Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die beëindiging van staatloosheid ’n kwessie van maatskaplike geregtigheid vir die akademie
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 28/09/2018
Tien miljoen mense in die wêreld het geen nasionaliteit nie. Dít het die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) in 2014 die veldtog #ibelong vir die beëindiging van staatloosheid van stapel laat stuur.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ook onlangs hierdie kwessie aangeroer toe sy Eenheid vir Godsdiens en Reg in die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, Fakulteit Teologie, ’n konferensie aangebied het oor die rol van geloofsgebaseerde organisasies in Suider-Afrika om staatlose persone te beskerm en staatloosheid te voorkom. Die geleentheid is in samewerking met die Suider-Afrikaanse streekskantoor van die Rosa Luxemburg-stigting (RLF) sowel as die UNHCR se streeksverteenwoordigers vir Suider-Afrika gereël.

Die US se betrokkenheid het gespruit uit ’n algemene gevoel dat ’n belangrike ontbrekende stem in die debat oor staatloosheid dié van die akademie was. Aangesien staatloosheid ’n kwessie is wat uitgebreide navorsing en voorspraak verg, sal akademiese studie oor dissiplinêre grense heen heelwat bydra om beleid positief te beïnvloed. “Dit is ’n geleentheid om saam te werk om die uitdaging van staatloosheid op ons vasteland die hoof te bied,” het prof Reggie Nel, die US se Dekaan van Teologie, gesê. “Ons het innoverende oplossings nodig om na die kwesbares in ons samelewing om te sien. Geloofsgemeenskappe het ook ’n rol te speel, tesame met kollegas uit verskillende vakrigtings sowel as die burgerlike samelewing.” Die doel was om te toon dat geloofsgemeenskappe ruimtes van insluiting, beskerming en samehorigheid vir die stemloses, die verswygdes en veral die staatloses kan wees.

Volgens mnr Jörn Jan Leidecker, RLF-streeksdirekteur, moet bestaande begrippe van ruimte en burgerskap bevraagteken word, en moet ons erken dat die begrip van vreemdelingwees deel is van ons DNS en dat almal in wese wandelende vreemdelinge is. “Nuwe en innoverende denkwyses word vereis oor ’n volhoubare toekoms vir ons almal, maar veral vir die kwesbares, verswygdes en kinders,” het hy gesê. Mev Melanie Khanna, hoof van die afdeling vir staatloosheid by UNHCR in Genève, het op haar beurt gesê individue behoort oor regte te beskik wat nié op nasieskap berus nie. “Burgerskap impliseer onder andere dat jy regte het wat onder die groter gesprek van maatskaplike geregtigheid ressorteer.”

Die aangrypende persoonlike verhale van Caroline Masuki en Sara Allelulia het die agtergrond uitgemaak vir ’n oproep om aksie en vennootskap om staatloosheid as ’n kwessie van maatskaplike geregtigheid te benader. Na aanleiding van hulle eie uitdagings in dié verband het Masuki en Allelulia die behoefte vir groter bewustheid, vir die voorlegging van bewysgegronde sake aan state, en vir kerke om na te gaan dat geboortes geregistreer is wanneer hulle babas doop beklemtoon.

Prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, hoof van die Eenheid vir Godsdiens en Reg, het gesê: “Ons behoort opnuut te bevestig dat elke mens die reg het op lewe, vryheid en sekuriteit; die reg op onderwys, gelyke beskerming voor die reg, en om vry te wees van slawerny en marteling; die reg op vrye denke, gewete en godsdiens, vrye mening en uitdrukking, sowel as die reg op ’n nasionaliteit.”

group.JPG ​

Mev. Caroline Masuki, Mev Sindisiwe Moyo, LL.B., Scalabrini-sentrum van Kaapstad, me Aamina Petersen, LL.M. (Kandidaat), UWK, prof Benjam Mezmur, ACRWC en UWK, mev Olivia Mugambi-Spielmann, UNHCR Zimbabwe, prof Robert Vosloo (Sistematiese Teologie, Universiteit Stellenbosch), mev Melanie Khanna, Hoof: Staatloosheidsafdeling, UNHCR Genève, prof Reggie Nel, Dekaan: Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, prof Xolile Simon (Missiologie, Universiteit Stellenbosch), mnr Gert Bruininkx, UNHCR Pretoria, me Liesl Muller, LL.M. (Kandidaat), Prokureurs vir Menseregte, mev. Sara Allelulia, prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, Universiteit Stellenbosch