Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Brandvlei-tronk vennootskap bewerkstellig samewerkende onderwys as die 'praktyk van vryheid'
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 25/10/2018

Die Ubuntu Learning Community (ULC) is ʼn vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD). Dit bevorder hoëronderwys-geleenthede vir US- en Unisa-studente in Brandvlei-tronk in Worcester om onder leiding van US-akademici verder te studeer en saam en van mekaar deur dialoog en die deel van ervarings te leer.

Nelson Mandela was die inspirasie vir die ULC, wat gesê het, “Onderwys is die magtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander”. Dit is die eerste keer dat ʼn residensiële Suid-Afrikaanse universiteit ʼn vennootskap met ʼn tronk aangaan op ʼn manier waarop samewerkende onderwys as die ‘praktyk van vryheid’ (Paolo Freire) verstaan word – ʼn instrument vir transformasie en bemagtiging. 

Die ULC bestaan uit verskeie komponente: ʼn opvoedkundige vennootskap tussen die US en die DKD, sosiale ondersteuning en herintegrasie vir studente ná gevangenskap, en opvoeding en sensitisering van US-studente (en die breër gemeenskap) oor die gevangenisstelsel, ʼn komponent wat deur studente gelei word. Hierdie komponente is belangrik vir die bemagtiging van deelnemers deur samewerking en interaksie, wat die transformatiewe mag van die onderwys as ʼn instrument vir sosiale geregtigheid in die hand werk.

Transformatiewe leer vind plaas wanneer studente aan nuwe ervarings en perspektiewe blootgestel word, soos interaksie met verskillende eweknieë – studente ontwikkel persoonlike en sosiale verantwoordelikheid, wat help om kennis en vaardighede met waardes, selfgevoel, identiteit en doel te integreer.

Deelnemers leer dat hulle dieselfde dink, visies gemeen het, dat persepsies aangenaam verkeerd kan wees en dat mense meer met mekaar in aanraking wil kom.

Hierdie inisiatief is ʼn vorm van kritiese burgerskap, wat gemik is op die aanmoediging van kritiese besinning oor die verlede en die indink van ʼn moontlike toekoms wat deur sosiale geregtigheid gevorm is ter voorbereiding daarop om saam in harmonie in diverse samelewings te leef. 

Die inisiatief behels ook samewerkende internasionale navorsing met vennote van die Universiteit van Cambridge, VK; UC Berkeley, VSA (die Fulbright Scholar-program); en die John Jay College of Criminal Justice, VSA. Die US se betrokkenheid by hierdie inisiatief hou die moontlikheid in om aanmerklike – en oorspronklike – navorsingsuitsette op die gebiede van onderrig en leer en strafreg-verwante gebiede te genereer.

Die doel van die herintegrasie-komponent is om studente te help met die oorgang van tronk na die gemeenskap om hul onderwys voort te sit, werk te kry en stabiele, produktiewe en vervullende lewens ‘daar buite’ te lei. Die doel is ook om sosiale benadeling as ʼn hindernis tot hoër onderwys aan te pak deur hertoegangsfasilitering en steun aan studente in die gevangenis te gee om hul studies te voltooi of ná hul vrylating by die US verder te studeer.

Die studentegedrewe/kampusonderwys-komponent is daarop gemik om die grense tussen universiteite en tronke af te breek en die gemeenskap te sensitiseer en op te voed oor die projek, ons gevangenisstelsel en die realiteite daarvan en die rol wat gemeenskappe moet speel.

“Ons moet die manier waarop ons oor oortreders en die gevangenisstelsel dink, verander om grense tussen tronke en universiteite af te breek”, sê Caitlin Kleynhans (ʼn vierdejaar-LLB-student).

Volgens die DKD is die kanse kleiner dat mense wat aan die onderwys deelneem sal terugkeer tronk toe. Dit is tot voordeel van individue, hul gesinne en gemeenskappe. Dit lê ook die grondslag vir lewenslange leer en het ʼn positiewe impak op die hele tronkbevolking.

Soos deur ʼn Brandvlei-gevangene opgemerk: “Die gevangenes wat met die US-studente gewerk het, het nuwe hoop en vertroue in die goedheid van mense gekry. Ons voel weer soos mense. Julle het ons nes enige ander student behandel.”

Hierdie vennootskap kan ʼn reuse-impak hê om gevangenes te help om produktiewe lede van die samelewing te word en kan daartoe lei dat minder mense tronk toe gaan. Dit verbeter studente in die gevangenis se vooruitsigte vir suksesvolle terugkeer ná hul vrylating en verlaag terugvalling.