ʼn Nuwe boek, The Next Generation of Scientists in Africa, is Dinsdag (6 November 2018) tydens ʼn internasionale konferensie oor wetenskapskommunikasie by die Universiteit Stellenbosch (US) bekendgestel. Dit beklemtoon die loopbaanambisies en navorsingsprestasies van wetenskaplikes jonger as 40 jaar dwarsoor die vasteland van Afrika. Die boek belig die struikelblokke wat die vordering in hulle loopbane beperk en maak aanbevelings om navorsingtalent te kweek om sodoende wetenskapsleiers vir die toekoms te lewer.
Die redakteurs is Catherine Beaudry (École Polytechnique de Montréal), tesame met Johann Mouton en Heidi Prozesky (Universiteit Stellenbosch) en die boek word uitgegee deur African Minds. Die boek is die resultaat van ʼn studie by die US se Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluasie en Tegnologie (SENWET). Vanaf April 2015 tot Oktober 2018, het ʼn span navorsers ʼn omvattende, drieledige studie gedoen wat bestaan het uit: (1) ʼn omvattende bibliometriese analise van navorsingsuitsette van meer as 50 Afrika-lande, (2) ʼn groot aanlyn-opname met meer as 5 700 respondente, en (3) 259 in-diepte onderhoude. Die Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum in Kanada en die Robert Bosch-Stigting in Duitsland het die studie befonds.
“Ons erken dat jong wetenskaplikes die kern van innovering en die skepping van kennis is, en daarom ʼn kragtige katalis vir verandering en ontwikkeling in Afrika is," het die SENWET-direkteur, Professor Johann Mouton, verduidelik.
“Deur hulle loopbaanuitdagings te verstaan en op te los, sal die sukses van toekomstige wetenskapstelsels dwarsoor die vasteland versterk word."
Hy voeg by dat ons moet kyk na die loopbane van hierdie jong wetenskaplikes teen die agtergrond van die toestand van wetenskap in Afrika. Daarom bespreek die boek nie net die wetenskapstelsels en infrastruktuur op die vasteland, met inbegrip van die nalatenskap van kolonialisme en die invloed van politieke onstabiliteit nie, maar fokus dit ook op gesprekke aangaande die opkoms van Afrika.
Sommige van die struikelblokke wat jong wetenskaplikes ervaar aangaande loopbaanbevordering, hou verband met hulle relatiewe gebrek aan ondervinding met betrekking tot aansoeke vir befondsing, onsekerhede rondom die publikasie van hul navorsing en werksladings wat hulle verhoed om hul eie navorsing te doen. Die boek maak verskeie voorstelle in die verband, soos 'n proaktiewe fokus op positiewe loopbaanberading, meer opleiding in akademiese skryfwerk en netwerke, nuwe modelle vir befondsing en meer geleenthede vir internasionale mobiliteit.
“Dit is belangerik om te onthou dat baie van Afrika se jong wetenskaplikes eerste-geslag-akademici is," sê Professor Heidi Prozesky, mede-redakteur en ʼn lid van die navorsingspan. “Baie van die verwagtinge en rolle verwant aan hulle posisies is nie vir hulle duidelik nie."
Dit kan verklaar hoekom ons gevind het dat daar ʼn groot aanvraag is vir opleiding en ondersteunende raadgewing onder wetenskaplikes wat nog aan die begin van hulle loopbane is, voeg sy by. In besonder het jong wetenskaplikes in Afrika meer sogenaamde 'sagte vaardighede', soos effektiewe skryfwerk en die bou van navorsingsnetwerke nodig, sê Professor Prozesky.
“Om hulle tyd behoorlik te bestuur is ʼn moeilike kwessie vir hierdie wetenskaplikes. Hulle word dikwels oorlaai met pligte soos onderrig, toesig en administrasie, en daarom is dit baie moeilik vir hulle om tyd te kry om op hulle eie navorsing te fokus." Professor Prozesky meen senior akademici en navorsingsbestuurders moet meer toeganklik en minder oorheersend wees, en hul jonger kollegas se navorsingsambisies vertrou. Meer effektiewe administrasiestelsels by universiteite sal help om die las op akademici aan die begin van hulle loopbane te verlig.
In ʼn navorsingsarena waar die mededinging vir befondsing toenemend fel is, sukkel jong wetenskaplikes om suksesvol aansoek te doen vir navorsingstoekennings. “Hulle voldoen dikwels nie aan die formele vereistes en ongesproke vaardighede wat hiervoor nodig is nie", verduidelik Professor Prozesky. “Die gevolg is dat hulle baie tyd daaraan spandeer om voorstelle te skryf wat onsuksesvol is. Dit is baie ontmoedigend en beslaan tyd wat hulle aan hulle navorsing kon spandeer het."
Die boek maak voorstelle vir nuwe modelle vir befondsing en maak ʼn oproep vir meer opleiding aangaande die skryf van voorstelle vir navorsing, asook meer opbouende terugvoer rakende onsuksesvolle voorstelle. “As ons dit kan regkry, sal aansoeke vir befondsing wat aanvanklik onsuksesvol was, ʼn leergeleentheid word."
Nog ʼn moeilike en spanningsvolle stryd vir jong wetenskaplikes is die druk op hulle om hul navorsing in goeie vakjoernale gepubliseer te kry. Verskeie probleme kan hieruit voortspruit, soos artikels van swak gehalte, die versoeking om in roofjoernale te publiseer, en wetenskaplikes wat geen nut daarin sien om kreatiewe navorsing of werk met ʼn klem op die plaaslike samelewing te doen nie.
“Jong navorsers het hulp nodig om die regte joernale te identifiseer en hulle het opbouende terugvoering nodig wat hulle sal help om hulle artikels te verbeter, in plaas daarvan dat hulle pogings bloot weggewys word", het Professor Prozesky gesê.
Wanneer jong wetenskaplikes begin om internasionaal rond te beweeg, help dit hulle om baie van die uitdagings wat ons geïdentifiseer het, te oorkom, voeg sy by.
Om vir ʼn tydperk oorsee te werk, help hulle om befondsing in die toekoms te bekom, nuwe vaardighede in navorsing aan te leer en om professioneel te ontwikkel. “Verpligtinge teenoor hulle gesinne maak dit egter moeiliker vir sommige vroue om voordeel te trek uit internasionale geleenthede."
Die redakteurs meen The Next Generation of Scientists in Africa sal van nut wees vir navorsers wat belangstel in die navorsingstelsels in Afrika, beleidsmakers vir wetenskap in Afrika en organisasies wat belangstel in Afrika-wetenskap en die befondsing daarvan.
Foto: Mede-redakteurs van The Next Generation of Scientists in Africa, Catherine Beaudry and Johann Mouton, by die boekbekendstelling in Stellenbosch.