Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebruikerservaring hooftema by 15de US Biblioteeksimposium
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/11/2018

“Die gebruiker se belang is die enigste belang. Biblioteke was van die staanspoor af die kern van die kennisprojek, en namate die wêreld aanhou verander, moet biblioteke aanpas of agterbly."

So het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), die 15de US Biblioteeksimposium geopen. Meer as 160 afgevaardigdes het op 15 en 16 November vir dié geleentheid by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) saamgetrek.

Die simposium was ʼn besonderse geleentheid, en 'n moet vir diegene wat by die jongste tendense aan die voorpunt van biblioteek- en inligtingkunde wil bybly. Vanjaar se tema was “Slimmer biblioteke: Die gebruikerservaring in aksie".

Volgens Ellen Tise, die Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens, Universiteit Stellenbosch, was hierdie tema die voor die hand liggende keuse. “Tegnologie het oor die jare nie net mense nie, maar ook biblioteke verander. Vanjaar konsentreer ons op gebruikerservaringontwerp – die gedagte dat produkte en dienste met die gebruiker in gedagte ontwerp behoort te word. Die gebruiker was nog altyd die kern van wat ons by biblioteke doen, maar deesdae moet ons 'n bietjie meer navorsing doen om te sorg dat ons tred hou met tendense en ons gebruikers."

Baie biblioteke het al navorsing oor die gebruikerservaring onderneem. Etnografiese navorsing is byvoorbeeld 'n gewilde metode om die gebruikerservaring te ondersoek, en behels die studie van hoe mense na inligting soek, biblioteekwebtuistes gebruik en met biblioteekruimtes omgaan.

Die drie simposiumsessies het onderskeidelik oor die volgende onderwerpe gehandel, wat alles om die gebruikerservaring draai:

  • Slimmer biblioteke deur tegnologie
  • Slim biblioteekontwerp: Ruimtes en fasiliteite
  • Die gebruik van navorsing oor die gebruikerservaring vir slimmer dienste en hulpbronne

Onder die 15 sprekers by hierdie sessies was Ned Potter, 'n akademiese skakelbibliotekaris by die Universiteit van York; Alex Ball, 'n navorsingsdatabibliotekaris by die Universiteit van Bath, en Abeer Al Kuwari, direkteur van navorsings- en leerdienste by die pas gestigte nasionale biblioteek van Katar.

Bib Stias18-7.jpg

Volgens prof De Villiers is dit belangrik dat die biblioteke van die toekoms nie net sal besin oor hoe hulle mense met die groot wolk van inligting en ontwikkeling in die digitale era kan verbind nie, maar ook met mekaar.

“Hierdie byeenkoms vind plaas op 'n baie spesiale tydstip in die US se geskiedenis. Ons vier die US Eeufees en kan met redelike sekerheid sê dat die Universiteit 'n toonaangewende navorsingsintensiewe hoëronderwysinstelling geword het, nie net op die Afrikavasteland nie, maar ook wêreldwyd. Die Biblioteek- en Inligtingsdiens het deur die jare 'n deurslaggewende bydrae hiertoe gelewer," het prof De Villiers gesê.

Klik hier vir meer oor die US Biblioteeksimposium.​


In die foto bo: (links na regs): Ms Ellen Tise (Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens, Universiteit Stellenbosch), Prof Wim de Villiers (Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch) en Mr Lars Binau (van die Technical University of Denmark en 'n spreker in Sessie 1 van die simposium).

Fotos deur Anton Jordaan.