Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Koënsiem A kraai koning
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 12/11/2018

Een van die belangrikste molekules in die menslike liggaam was die middelpunt van belangstelling by StellenCoA2018, die derde internasionale konferensie oor koënsiem A in gesondheid, siekte en die biowetenskap. Hierdie byeenkoms het vanaf 28 Oktober tot 1 November 2018 by STIAS (the Stellenbosch Institute for Advanced Study) plaasgevind.

Koënsiem A (CoA) speel 'n kardinale rol in die energiemetabolisme van die sel aangesien dit die Krebs-siklus aan die gang sit. Die Krebs-siklus is die proses waartydens lewende selle organiese brandstofmolekules afbreek ten einde die energie te verkry wat hulle benodig om te groei en te verdeel. Koënsiem A staan ook sentraal in die metabolisering van vette.  

Meer en meer wetenskaplikes bevind egter dat koënsiem A ook 'n belangrike rol in selseine speel, en gevolglik 'n verreikende effek op siektes soos kanker en diabetes, asook op die immuunrespons en neurale funksies kan hê.

Studies wat fokus op die wyse waarop siekteveroorsakende organismes sélf CoA vervaardig en gebruik (wat dikwels verskil van die wyse waarop dit in mense plaasvind) gee ook hoop in die stryd teen antibiotikaweerstandige bakterieë, en die parasiete wat malaria veroorsaak.

Volgens professor Erick Strauss, 'n biochemikus in die Departement Biochemie by die US en voorsitter van die reëlingskomitee, gebeur dit nie dikwels dat navorsers wat by hierdie tipe studies oor CoA betrokke is, by een enkele konferensie saamkom nie: “Hierdie konferensie se unieke fokus op 'n metaboliet, in plaas van 'n spesifieke siekte, het ons in staat gestel om sprekers te nooi uit 'n hele spektrum van navorsingsvelde.  Navorsers en veral nagraadse studente is dus blootgestel aan die multi- en interdissiplinêre benadering tot navorsing wat onontbeerlik is in hierdie veld. Hulle kon ook baat by die dikwels komplementêre benaderings wat ons elkeen gebruik ten einde die biologiese rolle van hierdie molekule te bestudeer."

Die byeenkoms het lof van verskeie deelnemers ontlok vir die kwaliteit van die wetenskaplike program, asook die uitstekende plek waar dit aangebied is. 'n Konferensieganger: “Dit was 'n wonderlike byeenkoms vir die gemeenskap, en 'n ervaring wat jy slegs een keer in jou loopbaan sal beleef."

Die volgende konferensie sal in 2020 in die Verenigde State van Amerika plaasvind.