Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Wortels en vlerke’ vir die Rooidakke-gemeenskap
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 18/10/2018

Die verskaffing van bekostigbare behuising is noodsaaklik vir die verbetering van lewensgehalte en versekering dat huishoudings ʼn beveiligde bate het om ʼn beter toekoms te verseker.

Die realiteit is dikwels egter anders weens die suboptimale gehalte van huise wat aan begunstigdes oorhandig word. Die gehalte van huise is dikwels so onvoldoende dat die munisipaliteit nie grondbriewe kan uitreik nie, wat beteken dat die huise nie wetlik as oordraagbare bates erken word nie.

Ten einde hierdie kwessie aan te pak, is ʼn samewerkende inisiatief tussen die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese en Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die University of Bath in die VK, die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings, die plaaslike munisipaliteit, boukontrakteurs en die Rooidakke-gemeenskap van stapel gestuur.

Die doel van die inisiatief was om ʼn aanspreeklikheidsinstervensie in die bou van gesubsidieerde staatsbehuising bekend te stel om die gehalte van die huise wat gebou word, te verbeter.

ʼn Loodsprojek is in Rooidakke, ʼn gemeenskap net buite Grabouw, begin, op grond van die hipotese dat bykomende toesighouding die gehalte van die huise kan verbeter, waardeur tevredenheid en ʼn gevoel van eienaarskap vir die begunstigdes verbeter kan word.

Die ekonomie van die situasie is ʼn moeilike taak. Weens die hoë vraag na huise is daar ʼn ernstige agterstand ten opsigte van huise wat voltooi moet word. Inflasie en onvoldoende behuisingsubsidies beteken dat laegehalte-arbeiders uit die gemeenskap gebruik word, wat min of geen vaardighede het nie. Die boumaatskappy moet dan hierdie vaardighede aan die arbeiders leer, wat gevolglik werk met beter betaling elders gaan soek. Dit beteken dat halfgeskoolde arbeiders ongeskoolde werkers moet oplei, wat tot gehalteprobleme lei en op lang termyn meebring dat meer hulpbronne benodig word om hierdie kwessies reg te stel.

Maar wie is verantwoordelik en kan enigiemand verantwoordbaar gehou word? Is dit die regering, die boumaatskappye, die arbeiders, begrotingsbeperkings of staatswaardeerders?

Studente van die Departement Siviele Ingenieurswese het die bouterreine weekliks besoek om inspeksies te doen. Die studente het dan hul bevinding aan die kontrakteurs oorgedra, sodat die kwessies reggestel kan word en terugvoering in aanmerking geneem kan word. Veldwerkers wat uit die Rooidakke-gemeenskap gewerf is, is ook opgelei om hulle te bemagtig om die gemeenskap by te staan deur terugvoering te gee.

Hierna is ʼn opname gedoen om die tevredenheid van die begunstigdes te bepaal, wat ʼn baie hoër vlak van algemene tevredenheid met hul nuwe huise aangetoon het. Die begunstigdes is ook toegerus met die nodig kennis om self terugvoering te gee wanneer kwessies opduik.

“Die samewerking deur die studente was grondliggend om al die belanghebbendes bymekaar te bring om probleme te bespreek en saam aan oplossings te werk, waardeur werkverhoudings verbeter is en gehaltekwessies hanteer kon word wanneer dit opduik, eerder as ná die tyd. Die studente het ook insig in werklike probleme in ʼn werksomgewing verkry,” sê Marisa von Fintel, dosent in die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Die volgende stappe vir die inisiatief is om die omvang van die projek te vergroot deur die ontwikkeling van ʼn app om reëletyd-inspeksies vas te lê en die bekendstelling van werkswinkels vir alle betrokke partye.

collage.png​​