Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2019 US Woordfeesprogram word met ’n deurnagpartytjie bekendgestel
Outeur: Danie Marais - Woordfees
Gepubliseer: 12/11/2018

Op die aand van 16 November word 'n hele dansende karnaval van fees-apies uit die mou gelaat by die 2019 US Woordfeesprogrambekendstelling op Stellenbosch.

Die feestema is “Jonk", want die Woordfees word in 2019 twintig en 'n twintigjare is mos 'n jongmens. Daarom gaan daar deurnag gefees word soos in 1999 – die jaar van die groot milleniumwisseling toe alles begin het.

Die bekendstellingsmakietie met musiek, poësie, stand-up, toneel, dans en films vind plaas in die HB Thom (binnekort die Adam Small Teater) in Vicotria-straat. Dit begin om 22:00 en hou aan tot die volgende oggend 5:30 se kant.

Op die partytjieprogram vir hierdie nag van passie vir die kunste is, onder andere, die digters Bibi Slippers en Jolyn Phillips; stand-up met Shimmy Isaccs; musiek deur Die Wasgoedlyn; dans met Conway October, Yaseen Manuel en Ray Claasen, en 'n uittreksel uit die uitbundig snaakse Bal-oog en Brommel met die akteurs Richard September en De Klerk Oelofse. Andries Bezuidenhout, Danie Marais en Desmond Painter sal ook Dames en here, Leonard Cohen aanbied – 'n huldeblyk met akoestiese weergawes van Cohen-treffers wat by die 2018 Woordfees vinnig uitverkoop het. Films sal deurlopend in die HB Thom Laboratorium vertoon word. Die deurnagfees eindig die volgende oggend op 'n suiwer, hoë noot met 'n orreluitvoering deur Zorada Temmingh in die Moederkerk.

Almal word hartlik na hierdie verskeidenheidskonsertkuier van 'n programviering uitgenooi. Kaartjies is teen R100 per persoon by Computicket beskikbaar.

Kom wees saam jonk en vry dwarsdeur die warm somernag van 16 November.

Vir enige verdere inligting, kontak Danie Marais by danie_marais@sun.ac.za.