Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US dankbaar vir skenking aan behoeftige studente
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/10/2018

“Ons is dankbaar vir mense wat met ruimhartige skenkings dit vir ander moontlik maak om ʼn goeie opvoeding te kry. Ons bedank hulle omdat hulle help om die lewens van studente ten goedde verander."

Met hierdie woorde het Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), op Woensdag, (10 Oktober 2018) die instelling se dank aan een van sy prominenste donateurs mnr Pat Goss betuig. Goss, wat diep spore in die sakewêreld getrap het, het onlangs 'n beduidende skenking vir beurse aan behoeftige studente van die Simonsberg Manskoshuis op die Stellenbosch-kampus gemaak. Hy is self ʼn oud-Matie en gewese inwoner van Simonsberg en daarom was dit gepas dat die bedankingfunksie by genoemde koshuis gehou is.

Benewens De Villiers, het die Goss-egpaar, enkele van hul vriende, dr Leslie van Rooi, die US se Senior Direkteur vir Sosiale Impak en Transformasie en ook inwonende hoof van Simonsberg, en prof Niel Krige, Voorsitter van die US se Ontwikkelingskantoor, die geleentheid bygewoon. Die beurshouers is ook tydens die funksie bekendgemaak. Altesaam 13 studente het beurse ontvang.Pat Goss (1).jpg

Vir Ridhwaan Allie, ʼn BA Geesteswetenskappe-student, was dit wonderlik te hoor dat hy een van die beurshouers is, terwyl Edward Buys, wat Opvoedkunde studeer, verras was om ʼn ontvanger te wees.

“Hierdie beurs beteken baie vir my omdat dit die finansiële op my ma sal verlig," het Buys gesê.

Nog ʼn gelukkige ontvanger, Simon van Eeden, wat Sportwetenskap studeer, het gesê die beurs sal hom help om sy studies betyds te voltooi.

“My ma is baie bly dat ek ʼn beurs gekry het want nou hoef sy nie bekommerd te wees oor waar die geld vir my studies vandaan gaan kom nie," het Jay Stevens, ook ʼn Sportwetenskap-student, gesê.

Mnr Goss het in sy kort toespraak gesê dit is vir hom ʼn groot plesier om tot die befondsing van die US by te dra en studente te help om hier te studeer.

  • Hooffoto: Beurshouers saam met Pat Goss, sy vrou Karin, Jannie Mouton, GT Ferreira en Prof Wim de Villiers by die funksie.
  • Foto 1: Pat Goss spreek die beurshouers en ander inwoners van Simonberg toe. Fotograaf: Marcel Kok