Scott, Cameron, 'n nagraadse student in Fisika, is die ontvanger van beide die Meiring Naudé-medalje vir die beste BScHons-student in Fisika, sowel as die Dekaansmedalje vir die beste BSc-student in die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
Scott, 'n oudleerling van Heartwell Privaatskool in Johannesburg, sê die idee van gravitasiegolwe en kwarke het hom nog altyd opgewonde gemaak, selfs al was Fisika nie sy eerste keuse nie. Maar die oomblik toe hy vir die kursus aanvaar is, het hy geweet dit was die regte besluit.
“Ek het die afgelope paar jaar regtig hard gewerk, maar nie net omdat ek daardie graadsertifikaat wou verwerf nie. My motivering was nog altyd om dinge te ondersoek en te verstaan, en om in die proses bruikbare vaardighede aan te leer."
Sy advies aan mede-studente is om “enigiets en alles" van jou eie én ander velde te leer: “Dit sal jou help om nuwe perspektief te kry op die probleem waarmee jy besig is. Die vermoë om vaardighede vanuit ander velde op jou eie vakgebied toe te pas,sal altyd tot jou voordeel wees. Moenie net in een boksie lewe nie."
Hy is tans besig met 'n MSc in Fisiese en Wiskundige Analise waarbinne hy fokus op numeriese benaderings vir Bayesiese modelvergelyking spesifiek gemik op neurale netwerk toepassing op groot datastelle.
“Met hierdie benadering kan 'n mens kwantitatief vergelyk hoe goed verskillende modelle 'n bepaalde datastel beskryf, met gebruik van intelligente soekmetodes om hiperparameters te optimeer" verduidelik hy.
Scott sê hy voel geëerd en dankbaar dat sy harde werk op hierdie manier erken word: “Dit sal my verseker help om gemotiveerd te bly en nog harder vir my MSc en moontlik 'n PhD te werk."
Die John Todd Morrison-medalje vir die beste MSc-student in Fisika in 2017 is toegeken aan Philipp Uhrich vir sy tesis “Noninvasive measurement of dynamic correlations in spin systems", wat hy voltooi het onder leiding van prof. Hermann Uys, bekleer van die WNNR/US navorsingsleerstoel in Kwantum, Optiese en Atomiese Fisika, en prof. Michael Kastner, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NiTHEP).