Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genootskap bevoordeel pasiënt-gesentreerde rehabilitasie in arm gemeenskappe
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 30/10/2018

Dr Martin Heine, ʼn nadoktorale genoot by die Instituut vir Sport- en Oefening-geneeskunde (ISOG) asook die Afdeling Fisioterapie, is die eerste persoon by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan wie die gesogte AXA-nadoktorale genootskap toegeken is.

Dit is toegeken vir Heine se werk oor pasiënt-gesentreerde rehabilitasie programme vir mense met kroniese siektes wat in lae-inkomste gebiede woon.

Die genootskap is grootliks gegrond op ʼn ewekansige kliniese proef in ongeveer 300 pasiënte met nie-oordraagbare siektes, wat die vatbaarheid toets van ʼn pasiënt-gesentreerde rehabilitasie-intervensie wat spesifiek vir lae-inkomste omgewings ontwerp is.

Heine, wat twee jaar gelede van Nederland na Suid-Afrika verhuis het, sal die navorsing doen by ʼn rehabilitasiesentrum in die onderbediende gemeenskap van Bishop Lavis, buite Kaapstad.

Ter verduideliking van die doel van sy navorsing, sê hy: “Afrika ervaar tans ʼn verskuiwing vanaf ʼn sterk voorkoms van oordraagbare siektes – soos MIV/VIGS en TB – na nie-oordraagbare siektes, insluitend siektes soos diabetes, beroerte en hartsiektes.

“Oor die afgelope dekades was daar ʼn reuse – en baie suksesvolle – veldtog om die las van oordraagbare siektes te verminder. Nou kom ons te staan teen ʼn groeiende uitdaging om die toename in nie-oordraagbare siektes, veral in komplekse stedelike omgewings, te hanteer.

“In baie Westerse lande is rehabilitasie-programme toenemend siekte-spesifiek en gespesialiseerd (bv. rehabilitasie vir hartsiekte), maar in Afrika ly baie mense aan meer as een mediese toestand. Om ons meer komplekse pasiënte ordentlik te bestuur moet ons ʼn holistiese, pasiënt-gesentreerde benadering in ons programme gebruik."

Volgens Heine sal die vinnige toename in nie-oordraagbare siektes, asook die gebrek aan bestuur van hierdie siektes, na verwagting inisiatiewe om armoede in ontwikkelende lande te verlig, in die wiele ry. “Alhoewel die voordele van rehabilitasie goed gevestig is in hoë-inkomste omgewings, is daar min bewyse van hoe, en tot watter mate, pasiënt-gesentreerde rehabilitasie voordele inhou, en bestudeer kan word, in lae-inkomste omgewings."

AXA is ʼn wêreldwye versekeraar met ʼn filantropiese arm wat jaarliks ʼn aantal vennootskappe, met spesifieke temas befonds (www.axa-research.org).

Heine sê hy het baie bevoorreg gevoel om hierdie vennootskap te ontvang. “Ek is die taak toegelê om ʼn nuwe navorsingsbeweging te begin wat fokus op die bestuur van kroniese siektes in lae-inkomste omgewings. Ek voel geëerd dat AXA erkenning gee aan ons werk, en erken dat dit ʼn prioriteit is vir toekomstige kliniese navorsing, en hulle vertroue in my as een van die toekomstige leiers in hierdie veld.

“Die navorsing wat ek nou doen het betekenisvolle direkte en tasbare voordele vir die pasiënt en die gemeenskap en maak my werk baie bevredigend. Ek hoop dat ek deur my werk kan bydra tot die goeie gesondheid, welstand, en regverdigheid vir onderbediende gemeenskappe," sluit Heine mee af.