Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Historiese verwonding en langtermyn gevolge op internasionale konferensie bespreek
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 21/11/2018

Wat is die gepaste reaksie op die eggo's van historiese verwonding wat veel verder strek as net die generasie wat dit direk ervaar het? Watter strategieë kan aangewend word om die vêrreikende gevolge van volksmoord, slawerny, koloniale onderdrukking en massageweld wat uitspeel in die lewens van diegene aan beide kante van hierdie dade, die hoof te bied?

Dít is van die vrae wat afgevaardigdes na 'n internasionale konferensie met die tema Recognition, Reparation, Reconciliation: The Light and Shadow of Historical Trauma gaan bespreek. Die inspirasie vir die konferensie is die 20ste herdenking van die verslag van die Waarheid en Versoeningskommissie (WVK).

Van die internasionaal-bekende sprekers by die konferensie is:  

  • Prof Homi Bhabha, Harvard Universiteit, die wêreld se voorste post-koloniale literêre teoretikus (Do 6 Des, 09:00): A Memory of Neighbours: On History and the Afterlife.
  • Prof Cathy Caruth, Cornell Universiteit, kundige in trauma-teorie en skrywer van grondliggende tekste op dié gebied (Vr 7 Des, 08:30): Death and Life at the Site of Address
  • Regter Albie Sachs, voormalige regter van die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof en argitek van die post-apartheid Grondwet: (Vr 7 Des, 16:45), saam met Homi Bhabha): Living with the Past: A Conversation
  • Prof Sarah Nuttal, Direkteur van die Wits-instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing, 'n vooraanstaande interdissiplinêre navorsingsinstituut in die geestes- en sosiale wetenskappe in Suid-Afrika (Vr 7 Des, 12:00): Dark Light: Coming Out of Trauma
  • Prof Michael Rothberg, Universiteit van Kalifornië, Los Angeles (UCLA), bekende geleerde in trauma, herinnering en post-koloniale teorie (Sa 8 Des, 08:45): The Implicated Subject: Rethinking Political Responsibility
  • Prof Achille Mbembe, Wits Universiteit, denkleier en kenner van Afrika-geskiedenis, politiek en sosiale wetenskappe. (Sa 8 Des 17:00– lesing oop vir die publiek)
  • Tamar Garb, Direkteur van die Instituut vir Gevordere Studies aan die Universiteitskollege Londen - haar werk fokus op kuns en kultuur in Suid-Afrika, feminisme, ras en internasionale politiek: (So 9 Des, 09:00): Making Art in the Light and Shadow of Hist​orical Trauma
  • Jacqueline Rose (Universiteit van Londen) en Jessica Benjamin (New York-psigoanalis), internasionaal bekend vir hul werk oor die verhouding tussen psigoanalise en feminisme en hul betrokkenheid by die politiek van Israel-Palestina (So 9 Des, 15:45): What Light Might Psychoanalytic Attention to the Inner Life Throw on the Repetitions of History?
​Die hooforganiseerder van die konferensie is die US se prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die Navorsingsleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie. Die konferensie word georganiseer in samewerking met die Australiese Menseregte Instituut aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis, Sydney Australië en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.

Die konferensie bring kundiges en praktisyns uit meer as 20 lande en verskillende dissiplines byeen om te besin oor historiese verwonding en die verwoestende nalatenskappe. 'n Belangrike tema van die konferensie is die rol van die kunste om menseregteskendings die hoof te bied en as strategie om lande te help om hul gewelddadige geskiedenis te verwerk.  
Referate tydens die konferensie sal fokus op onder meer hoe die George Washington-universiteit in Washington DC, wat slawe in die 19de eeu besit en verkoop het om sy finansies mee aan te vul, met sy geskiedenis omgaan; Kanada en Australië se pogings om versoening tussen die eerste inwoners (“aboriginals") en witmense in hierdie lande te bevorder; en, 'n bespreking oor dialoog via die kunste tussen kinders van oortreders en kinders van slagoffers van volksmoord.​

Kinders en kleinkinders van slagoffers – stories van Sowjet-Rusland tot Suid-Afrika

'n Unieke kenmerk van die konferensie is om te luister na die verhale van hoe growwe menseregteskendings deur slagoffers se gesinne of oorlewendes ervaar word. Die klem val op die ontmoeting tussen oortreders en nasate van slagoffers. Denis Karagodin van Siberië, Rusland, praat byvoorbeeld oor sy soeke na sy oupagrootjie se laksman en sy ontmoeting met dié se kleindogter.

Jong Suid-Afrikaners wat kinders was toe hul ouers tydens apartheid vermoor is, sal praat oor hul ontmoetings met die oortreders:
  • Lindiwe Hani sal praat oor haar ontmoeting met Janusz Walus, die man wat haar pa, Chris Hani vermoor het.
  • Candice Mama en Siya Mgoduka, wie se pas's vermoor is in operasies waarin Eugene de Kock betrokke was, sal praat oor hoe hul ervaring van De Kock. Mgoduka sal ook in gesprek wees met sy ma, Doreen Mgoduka, oor haar vergewensgesindheid teenoor De Kock.
  • Die nalatenskap van verpligte militêre diens in die Suid-Afrikaanse Weermag gedurende apartheid,  kom ook aan bod. 
Gobodo-Madikizela sê oor die belang van samewerking met die Australiese Menseregte-instituut: “Die politieke onstuimigheid een die intergenerasie-stryd wat in post-apartheid Suid-Afrika uitspeel en die vuurwarm debatte in Australië oor die mislukking van die Australiese Grondwet om die regte van die eerste inwoners in Australië (“aboriginals") te erken, maak hierdie twee lande belangrike vertrekpunte as 'terreine van refleksie' oor die temas van hierdie konferensie.

“Die konferensie het egter 'n transnasionale en multikulturele fokus en sal gesprekke verder neem as net Suid-Afrika en Australië. Besprekings sal ook gevoer word oor die jongste navorsing wêreldwyd oor die temas wat die konferensie belig, terwyl dit ook krities sal besin oor hoe die kreatiewe kunste, insluitend rolprente, fotografie, teater en visuele kunste historiese trauma uitbeeld," voeg sy by.

Die konferensie eindig op Sondag 9 Desember met 'n spesiale geleentheid om die 20ste herdenking van die indiening van die WVK-verslag te vier en eer te betoon aan aartsbiskop Tutu vir sy werk in hierdie verband. 'n Musiekteaterproduksie deur die Rwandese groep Mashirika, saamgestel deur die veelbekroonde kunstenaar, Hope Azeda, sluit 'n stuk in oor genesing en versoening met die titel “Africa's Hope".

Die US vereer prof Bhabha met 'n eregraad by die Desember 2018 Gradeplegtigheid.