio-ekonomies,” sê Sandra Warne van SALT.
“Ons help ook vroue om vir ID-boekies, geboortesertifikate en toelae aansoek te
doen en bied ʼn beradingsdiens wat strek van werkloosheid en lewensvaardighede
tot prostitusie en mensehandel. Ons glo in gelyke regte en waardigheid vir
almal.”
In die loop van die jaar het Johnson & Johnson se
babaprodukte-afdeling opleiding en inligting aan die US se
versloskunde-studente verskaf oor hoe om babas te bad en te masseer asook
basiese velsorg vir pasgeborenes en kinders. Die inligting en vaardighede is
daarna aan die moeders by SALT oorgedra. Altesaam 43 studente het
inligtingspraatjies aan 120 vroue gelewer en is opgelei in onderwerpe soos
inentings, borsondersoeke, diarree en gevaartekens, voorbehoeding en hoe om
babas te bad en te masseer. Die vroue kon daarna hierdie inligting aan hul
familie, vriende en gemeenskapslede oordra. “As ʼn vroedvrou kan ek die lewens
van vroue en kinders verbeter en ʼn impak op ʼn kind se eerste 1 000 dae en
daarna maak,” sê sr Amy Howes.
“Ons het geleer van die belang van ontwikkeling van persoonlike
vaardighede deur in ʼn taal te praat wat ʼn vrou kan verstaan. Ons bemagtig vroue
deur hulle op te voed en dit sal help om ons gemeenskap en nasie te versterk. Ons
wens is om gesondheidsdienste, van die behandeling van siekte en traumas tot
die voorkoming daarvan, te heroriënteer. Deur ʼn ondersteunende omgewing vir
gesondheidsdienste te skep, skep ons ook ʼn onbevooroordeelde houding teenoor
mense se keuses, lewens en menings. Ons wil hê alle vroue moet weet ons is daar
vir hulle. Dit skep ook ʼn omgewing van vertroue – dit is baie belangrik dat
verpleërs ʼn onbevooroordeelde houding het. Die werklikhede van vroue in verskillende
gemeenskappe, soos ʼn gebrek aan geld vir vervoer, kan hulle verhoed om in
noodgevalle toegang tot ʼn apteek te verkry, byvoorbeeld vir diarree-medikasie.
ʼn Mens moet realisties na die probleme kyk en hulle vertel wat hulle in ʼn
noodgeval vir hulself en hul kinders kan doen. Dit was ʼn verootmoedigende
ervaring om die groot sosiale behoefte in die gemeenskap en die behoefte aan
basiese onderwys te sien,” sê sr Amy Howes.
Deur die jaar het gevorderde verloskunde-studente in vennootskap met SALT
gewerk en ʼn welweesdag met 80 vroue gehou. Hulle het bloeddruklesings, gewig en
LMI geneem en urine- en swangerskapstoetse gedoen om ʼn algemene idee van die
vroue se gesondheid te kry. Hulle het ʼn praatjie gelewer oor
voortplantingsgesondheid en gesinsbeplanning en oor antiretrovirale nakoming
gesels. Hulle het mondelinge en inspuit-voorbehoedingsopsies op die dag gebied
en dit is weereens uitgelig dat die vroue nie toegang tot basiese inligting het
nie en onvoldoende toegang tot basiese voorkomende gesondheidsorgmaatreëls het.
Op 7 Augustus, as deel van vrouemaand en in samewerking met SALT en Pink
Drive, het studente borsondersoeke vir die vroue van Dunoon en die publiek
gedoen. Hulle het 158 vroue gesien en borsondersoeke, gesondheidsopvoeding en
demonstrasies oor bors-selfondersoeke gegee. Vroue met toegang tot privaat
mediese sorg het geen opvolging benodig nie. Sestig vroue is vir opvolging
verwys, waarvan vyf kwaadaardig was en nie toegang tot privaat mediese sorg
gehad het nie. Dit wys op ongelyke ervaring met betrekking tot vroue met
toegang tot privaat gesondheidsorg en dié daarsonder.
Daar is ʼn ernstige gebrek aan toegang tot inligting onder vroue in Dunoon
en ʼn gebrek aan toegang tot basiese gesondheidsorg. Die bestaande
gesondheidsorg is oorlaai en dit lei tot lang wagperiodes waartydens vroue wat
inspuit-voorbehoeding benodig nie opgevolg kan word nie. As gevolg hiervan neem
onbeplande swangerskappe toe. Talle ander kwessies het ook na vore gekom –
rakende sosiale, emosionele en geestesgesondheid. Studente was daar om nou die
vroue te luister en kon bydra tot die stryd teen borskanker.
Studente wat by hierdie inisiatief betrokke was, het persoonlike groei
ervaar ten opsigte van bestuursvaardighede, hul persoonlike kennis het
uitgebrei en hulle het die geleentheid gekry om ʼn diens aan hierdie gemeenskap
te lewer. Die gaping tussen openbare en privaat gesondheidsorg moet oorbrug
word. Daar moet meer samewerking tussen die US, die DvO en organisasies sonder
winsbejag in hierdie opsig wees en meer gesondheidsbevorderings- en siftingsdae
moet in die toekoms aangebied word.