Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die pad na gebruikersvriendelike versorgingspunt-toetse vir TB
Outeur: Michelle Rotchford-Galloway
Gepubliseer: 27/09/2018

“Daar is 'n dringende noodsaaklikheid vir nuwe diagnostiese toetse vir tuberkulose (TB). Veral versorgingspunt-toetse (point-of-care tests – oftewel POCT) vir alle soorte TB, wat beide in kinders en in volwassenes sal werk," het dr Novel Chegou onlangs gesê in sy spiespunt-lesing by die Akademiese Jaardag van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US). “Ideaal gesproke sou mens 'n TB toets wou hê wat maklik gebruik kan word deur gesondheidswerkers in die voorste linie, wat geen instrumente benodig nie, wat met 'n vinger-priktoets gedoen kan word, en wat net vyf minute neem om vir jou 'n toetsresultaat te gee – en wat goedkoop is – minder as  $1."

Chegou is 'n senior navorser by die  Immunologie Navorsingsgroep in die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, en het 'n aanbieding gelewer oor sy werk met TB Biomerkers wat daarop gemik is om 'n nuwe, effektiewe TB diagnostiese toets te ontwikkel.

Hierdie is wêreldwyd 'n groot behoefte in die veld van TB en een wat Chegou en sy span gretig is om aan te spreek. “Daar was 10.4 miljoen gevalle van TB en 1.7 miljoen sterftes onder volwassenes in 2016. Slegs sewe lande, insluitend Suid-Afrika, bevat 65% van die gevalle, en TB is een van die top nege globale oorsake van sterftes. By 'n hoë-vlak byeenkoms in 2014 van die Wêreld Gesondheidsorganisasie is die ontwikkeling van nuwe toetse as 'n top prioriteit geïdentifiseer," het Chegou gesê.

“Daar is werklik 'n behoefte vir 'n vinnige en maklike diagnostiese toets," het hy bygevoeg. “Smeer mikroskopie is steeds die toets wat die mees algemeen in gebruik is wêreldwyd, maar dit het verskeie beperkings. Die kweek van 'n kultuur in 'n laboratorium bly die goudstandaard, maar dit is duur en die proses neem lank. Bloedtoetse wat toets vir teenliggaampies in die bloed word gebruik deur omtrent 'n kwart van die laboratoriums wat aan 'n onlangse wêreldwye opname deelgeneem het – hule is makliker om te doen, en is beslis vinniger, maat hulle word nie deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie aanbeveel nie."

“Soveel as 15-20% van TB is ekstra-pulmonêr en moeilik om te diagnoseer," het Chegou bygevoeg, “en speeksel-gebaseerde toetsing is besonder moeilik in kinders wat nie noodwendig speeksel kan produseer nie."

“Ideaal gesproke, in 'n opset met beperkte befondsing soos ons s'n, wil mens 'n doeltreffende versorgingspunt-toets hê by die beginpunt in die gesondheidsisteem vir mense wat aanmeld met sekere simptome, en 'n vinnige verwysing nodig het vir die goudstandaard toetse, of behandeling. Met ander woorde toetse wat gebruik kan word deur gemeenskaps-gesondheidspersoneel met minimale opleiding."

'n Strategie wat toetsing by die versorgingspunt behels, en die vinnige verwysing slegs van pasiënte wat positief toets vir verdere bevestigende toetse, soos die GeneXpert en laboratoriumtoets sal voordelig wees beide vir die pasiënte en die gesondheidsorgsisteem, aangesien dit onnodige en duur toetse sal uitskakel op alle pasiënte wat moontlik TB het. Dit sal tot kostebesparings lei vir die gesondheidsorgsisteem, en ook tot vinniger behandelingsaanvang vir pasiënte met TB en vir pasiënte met negatiewe versorgingspunt-toetse, maar wat dalk ander gepaste behandeling benodig. 

Chegou is oorspronklik opgelei in Kameroen en het sy nagraadse studies in tuberkulose-immunologie in die VSA voltooi. Hy werk tans aan biomerkers vir TB diagnose, biomerkers vir beskermende immuniteit teen TB vir inentingsontwikkeling en biomerkers vir die monitering van TB behandeling. Hy stel egter besonder belang in die ontwikkeling van eenvoudige, maklik bruikbare  versorgingspunt diagnostiese toetse vir die vinnige diagnose van TB en die monitering van die behandelingreaksie. Hy word gelys as 'n uitvinder op sewe patentereg-aansoeke op diagnostiese biomerkers vir TB.

Die groep se sewe-merker serum-biomerker is aangepas tot 'n vingerprik-gebaseerde diagnostiese toets en word nou getoets vir doeltreffendheid en akkuraatheid in 'n studie genaamd ScreenTB, waaraan 700 – 800 mense deelneem – almal mense wat vermoedelik aktiewe TB het, en wat in vyf verskillende Afrika-lande woon. Die studie het in 2016 'n aanvang geneem en resultate word teen 2019 verwag.

Die werk word gedoen as deel van die “ScreenTB Consortium" (www.screen-tb.eu), wat 'n voortsetting is van 'n vorige konsortium wat “African European TB Consortium" genoem is en wat befondsing van die European and Developing Countries Clinical Trial Partnership (EDCTP) ontvang het. Die groep ontwikkel ook 'n soortgelyke toets vir die diagnose van TB-meningitis, in samewerking met die ingenieursfakulteit by die Universiteit Stellenbosch.

“Die eerste toetse lyk belowend, maar ons moet steeds dinge verbeter en vereenvoudig," sê Chegou. “Toekomstige werk sou veelvoudige sentrum proewe behels om die doeltreffendheid te evalueer en ook om dit met ander toetse te vergelyk, en daar moet ook gekyk word na die moontlike gebruik van hierdie toets op kinders."

Foto geneem deur Damien Schumann